
Kosreis
Kosreis
Kefirmelk en kefirwater, wat op aarde is dit?
Het jy al gehoor van Kefirmelk en kefirwater? In hierdie episode reis ons bietjie buite die grense van Suid-Afrika om meer te leer van die oorsprong van die sprankelende borreldrankie - kefir. Ek gesels ook oor die gesondheidsvoordele van kefir en vertel hoe dit gebruik kan word as deel van jou dieet.
Studies en navorsing waarna verwys word in die episode:
- Die storie van kefir se oorsprong - The Fascinating Origins of Milk Kefir Grains
- Milk kefir: nutritional, microbiological and health benefits
- Kefir and Its Biological Activities
- The Effect of Kefir Supplementation on Improving Human Endurance Exercise Performance and Antifatigue
- A comparison of milk kefir and water kefir: Physical, chemical, microbiological and functional properties Highlights
Die episode se transkripsie is beskikbaar en kan gelees word op www.buzzprout.com/2009776 Kies die episode en druk dan op die "Transcript tab".
Instagram
@joudigitaledieetkundige
@francettedietitian
Webtuiste
www.francettedietitian.com
E-pos
chatwith@francettedietitian.com
Kom saam met my Francette Bekker, Jou Digitale Dieetkundige, op ‘n "Kosreis" en luister na interessante feite en lekker stories oor kos. Kyk na die kos op jou bord met 'n nuwe perspektief en waardeer saam met my wat moeder aarde, die natuur en ons pragtige land Suid-Afrika ons bied vir spys en drank en goeie gesondheid.
Hallo en welkom. Dankie dat jy ingeskakel het om saam te luister na Kosreis. Ek het in die vorige episodes lekker stories en feitie gedeel oor Rooibostee en oor eiers. Ek hoop jy drink nog lekker aan jou bossiestee en geniet nou meer gereeld ‘n eiertjie! In hierdie episode gaan ek gesels oor kefir en ons gaan so bietjie reis buite die grense van Suid-Afrika vir hierdie een. Het jy al gehoor van Kefir? Of wonder jy nou wat op aarde is kefir?
Kefir is ‘n probiotika drankie soos drinkjogurt en dit het ‘n langlys gesondheidsvoordele. Een van hierdie voordele is dat dit wonderlik is vir jou die gesondheid van jou spysverteringskanaal. Jy het seker al gehoor van gut health? Nou kefir is goed vir gut health.
Ons spysverteringskanaal is baie kompleks. Dis nie net ‘n voedselverwerker wat kos verteer en absorbeer nie. Dit speel ‘n belangrike rol in ons immuniteit en navorsing het bepaal dat die gesondheid van jou spysverteringskanaal kan verband hou met sekere siekte toestande. Die spysverteringskanaal huisves ‘n amper ontelbare hoeveelheid mikro-organismes. Ons dieet en leefstyl bepaal of daar goeie of slegte mikro-organismes groei in ons derms. En natuurlik soek ons die goeie soort - hulle word genoem probiotika. Probiotika kan gesupplementeer word met ‘n aanvulling, maar die eerste prys is altyd om dit vanaf kos in te neem. ‘n Dieet ryk in prebiotika help dan vêrder om voeding te verskaf aan hierdie goeie probiotika dat hulle kan bly leef. Ek sal nog meer vertel oor prebiotika in ‘n latere episode.
Probiotika word gevind in sekere kosse wat gefermenteer is. Byvoorbeeld jogurt, maas en karringmelk. Daar is ook probiotika in suurkool. Dis nou Sauerkraut en ook in Kimchi. Kimchi is soos suurkool is maar dis ‘n Koreaanse dis en dit bevat ‘n paar ander groentes en ook ‘n paar speserye. Al gehoor van kombucha tee? Dis ‘n probiotika drankie en ander gefermenteerde kosse met probiotika wat dalk meer onbekend is, is, miso, dis ‘n soyaboon pasta van Japan. En dan Tempeh, is ‘n voedselsoort is van Indonesië en dis gefermenteerde soyabone. En dan is daar ook kefir. Die kefirdrankie word gemaak met ‘n kultuur van bakterieë en gis.
