Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Stories uit Kanaän 73: Koning Salomo se laaste jare
Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.
In 1 Konings 9 en 11, asook 2 Kronieke 7 en 9 lees ons hoe Salomo se vrouens hom verlei het om afgode te begin aanbid.
Stories uit Kanaän 73: Koning Salomo se laaste jare (1 Kon 9, 11 en 2 Kron 7, 9)
Tobias: (sing) La, la, la, la, la, la, la, la, la, la, la, la, la.
Tannie: Hallo, Tobias. Hallo, maats. Hoekom dink julle sal Tobias vandag die troumars sing?
Tobias: (lag) Hallo, julle almal! Tannie, ek is lus vir ‘n troue! Tannie het ons nog nie van Salomo se troue vertel nie! Wat van daai storie vir vandag?
Tannie: Tobias, dit gaan bietjie moeilik wees.
Tobias: Hoekom, Tannie? Is sy troue se storie nie in die Bybel geskryf nie?
Tannie: Tobias, die probleem is, dat hy baie vrouens gehad het. So, oor watter troue moet ons nou vertel? Julle, miskien moet julle bietjie raai hoeveel vrouens het Salomo gehad.
Tobias: Tannie Carin ek raai, so drie, of nee, ek raai vier.
Tannie: Verkeerd! Ek wonder of die maats kan raai?
Tobias: Was dit baie? Dalk so tien vrouens?
Tannie: Laat ek julle maar vertel, want julle sal nie kan reg raai nie. Hy het sewehonderd vrouens gehad. Dan het hy ook nog driehonderd byvrouens gehad – dis vrouens wat bietjie minder belangrik as die ander vrouens was. Daar was ‘n prinses uit Egipte. En ook koninklikes uit die Moabiete, Ammoniete, Edomiete, Sidoniërs en Hetiete.
Tobias: Nee! Nou jok Tannie seker! Of maak ‘n grappie? Wat het God daarvan gesê?
Tannie: Julle, God het drie keer aan Salomo verskyn. Ons het vertel van die eerste keer toe God hom gevra het wat hy wil hê. Toe vra hy mos wysheid. Die tweede keer was net nadat Salomo die tempel klaar gebou het. Toe het God vir hom gesê dat Hy die tempel sal heilig. Die Israeliete moes van nou af daar aanbid. God het daardie dag vir Salomo gevra dat hy en Israel altyd vir Hom moet aanbid en gehoorsaam. As hulle dit nie doen nie, gaan hulle weggevoer word uit hulle land. En die mooie tempel gaan afgebreek word.
Tobias: Het Salomo die Here bly dien? Hy was mos darem die wysste man op aarde?
Tannie: Tobias, dis nou ‘n hartseer storie. God het al in die begin toe die Israeliete in Kanaän aangekom het, gesê dat hulle nie met daai volke mag trou nie, want hulle sal dan van God vergeet.
Tobias: En toe trou Salomo sowaar met hulle? En het hy God vergeet?
Tannie: Tobias, die klompe vrouens van Salomo het hom verlei om hulle afgode: Astarte, Milkom, Kemos en Molek te begin aanbid. Eers het hy net altare en hoogtes vir sy vrouens se gode gebou. Toe het Salomo al minder en minder na die tempel toe gegaan om aan God te offer. Hy het begin om offers vir die afgode te bring.
Tobias: Ag, maar dis te verskriklik, Tannie! Het God toe ‘n derde keer aan Salomo verskyn?
Tannie: Ja, God het nou kwaad geraak vir Salomo. Hy het aan hom verskyn en gesê: “Salomo, hoekom wil jy dan nou nie luister nie. As straf gaan ek ‘n stuk van die koningskap van jou afskeur.”
Tobias: Huh! Nee! Hoe het dit gebeur?
Tannie: Julle, God het drie mense gestuur wat in opstand gekom het teen Salomo. Die eerste een was Hadad van Edom – een van Esau se nasate. Hy het nog daai tyd vir Joab gevlug en in Egipte gaan bly. Maar na Dawid en Joab se dood het hy teruggekom na Israel toe.
Tobias: Dit klink gevaarlik! En die tweede mens, Tannie?
Tannie: Dit was Reson, die koning van Aram. Hy het net niks van Israel gehou nie. Hy en Hadad het baie moeilikheid vir Salomo gebring. En dan was daar Jerobeam. Hy was iemand wat vir Salomo gewerk het, maar toe kom hy in opstand teen hom. Eendag het ‘n profeet, Agija, vir Jerobeam op pad buite Jerusalem gekry. Die profeet het ‘n splinternuwe mantel aangehad. Toe Agija vir Jerobeam sien, vat hy sy mantel en skeur dit in twaalf stukke. Hy sê toe vir Jerobeam: “Vat vir jou tien stukke, want die Here sê dat Salomo hom nou verlaat het en afgode begin aanbid het. Daarom gaan die Here die koningskap van Salomo af wegskeur. Dit sal nie in sy leeftyd al gebeur nie. God gaan ook nie al die stamme van hom af wegvat nie, want God dink aan Dawid. Maar na Salomo se dood, gaan jy koning word oor tien stamme van Israel.” Die profeet het ook vir Jerobeam gevra hy moet tog by die Here bly; dan sal die Here by hom wees en vir hom sorg.
Tobias: Haai! En het Salomo gehoor wat die profeet vir Jerobeam gesê het?
Tannie: Ja, hy het. Toe wou hy hom laat doodmaak, maar Jerobeam het na Egipte toe gevlug.
Tobias: Sjoe! Gaan Tannie ons die storie oor die skeuring van die koninkryk vertel?
Tannie: Tobias, dis ‘n storie vir ‘n ander dag. Salomo het nog koning gebly tot die dag van sy dood. Hy was veertig jaar lank koning van Israel.
Tobias: Dis lekker lank! Maar dit is ‘n groot jammerte dat die wyse koning sowaar eenduisend vrouens gevat het. En hulle afgode begin dien het. Hoe jammer!
Tannie: Hoe jammer, ja! Tobias, met hierdie storie maak ons dan klaar met Salomo. Laat ons doen wat hy neergeskryf het in sy jare wat hy God gedien het. Ons het mos daardie wonderlike spreuke in die Bybel. Maats, hiermee groet ons dan tot volgende keer. Totsiens, almal!
***