HRCO Potgooi Preke

10 Kentekens van iemand wat se denke vernuwe is in Christus

January 15, 2019
HRCO Potgooi Preke
10 Kentekens van iemand wat se denke vernuwe is in Christus
Chapters
HRCO Potgooi Preke
10 Kentekens van iemand wat se denke vernuwe is in Christus
Jan 15, 2019
Harvester Reformerende Kerk Olifantsriviervallei
Soos ons denke en harte vernuwe word deur die Woord en die Gees, begin ons nie net anders dink nie, maar ons eerste instinktiewe reaksies verander ook (Rom 12:2). Iemand wie se gedagtes vernuwe is in Christus het geheel en al ’n ander eerstereaksierefleks.
Show Notes

Tien kentekens van iemand wie se denke vernuwe is in Christus

Soos ons denke en harte vernuwe word deur die Woord en die Gees, begin ons nie net anders dink nie, maar ons eerste instinktiewe reaksies verander ook (Rom 12:2). Iemand wie se gedagtes vernuwe is in Christus het geheel en al ’n ander eerstereaksierefleks. 

Het dit al met jou gebeur dat jy aan iemand wat jy goed ken ’n Whatsapp stuur, maar hulle reageer nie? Jy begin daaroor tob . . .  Kort voor lank dink jy allerhande booshede en oorweeg dit om nooit weer met die persoon te praat nie. Dan, ’n paar dae later: “Jammer, ons was buite selfoonbereik. Nou eers jou boodskap gesien. Ons is baie lief vir jou!” Jy voel geheel en al uitgevang oor jou negatiewe reaksie. Wat ons voel, is nie altyd korrek nie. ’n Vlieënier kan ruimtelik gedisoriënteerd raak en voel hy vlieg onderstebo. Dan moet hy sy instrumente vertrou, anders vlieg hy in die grond vas. Ons projekteer ook dikwels “hoe ons dit sou doen, hoekom doen hy/sy nie ook so nie” op ander.  Hierdie projeksies laat ons glo dat ons weet wat ander mense dink en wat hulle motiewe is. Die feit is egter: Ons ken meestal nie eens ons eie motiewe nie, wat nog te sê ander mense s’n.  

Die kentekens van vernuwende denke beteken dat die Heilige Gees die Woord se teenmiddels in ons wese ingespuit het wat ons immuniteit opgebou het sodat ons nie van elke kiem-gedagte siek word nie.  

Ons denkpatrone is getransformeer en ons dink nie meer soos hierbo beskryf word nie. Die Here is konstant besig om ons denkprosesse te vernuwe. Hier is 10 kentekens waaraan jy jouself kan meet om te sien hoe die Here alreeds jou gedagtes vernuwe het.  

1) Jy bly vertrou, al hoor jy slegte nuus. Jy sien die glas is vol. Jy verwag die beste. “Dit gaan alles op die einde uitwerk” is gewoonlik jou eerste reaksie. Nie op ’n ligsinnige, of kop-in-die-grond, of die-waarheid-misken manier nie. Dis ’n stille vertroue in die Here dat Hy alles ten goede sal laat meewerk (Rom 8:28). Jy het dit al soveel keer gesien dat daar ’n vaste wete in jou gemoed is. Daar is ’n positief in elke negatief (Ps 66:12). Iemand met vernuwende denke sien dit net gouer raak.  
2) Die onmoontlike lyk redelik. Iemand wat die Here volg se denke, geloof en verwagting is gevorm om ’n deur te sien waar daar nie een is nie, ’n moontlikheid terwyl alles onmoontlik lyk. Ons geestesoog is verhelder en geoefen in die realiteit van Sy krag (Ef 1:17-21). Ons weet dis vir óns onmoontlik, maar vir die Here is niks onmoontlik nie (Luk 1:37; Mark 10:27). 
3) Selfs jou bespiegelinge is positief. Wanneer jy nie weet waar jou maat is en hoekom hy of sy laat is nie, sien jy Jesus in hulle. Die vermoë om Jesus in mekaar te vertrou, is ’n wonderlike manier van oorgawe en geloofsvertroue. Ons manipuleer nie meer situasies nie. Ons weet ons kan nie harte verander nie. Ons vertrou die Heilige Gees wat oortuig en bekering bewerkstellig (2 Kor 7:9). Ons skep nie meer in ons verbeelding bekommernisse oor die slegste wat gaan gebeur nie – ons sien oplossings, deurbrake en voorsiening, selfs in die geringe.  
4) Jy leef vanuit sy rus. Jy het niks nodig nie. Jy is vergenoegd en tevrede met wat jy het. Selfs te midde van die onstuimige storms waarin ons soms verkeer, is ons kalm en rustig. Terwyl Paulus se skip sink, is hy rustig in sy geloof, en vanuit hierdie rus gee hy kalmte aan ander (Hand 27:39-44). Jy het vergenoegdheid geleer in die tye van oorvloed en tekort. Daarom beleef jy ’n vastigheid in jou emosies, des ondanks die op-en-af van omstandighede. Hierdie rus is nie ontkenning van omstandighede nie, maar jy ken die Here en vertrou Sy karakter.  
5) Jy vergewe maklik en erken gou jou foute. Iemand wat in volwassenheid in Christus groei, neem nie meer vinnig aanstoot nie. Hulle is nie liggeraak nie en verwag die beste van mense. Selfs al maak medegelowiges hulle seer, hulle sien nog steeds Christus in mek