Die storie van kefir is baie interessant. Dit kom vanaf Oos-Eupora waar dit lank die geheim tot langlewe en goeie gesondheid was van die mense wat in die Noordelike Kaukasiese bergreeks gebly het. Dis die area tussen die Swartsee en die Kaspiesesee. Die storie lei dat kefir al ‘n paar duisend jaar gelede ontdek is toe melk wat in velsakke rondgedra is begin borrelrig en skuimerig word het. Daar is gevind dat daar mettertyd in hierdie velsakke dan ook wit jellerige korrels ontwikkel het wat amper gelyk het soos blomkool. En as daar vars melk bygegooi is by die korrrels dan het die korrel gegroei en meer geword en die melk is gefermenteer. En op die ou end het die gefermenteerde melk langer gehou sonder om so vinnig suur te word en af te gaan. Dit was ‘n wonderlike manier om melk te preserveer. So vanaf die Kaukasiese bergreeks het kefir versprei na Rusland in ‘n storie van vir my klink soos iets uit ‘n speurverhaal of James Bond fliek. Ek sit ‘n skakel in my episode notas as jy wil lees oor die pragtige Russiese vrou wat op die ou end dit reggekry het dat die prins vir haar kefir korrels gegee het. Van Rusland het kefir versprei na die res van Europa, die VSA en toe die res van die wereld.
Kefir is soos ‘n tipe drinkjogurt, maar met baie meer probiotika. Jy kan maar sê dis meer “potent”. Dis romerig en die smaak is effens suur. Die suur laat my dink aan die suur van ‘n suurlemoen eerder as die suur van suurmelk. Daar is al na kefir verwys as die Sjampanje van jogurt as gevolg van die effense suurgeur en die borreltjies wat op jou tong rond dans en oorspronklike kefir bevat klein bietjie alkohol. Maar moenie bekommer nie, die kefir wat in winkels verkoop word is gemaak met ‘n kultuur vry van gis en is dus alkoholvry.
Is jy al nuuskierig om kefir te probeer? Die smaak was vir my die eerste keer nogals vreemd en ek het besluit om net daagliks ‘n lepel vol te neem soos medisyne eerder as om dit te drink. Hey maar fast forward so bietjie en nou is dit een van my gunsteling drankies. My seuntjie het ook geleer om dit te drink en hy noem dit opgewonde “my melkie” as hy dit in die yskas sien. Daar is al heelwat soorte kefir op die mark en jy kan gerus gaan loer in jou gesondheidswinkels en in die inkopiewinkels. Party soorte proe vir my maar net soos drinkjogurt, sonder die effense suur smaak.
Nou is jy dalk laktose intolerant? Wel dan het ek vir jou goeie nuus. Die probiotika in die kefir gebruik die laktose in die melk as voeding om te oorleef so teen die tyd dat ons kefir van die rak afhaal by die winkel dan is dit amper laktosevry!
Is jy dalk op ‘n vegetariese dieet sonder melk of allergies vir melk of nie erg oor melk nie? Dan kan jy steeds die voordele van kefir geniet in die vorm van water kefir. Dis ‘n sprankelende borreldrankie wat na verwys word as suikerkefir, vrugtekefir of Tibicos of in kort net Tibi. Water kefir se oorsprong is van Mexiko waar die sagte, jelkorresl op ‘n soort kaktus plant ontdek is. Wanneer hierdie korreltjies in suiker of vrugte water gegooi word dan begin die fermentasie proses. Die eindresultaat is ‘n ligte smaak soos effense flou aanmaakkoeldrank en dan saam met dit het dit ook die gasborreltjies en ‘n effense suur smaak as gevolg van die fermentasie proses.
As jy wil kan jy selfs jou eie melkkefir of waterkefir maak by die huis. Kry net vir jou ‘n “kefir making kit” en dit het dan kefir korrel kultuur in wat jy nodig het om die proses te begin.
