
Kosreis
Kosreis
Rooibostee of soos Ouma sou sê "Bossiestee"
My Ouma Toy het 90 jaar oud geword en haar gunsteling warmdrankie was rooibostee of soos sy sou sê “bossiestee”. Luister saam in hierdie episode hoe ek en my gesin met ons padreis per ongeluk in Clanwilliam beland het en toe eers uitgevind het dat dit die Rooibostee hoofstad van die wêreld is! In hierdie episode vertel ek meer oor die area waar rooibostee groei, die oes en produksie proses van rooibos, groen rooibostee, wat is flavonoïede en watter voordele hou dit vir ons liggame in, die gesondheidsvoordele van rooibostee, hoe lank om die optimale koppie rooibos te laat trek en ek deel ‘n resep wat my Ouma gemaak het met perskes en rooibostee.
Studies en inligting waarna verwys word in podsending:
- Rooibos Council webtuiste https://sarooibos.co.za
- Carmien tea webtuiste https://carmientea.co.za/product-of-origin/ https://carmientea.co.za/rooibos/rooibos-crop-to-cup/
- The Potential of South African Herbal Tisanes, Rooibos and Honeybush in the Management of Type 2 Diabetes Mellitus https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC6321617/
- Flavonoids: an overview https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC5465813/
- Rooibos herbal tea: An optimal cup and its consumers https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/31934411/
- Aspalathus linearis (Rooibos) - a functional food targeting cardiovascular disease https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/30183052/
- Food for Mzanzi nuusberig: Rooibos: It’s harvest time, and we have a front-row seat https://www.foodformzansi.co.za/rooibos-harvest-clanwilliam/
Die episode se transkripsie is beskikbaar en kan gelees word op www.buzzsprout.com/2009776 Kies die episode en druk dan op die “Transcript tab”.
Vind my op Instagram by @joudigitaledieetkundige
Instagram
@joudigitaledieetkundige
@francettedietitian
Webtuiste
www.francettedietitian.com
E-pos
chatwith@francettedietitian.com
Kom saam met my Francette Bekker, Jou Digitale Dieetkundige, op ‘n "Kosreis" en luister na interessante feite en lekker stories oor kos. Kyk na die kos op jou bord met 'n nuwe perspektief en waardeer saam met my wat moeder aarde, die natuur en ons pragtige land Suid-Afrika ons bied vir spys en drank en goeie gesondheid.
Hallo en welkom. Dankie dat jy ingeskakel het om saam te luister na Kosreis. As jy my loodsepisode gemis, het gaan luister gerus na wie ek is en oor die 4000km padreis wat hierdie podsending se inspirasie was.
In hierdie episode gaan ek gesels oor rooibostee of soos my Ouma Toy sou gesê het “bossiestee”.
Ek, my man en twee jarige seuntjie het aan die einde van 2021 heerlik vakansie gehou in St Helenabaai, en die oggend van ons vertrek terug huiswaarts Pretoria se kant toe, het ons Google Maps opgestel vir ons bestemming in die Karoo vir oujaarsaand. Ons wou daardie dag met alle mag ‘n lang grondpad mis ry, waarop ons beland het toe ons Weskus se kant toe is. Ons sien toe ons moet net op die N7 kom en mik vir ‘n plek met die naam Clanwilliam. Ek leer eers later by my swaer dat die mense van die Kaap sommer praat van Kleinwilliam. Nie te min
Soos ons ry die oggend lees ek die bordjies langs die pad en sien dat ons op die Rooibosroete is en soos ons oor die berg kom van Lambertsbaai en Graafwater se kant af lê daar toe die mooiste dorp voor ons. Clanwilliam was vir my so prentjie mooi ek kon net sowel op daardie stadium in Europa gewees het toe ek die pragtige dorp sien langs al die water met die groot damwal. En soos ons in die dorp inry sien ons tot ons verbasing dat ons nou in die Rooibos Capital inry en die eerste padstal waar ons toe inval het toe sommer ‘n Rooibos teetuin en daar in die Veldskoen padstal het my mond oopgehang oor die seker honderd of meer soorte rooibostee wat daar verkoop word. Dis so bietjie anders as om te koop in Spar of Pick n Pay. Ek het in my lewe nog nooit soveel soorte rooibostee gesien nie.
