Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Stories uit Kanaän 93: 'n Vrou kry haar grond terug
Die Here kan enige afspraak vooraf reël. Dit sien ons in hierdie storie in 2 Konings 8, toe God twee mense saam by die koning uitbring - om vir 'n vrou te sorg.
Stories uit Kanaän 93: ‘n Vrou kry haar grond terug. (2 Konings 8)
Tobias: La la la la la la la la la...
Tannie: Hallo, almal! Jy is vrolik, Tobias?
Tobias: Hallo, tannie Carin! Hallo, maats! Julle, ek het so ‘n lekker liedjie gehoor van : God sorg vir die mossies, God sorg vir die diere, God sorg vir die plante, God sal sorg vir jou!
Tannie: Ja, dis ‘n vrolike liedjie van oom Jonathan Rubain.
Tobias: Maar Tannie, is dit waar? Sorg God dat dit altyd goed gaan met ons?
Tannie: Tobias, maats, God sorg altyd vir ons. Altyd! Hy weet presies wat ons nodig het. Soms gaan dit nie goed nie en ons dink God het van ons vergeet, maar binne-in daai slegte tyd, sorg God nog steeds vir ons.
Tobias: Het Tannie dalk ‘n storie oor iemand vir wie God gesorg het al was dit ‘n sleg tyd?
Tannie: Ja! Kom ek vertel julle nog ‘n storie uit die tyd van die profeet Elisa.
Tobias: O, lekker, lekker storietyd!
Tannie: Tobias, maats, julle onthou van die vrou wat vir Elisa ‘n kamertjie laat aanbou het aan haar huis? Sy het mos nie ‘n seun gehad nie en toe kry sy een nadat Elisa dit voorspel het. Maar toe later jare, het die kind doodgegaan.
Tobias: En, en toe het Elisa gebid dat die kind weer lewendig word!
Tannie: Jy onthou mooi, Tobias. Nou ja, ek wil julle vertel van daardie vrou. Die Here het vir Elisa gewys dat daar ‘n baie groot hongersnood in die land van Israel sou kom. Dit sou vir ‘n hele sewe jaar aanhou. Net die tyd toe dit begin, gaan die profeet Elisa eendag na die vrou toe. Hy sê toe vir haar: “Mevrou, pak al jou goed en maak alles klaar. Vat jou hele gesin en gaan soek vir julle ‘n ander blyplek in die buiteland. Die Here het besluit dat daar vir sewe jaar hongersnood oor die land gaan kom.”
Tobias: ‘n Hongersnood? Tannie, maak die vrou toe so?
Tannie: Ja, Tobias. Sy en haar gesin het hulle tasse gepak met al die klere en goed wat hulle wou saamvat. Toe begin soek hulle vir hulle ‘n nuwe huis in ‘n ander land. Hulle het gesoek en gesoek en toe ‘n huis gekry in die land van die Filistyne. Hulle het vir die volle sewe jaar daar gebly.
Tobias: En toe die hongersnood verby was, het sy teruggekom na haar ou huis toe?
Tannie: Ja, Tobias, die gesin kom toe terug na die dorp Sunem toe. Maar wat sou hulle sien? Ander mense het intussen in hulle huis ingetrek! Hulle het ook hulle grond gevat. Hulle kon nie daar bly nie. Hulle sou ook nie kon koring of groente plant nie. Hulle sou hier in hulle eie land van honger doodgaan!
Tobias: Aggenee! Wat nou? Ek dog die Here sou vir hulle sorg?
Tannie: Tobias, maats, die vrou besluit toe sy moet nou hulp soek. En sommer gou ook. Sy het besluit om met die koning te gaan praat. Hy moes haar net help dat hulle weer hulle grond en huis kan terugkry.
Tobias: Tannie, kon die koning haar help?
Tannie: Tobias, die Here het geweet dat sy daai dag na die koning sou kom. Julle sal my nou nie glo nie, maar wie kuier daai dag by die koning? Niemand anders as Gehasi nie, die slaaf van Elisa.
Tobias: Wat het Gehasi daar gemaak?
Tannie: Julle, die koning het vir Gehasi gevra: “Vertel bietjie vir my van al die groot dinge wat Elisa al gedoen het.” Gehasi het nie op hom laat wag nie. O, hy het met smaak vertel van die giftige water wat goeie water geword het; van die byl wat op die water gedryf het; kos wat meer geword het en van die seun wat doodgegaan het. Net toe hy besig is om te vertel van die seun wat dood was, Elisa wat gebid het en die seun wat genies het, toe kom die vrou juis by die koning aan. Toe Gehasi haar sien, sê hy opgewonde: “Koning, o koning, dis die vrou! Dis die vrou! Dis haar seun wat Elisa lewendig laat word het.” Die koning was nou baie opgewonde. Hy het dadelik die vrou laat inkom en haar gevra om die hele storie weer vir hom te vertel. Sy het alles haarfyn vertel hoe God daardie dag haar seun weer lewendig laat word het.
Tobias: Ag, wonderlik! Toe weet die koning dit is waar! Maar Tannie, kon die vrou toe vir die koning vertel hoekom sy na hom toe gekom het?
Tannie: Ja, Tobias. Sy het gevra of die koning kan help dat sy haar huis en haar grond kan terugkry. Die koning het dadelik gesê hy sal help. Hy het een van die paleis se belangrike mense saam met haar gestuur. Hy het gesê: “My amptenaar, gaan saam met hierdie vrou na Sunem toe. Help haar dat sy alles kry wat hulle s’n was: die huis en die grond. En ja, jy moet sorg dat sy alles terugkry wat op haar grond geoes is, van die dag wat hulle hier weg is tot vandag toe. Sy moet alles terugkry wat aan haar behoort.”
Tobias: Tannie, dis wonderlik! Alles? En dit omdat Gehasi net juis daai tyd by die koning was?
Tannie: Tobias, maats, dit was nie toevallig nie. Die Here het dit so gereël. Hy het gesorg dat Gehasi juis daai tyd by die koning moes wees. Hy het geweet hoe Hy vir die vrou en haar gesin gaan sorg.
Tobias: Maats, dis nou ‘n lekker-kry storie! Ons God sorg altyd vir sy kinders. O, my maatjie gaan hiervan hou. Ek gaan gou na hom toe draf. Maats, ek gaan julle groet. Kom gou weer vir nog lekker stories. Totsiens, totsiens!
Tannie: Ons sien jou weer! Totsiens, Tobias! Totsiens, maats!
***