Nou wat is die gesondheids voordele van kefir?
Die eerste een is dat dit natuurlik wonderlik is vir die gesondheid van die spysverteringskanaal omdat dit ‘n langlys goeie probiotika bevat en dit kan help om die balans reg te hou. Kefir bied ook voordele om te beskerm teen hoë bloeddruk, en daar is gevind in studies dat wanneer diabete die produk geneem het, het hulle beter bloedsuiker kontrol gehad. En dit lys gaan aan. Kefir het anti-inflammatoriese en antioksidant eienskappe, dit kan help om cholesterol te verlaag en die risiko vir kanker te verminder. Daar is ook navorsing wat dui op beter uitvermoë in atlete wat kefir neem vir sport en dit lyk asof spiere vinniger kan herstel na oefening. En daar is daar ook voordele vir ‘n gesonder vel wanneer die drankie gedink word, maar kefir kan ook direk aan die vel gesit word en daar word ge-eksperimenteer met kefirjels vir wondgenesing en vir brandwonde. Daar is ‘n legende dat Cleopatra in melk gebad het vir ‘n pragtige vel. Daar word ook bespiegel of dit bokmelk, donkiemelk, suurmelk or dalk selfs kefir melk was. Ons kan maar net wonder of dit waar is of nie!
So hoe kan jy kefir neem en deel van jou dieet maak as jy dit wil uitprobeer?
- Water kefir en melk kefir kan net so gedrink word. En daai is heelwat soorte reeds beskikbaar in winkels. Ek sal bietjie meer hieroor deel op my Instagramblad @joudigitaledieetkundige.
- Soos gegeurde jogurt kry ons ook gegeurde kefir wat proe soos heerlike drink jogurts en dit kan net so geneem kan word. Daar is geure soos vanilla, aarbei, grenadella en ook toffie!
- Kefir kan gebruik word in ‘n vrugteskommel.
- Of maak gevriese jogurt. So gooi bietjie heuning by ‘n vrugteskommel en vries dit in klein hourtjies.
- Eet dit saam vrugte en bietjie heuning as jy voel dis dalk nie soet genoeg vir jou smaak nie
- Mens kan ook oornag hawermout maak met kefir ipv met melk of jogurt
- Of maak ‘n doopsous
- Of slaai sous: Vervang ‘n deel mayonnaise met kefir vir aartappelslaai, pastaslaai, brokkolislaai of koolslaai of los die mayonnaise sommer heeltemal uit. Ek maak ‘n heerlike slaaisous met ‘n klein hourtjie ongegeurde kefir, 2E asyn, sout en peper. Ek stel voor gebruik appelasyn of wit balsamiese asyn vir ‘n lekker geur. Party resepte voeg dan nog bietjie heuning ook by, maar die soort kefir wat ek koop proe alreeds effens soet en dis nie nodig vir heuning ook nie.
- Ander opsies is om kefir in kos te gebruik in die plek van room of suurroom
- Jy kan vleis of hoender marineer in kefir
- Voeg dit by sop vir ‘n romerige tekstuur
- Of gebruik dit in gebak in die plek van melk,jogurt, suurroom of karringmelk
Let net daarop dat jy die goeie bakterieë gaan verloor in die bakproses as gevolg van die hitte. Om die gesondheidsvoordele van kefir te geniet is dit die beste om te neem sonder dat dit verhit is.
So is jy reg om kefir te probeer? Laat weet my as jy probeer het!
Dankie dat jy saam geluister het na my, Francette Bekker, Jou Digitale Dieetkundige. As jy hierdie episode van “Kosreis” geniet het en interessant gevind het deel dit gerus met jou vriende en familie. Volg die podsending deur te druk op die plus knoppie in Apple podcasts of die "follow" knoppie op ander platforms. Jy sal dan eerste weet wanneer die volgende episode beskikbaar is. Gretig om meer te weet van spys en drank vir goeie gesondheid? Dan kan jy my vind op Instagram by @joudigitaledieetkundige.
Tot volgende keer.