Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 89: Elisa en wonderwerke van kos en 'n byl

Carin Conradie Season 5 Episode 89

God het besondere wonderwerke gedoen deur sy profete.  In hierdie storie vertel ons sommer drie.  Dis geskryf in 2 Konings 4 en 6.

Send us a text

Support the show

Stories uit Kanaän 89: Elisa en wonderwerke van kos en ‘n byl   (2 Konings 4 en 6)

 

(Woef, woef, woef.  Tobias lag)

Tannie:          Hallo, Tobias!  Wat lag jy so lekker?

Tobias:        Hallo, julle!  My hondjie lek my tone en dan is dit so lekkerkry kielierig!

Tannie:          Tobias, is jy lief vir jou hondjie?

Tobias:        Ja, tannie Carin!  Hy laat my altyd so lekkerkry lag!  Tannie, kan ons vandag dalk ‘n lekkerkry storie hoor  uit die Bybel?

Tannie:          ‘n Lekkerkry storie?  Mmm, ja!  Ek het een!  Maats, Tobias, God het baie wonderwerke deur die profeet Elisa gedoen.  Vandag het ons tyd om sommer van drie wonderwerke te vertel.   Die eerste een het gebeur in ‘n tyd van  hongersnood.  Kos was maar skaars, maar die die klomp jong profete wat by Elisa geleer het, moes eet.  Op ‘n dag het Elisa vir sy slaaf gevra om vir hulle ‘n groot pot bredie te kook.  Een van die profete dink toe die bredie het darem ‘n bietjie kruie nodig.  Hy loop toe veld toe om kruie te gaan soek.  Hy kom toe af  op ‘n snaakse plant wat hy nie ken nie.  Die plant het sulke lang vrugte gedra wat amper nes komkommers gelyk het.  Hy pluk toe ‘n sak vol van die komkommers.  Toe hy by die huis kom, sny hy dit op en gooi dit in die bredie.

Tobias:        Haai, Tannie, het dit toe lekker gesmaak?

Tannie:          Tobias, ek dink dit het dalk nie lekker gesmaak nie, want toe die eerste jong profeet aan die bredie proe, roep hy uit:  “O aarde, man van God, daar is gif in hierdie kos!”    Nog een het geroep:  “Verseker!  Hier is gif in hierdie pot.”  Dit was ‘n hele affêre!  Almal was deurmekaar en ontsteld.  (Woef, woef, woef)

Tobias:        O nee! Tot my hondjie is ontsteld!  Tannie, moes hulle hospitaal toe gaan?

Tannie:          Nee, Tobias, daar was nie ‘n hospitaal of ‘n ambulans in daai tyd nie.  Hulle almal het nou na Elisa gekyk vir raad.   Hy vra toe:  “Bring vir my bietjie meel.”  Julle, toe vat hy ‘n handvol meel, gooi dit in die pot, en sê: “Skep maar op vir almal.”  En, kan jy dit nou glo:  toe is die kos nie meer giftig nie.  Hulle het heerlik geëet sonder om maagpyn te kry of siek te word.

Tobias:        Fantasties!  Ons God kan selfs gif uit ‘n bredie haal!  Mensig!

Tannie:          Ja, Tobias, dis so ‘n lekkerkry storie!  God kan enige ding regmaak.   Maar julle, ek het nog ‘n kos storie.   Eendag het ‘n man ‘n bietjie gars geoes en van daai eerste garsmeel het hy twintig broodjies gebak.  Dit klink nie of hulle brode so groot was soos ons s’n nie.  Die man bring toe die twintig broodjies en ‘n handvol vars koringare vir die profeet Elisa.  Elisa sê toe vir sy slaaf:  “Gee die broodjies en koring vir die mense hier by ons.”  Maar die slaaf het gesê:  “Meneer, hoe moet ek nou die bietjie kos tussen honderd  mense verdeel?  Dis mos net nie moontlik nie!”   Maar Elisa het gesê: “Gee dit maar, want die Here sê:  hulle sal eet en nog oorhou ook.”  En julle, die slaaf het broodjies uitgedeel en uitgedeel en uitgedeel en dit het nie opgeraak voor almal gekry het nie.  En toe bly daar nog van daai lekker vars brood oor.

Tobias:        Tannie, dit klink amper soos die dag wat Jesus vir baie mense kos gegee het met net vyf brode en twee vissies!

Tannie:          Ja, Tobias, dis dieselfde God wat in Elisa se tyd en in Jesus se tyd die kos meer gemaak het.

Tobias:        Ag, fantasties, wonderlik!

Tannie:          Dit is fantasties, wonderlik.  En dit laat ons so lekkerkry.  Maar Tobias, ek het nog ‘n snaakserige lekkerkry storie.  Dit het by die Jordaan rivier gebeur.  Daar het al meer en meer jong profete na Elisa toe gekom dat hy hulle van God kan leer.  Hulle  besef toe dat die huisie waarin hulle bymekaar kom, te klein is.  Die jong profete wou ‘n plan maak.  Hulle vra toe vir Elisa: “Kan ons afsit Jordaanrivier toe en klomp balke gaan kap dat ons vir ons ‘n nuwe plek kan bou?”  Elisa het gesê hulle kan maar gaan, maar hulle wou hê hy moes saamkom.  Hulle kry toe almal byle bymekaar en gaan na die Jordaan.  Hulle het mooi gekyk waar kan hulle bome afkap en het begin werk.   Hulle het gekap en gekap en gekap tot een geskreeu het:  “Aggenee, aggenee, toggie!” Almal het gestop en het gewonder wat nou.  Hy sê toe:  “Ag meneer, my byl het in die water geval.  Hoe moet ek dit nou weer kry?  Boonop was dit ‘n byl wat ek geleen het!”  

Tobias:        Arme jong man!  Waar sou hy nou ‘n byl kry om terug te gee?

Tannie:          Tobias, Elisa staan toe nader en vra:  “Waar het jou byl ingeval?”  Die jongman wys hom toe omtrent waar dit was.  Elisa vra toe iemand anders se byl.  Hy kap toe ‘n stuk hout af en gooi dit in die water, daar waar die byl ingeval het.  En kan julle nou glo, toe die jongman weer kyk, dryf die swaar byl glad bo-op die water.  En boonop so naby aan die kant van die rivier dat hy sy hand kon uitsteek en dit gryp!

Tobias:        Nee, Tannie, nou maak Tannie ‘n grappie!  Byle is mos swaar!  Dit sink!

Tannie:          Sowaar, sowaar, Tobias!  Die Here het die swaar byl laat dryf en die jongman kon lekker verder werk en die byl later teruggee!

Tobias:        Tannie,  dis nou lekkerkry, lekkervoel stories!  Dit wys wie is ons God!  (lag)  (woef, woef, woef)  Sien, my hondjie hou ook sommer van die stories!   

Tannie:          Ek is bly jou hondjie geniet dit ook!  Tobias, maats, maar ons storietyd is nou om.   Maar julle kan gerus weer kom, want ons het nog wonderlike stories uit die wonderlike Bybel wat ons kan vertel.   Ons gaan nou groet.  Mooi bly!  Totsiens, almal!

                                                                                                ***