So ja, indien jy soos ek nie geweet het nie, Clanwilliam is die tuiste van rooibostee en ook die rooibostee hoofstad van die wêreld. Die Cederberg area rondom Clanwilliam is die enigste plek in die wêreld waar rooibos vrylik groei. Rooibos groei hier in die berge en dale sowat 450-900m bo seevlak. Die plant skiet wortels van so 2m diep in die grond en die bywortelstelsel verprei rondom die plant net-net onder die grond reg om elke druppel rëen en dou druppeltjie op te vang. Die take het dun helder groen blaartjies en in die somer maande van November tot Februarie dra die bos pragtige geel blommetjies. Wanneer die plant omtrent twee jaar oud is word dit geoes. Die takke word afgesny sodat die stukke ewe lank is en die bossies met die takke word dan in bondels opgebind. Gedurende produksie sny masjiene die blare sodat dit als dieselfde lengte is. Op hierdie stadium is die blare van die rooibos plant nog groen en nie rooi nie. Die tee word dan gedurende produksie nat gesprinkel met water en dan gedruk deur metaalrollers wat die sap uit die blaartjies druk en dit laat dan die okidasie en fermentasie proses begin. As dit klaar gefermenteer is, is die stukkies blare die kenmerkende rooi-bruin kleur en dit het die soetgeur wat ons ken. Die tee word dan uitgesprei in die son om droog te word. En voor die droë tee dan verpak word, word dit eers gesif en gepasteuriseer om te verseker dat die tee steriel en veilig is om te drink.
Al gehoor van groen rooibostee? Groen rooibostee is nie geoksideer en gefermenteer nie. En die soort tee bevat baie meer antioksidante as rooi rooibostee. Hierdie tee is veral gewild in Japan waar dit geneem word as ‘n drankie vir ‘n jeugdige voorkoms en om veroudering teen te werk.
My Ouma Toy het vasgeglo dat “bossiestee” die beste en gesondste warmdrankie is. Daar was altyd ‘n pot rooibos reg om te skink, en dis nie sommer net uit ‘n beker gedrink soos ek dit vandag sal doen nie. “Bossiestee” is uit ‘n koppie gedrink met ‘n piering en soms met ‘n koekie of pikante eet dingetjie in daardie piering. Die reuk van rooibostee vat my sommer terug na sorgvrye middae in Ouma se sonnige sitkamer daar in Bloemfontein waar ons sallig ons tee geniet sonder om teveel te praat.
My Ouma Toy het 90 jaar oud geword en as ek so lees van die eienskappe van rooibostee dan begin ek al hoe meer wonder hoeveel die wonderlike “bossiestee” dalk bygedra het.
Het jy geweet dat die optimale koppie rooibos omtrent 10 minute lank moet trek? Dis in ‘n studie bewys waar die navorsers wou uitvind hoe om die beste koppie rooibos te maak, want sien rooibostee proe net lekker nie maar dit is propvol fitonutriente of meer spesifiek flavonoïede. So hoe langer die Rooibostee trek hoe meer van hierdie flavonoïede is dan in die tee.
Flavonoïede is biochemiese komponente van plante en dit verskaf aan blomme en vrugte hulle aroma, smaak en kleur. Dit help plante om te groei en te ontwikkel, dit beskerm ook die plant teen siektes, en mikro-organismes en ultraviolet strale van die son, droogte en ryp. Daar is tans sowat 6000 soorte flavonoïede geidentifiseer wat in die kleurpigment van vrugte, groente en kruie voorkom. En dis hierdie tipe biochemiese komponente van plante wat vir ons antioksidante en gesondheids voordele verskaf. En hoe wonderlik is dit nie, dat ons liggame ook kan beskerm word teen siektes en beskadiging deur dieselfde biochemiese komponente wat die plante beskerm. Rooibostee bevat ‘n langlys van flavonoïede, maar Aspalathin is een van die twee flavonoïede wat uniek is aan rooibostee en dis nog in geen ander plant geidentifiseer nie.
