Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Stories uit Kanaän 90: Naäman kry melaatsheid en word gesond
Stories uit Kanaän 90: Naäman kry melaatsheid en word gesond (2 Konings 5)
Tobias: Hallo julle almal! Haai, tannie Carin, hoekom is daar ‘n groot pleister op Tannie se vinger? Wat het gebeur? Is dit seer? Was Tannie by die dokter?
Tannie: Tobias! So baie vrae! Hallo, jongie! Nee, dit is darem nie so erg nie. Dit was maar net ‘n stok wat my gesteek het. En nee, ek was nie by ‘n dokter nie.
Tobias: Ek hoop dit word gou beter! Tannie, was daar dokters in die Bybel se tyd?
Tannie: Tobias, daar was dokters, maar ek dink hulle was maar min.
Tobias: Tannie, maar wat het hulle dan gemaak as hulle siek was?
Tannie: Julle, ek het ‘n mooi storie oor iemand wat siek was. Kom ons hoor wat hulle gedoen het. In die tyd van Elisa het die koning van Aram ‘n goeie soldaat, Naäman, gehad. Die arme Naäman het ‘n velsiekte, melaatsheid gekry. Hy en sy vrou was baie hartseer daaroor. In sy huis het ‘n jong dogter uit Israel gewerk. Sy is in ‘n oorlogtyd gevang en was nou Naäman se vrou se slavin. Toe die jong slavin sien hoe hartseer hulle is, praat sy met mevrou Naäman: “Mevrou, ek wens dat meneer by ons profeet in Samaria kan uitkom. Hy sal hom gesondmaak.” Die vrou het dit dadelik vir haar man gaan vertel. Hy het dadelik vir sy koning gaan vertel. Die koning het gesê; “Nee, maar Naäman, jy moet dadelik gaan. Ek sal ‘n brief skryf vir die koning van Israel.”
Tobias: Wat gebeur toe, Tannie?
Tannie: Julle, Naäman het sy brief, driehonderd twee en veertig kilogram silwer, ag en sestig kilogram goud en tien stelle klere op sy wa en perde gelaai en begin ry na Samaria toe. Toe hy by koning Joram kom, gee hy die brief. Die koning het gelees: “Ek het my goeie soldaat Naäman na jou gestuur. Jy moet sy melaatsheid gesondmaak.” Die koning het geskrik en sy klere geskeur. Hy het gedink die brief is ‘n manier waarop Aram weer oorlog wil begin: “Ek is mos nie God dat ek mense kan gesond maak nie?” Maar Elisa hoor toe van die brief en laat weet vir die koning: “Koning, hoekom skeur jy jou klere? Stuur die man na my toe dat hy kan weet God het ‘n profeet in Israel.” Naäman ry toe na Elisa toe. Toe hy stilhou, het Elisa sy slaaf na die deur toe gestuur om te sê: “Goeie dag, meneer! My meneer sê u moet uself sewe keer gaan was in die Jordaanrivier.” En daar loop hy in en maak die deur toe. Naäman was verstom en die volgende oomblik was hy woedend: “Wat? Ek het gedink die profeet sal uitkom, tot sy God bid, sy hand swaai oor my seerplek en die siekte wegneem! Ons riviere is baie beter as die ou Jordaan! Ek kan my mos daarin gaan was!” Hy ry toe weg met opgeblaasde wange. Sy amptenare praat toe mooi: “Meneer, as die profeet nou iets moeiliks gevra het, sou u dit tog gedoen het. Doen nou maar die maklike en gaan was u in die Jordaan?”
Tobias: Het Naäman toe gaan was in die Jordaan?
Tannie: Ja, Tobias! Hy het gegaan, sewe keer in die water ingegaan en toe hy uitkom, was sy vel so glad en gesond soos toe hy nog klein was. O, hy was so opgewonde! Hy het dadelik teruggery na Elisa en vir hom gesê: “Nou weet ek dat daar geen ander God op die aarde is nie; net in Israel. Vat asseblief hierdie geskenk van my!” Maar Elisa het gesê: “So seker as wat ek God se dienaar is, ek kan nie die geskenk vat nie.” Toe sê Naäman dat hy dan net twee vragte grond wil saamvat om daarop vir die Here offers te bring. Hy wil nou net vir Hom aanbid. En daar ry hy weg, blakend gesond!
Tobias: Dis ‘n mooi storie, Tannie!
Tannie: Tobias, wag, die storie is nog nie klaar nie. Naäman was net ‘n entjie weg, toe kry Gehasi, Elisa se slaaf ‘n plan: “Kan jy nou glo dat my meneer niks by die man wou vat nie? So seker as wat die Here leef, ek gaan ietsie by hom vat!” En daar hardloop Gehasi die pad af agter Naäman se wa aan. Toe Naäman hom sien, wou hy weet of iets fout is. Gehasi het gesê: “Nee, niks is fout nie. My meneer het nou net gewonder: daar het twee profeteseuns by hom aangekom. Kan hy dalk twee stelle klere en vier en dertig kilogram silwer vir hulle kry?” Naäman het gesê: “Maar natuurlik! Vat sommer ag en sestig kilogram silwer.” Hulle het die geld in twee sakke toegebind, die klere uitgehaal en vir Gehasi die goed begin huistoe dra. Voor hy by die huis kom, het hy gesê die ander kan nou maar teruggaan, want hy sal dit sommer self verder dra. Hy gaan steek dit toe weg in sy kamer.
Tobias: Tannie? En toe?
Tannie: Daarna gaan Gehasi in na Elisa toe. Toe hy instap, vra Elisa: “Waar was jy, Gehasi?” Gehasi het gesê hy was nêrens nie. Maar God het vir Elisa gesê wat Gehasi gedoen het. Elisa sê toe: “My gees was by jou toe jy daar by die wa gaan vra het vir geld en klere. Moes jy nou die kans vat om te probeer vinnig ryk word? Gehasi, Naäman se melaatsheid sal van nou af op jou en jou nageslag wees.” En dadelik was hy spierwit van die melaatsheid.
Tobias: Tannie? Dis nou aardig! Ons kan nie geld liewer hê as vir God nie. Maar ek is darem bly dat Naäman vir God wou aanbid! En dit alles omdat ‘n slawedogtertjie van God vertel het! Maats, ons kan ook vertel van ons wonderlike God! Tannie, ek dink dis nou al groettyd. Ag, dis reg so! Dan kan ek vir my maatjie die storie gaan vertel. Maats, ons gaan nou groet dat ek kan hardloop. Mooi bly! Lekker stories oorvertel! Totsiens!
Tannie: Totsiens, maats!
***