Rooibostee se antioksidante en anti-inflammatoriese effekte is al baie nagevors en studies het gevind dat die tee ons liggame beskerm teen die skade wat vrye radikale aanrig. Dit beteken dat rooibos moontlik kan beskerm teen siekte toestande soos kanker, diabetes en hartsiektes. Meer navorsing is nog nodig, maar in Japan word rooibostee reeds die “lang-lewe” tee genoem omdat die antioksidante kan beskerm teen veroudering. Rooibostee het ook ‘n wonderlike kalmeerende effek en dit kan help vir ontspanning en angstigheid. Rooibostee is ook vry van enige stimulante soos kaffeïene, dit bevat nie kunsmatige kleurmiddels of geurmiddels nie en is veilig om te gee vir kinders so vanaf die ouderdom van sesmaande wanneer hulle van melk gespeen word, dis ook veilig vir swangervrouens, vrouens wat borsvoed en vir die ouer geslag. Rooibos het ook ‘n anti-allergiese effek en kan ekseem help verlig. Rooibossakkies kan sommer in badwater gegooi word om te help met ‘n vel wat geïrriteerd voel. Rooibos word deesdae gevind in ‘n wye reeks velprodukte, ook in produkte vir diere waar dit veral bemark word vir diere met allergieë en velirritasies. Ek sien daar is sportaanvullings met rooibos, en kollageen drankies met rooibos,en gegeurde rooibostee…die lys gaan aan.
Is jy dalk soos ek baie lief vir ‘n rooi cappucino? Het jy geweet dat Red Espresso in 2006 die eerste soort tee espresso in die wereld was? En nou is dit sommer vrylik beskikbaar, ons kan selfs ons eie rooi espresso en cappucinos by die huis maak.
My Ouma Toy het ‘n heerlike nagereg wat sy gemaak het met gedroogte perskes en rooibostee en ek deel graag die resep met jou. Ek het dit juis onlangs weer gemaak. Dis rerig ‘n eenvoudige resep, maar daar is niks eenvoudig aan die smaak nie – dit is heerlik. So begin deur ‘n sterk koppie rooibostee te maak, sonder melk of suiker. Ek het sommer twee sakkies gebruik en dit ‘n tydjie gegee om te trek, onthou 10 minute lank is goed. Gooi die tee dan in ‘n mediumgrootte bak saam met so twee handevol gedroogte perske halwes. Los dit oornag dat die perskes die rooibostee optrek en môre het jy en jou gesin ‘n lieflike nagereg wat niks meer as net vrugte en rooibostee is nie. Dis ook lekker saam jogurt vir ‘n ontbyt.
Voel jy geïnspireerd om meer gereeld rooibostee te drink. Ek doen beslis.
Dankie dat jy saam geluister het na my, Francette Bekker, Jou Digitale Dieetkundige. As jy hierdie episode van “Kosreis” geniet het en interessant gevind het deel dit gerus met jou vriende en familie. Druk ook op die subscribe knoppie sodat jy eerste weet wanneer die volgende episode beskikbaar is. Gretig om meer te weet van spys en drank vir goeie gesondheid? Dan kan jy my vind op Instagram by @joudigitaledieetkundige.
Tot volgende keer.
Hierdie podsending is alleenlik vir inligtingsdoeleindes en dien nie om enige mediese advies, diagnose, behandeling of ‘n konsultasie met ‘n gesondheidswerker te vervang nie. Raadpleeg jou dokter of ‘n ander gesondheidswerker as jy enige vrae het oor jou gesondheid of mediese toestand. Hierdie inligting berus alleenlik op die aanbieder se persoonlike ervaring en navorsing. Dit vertoonwoordig nie enige ander menings of navorsing, of dié van enige instansie, nie.