Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Stories uit Kanaän 94: Gasael word Aram se koning
Hierdie storie gaan oor die heidense koning, Gasael. Die Here het hom self uitgekies om koning oor Aram te word. Ons lees van hom in 2 Konings 8, 10, 12 en 13.
Stories uit Kanaän 94: Gasael word Aram se koning (2 Konings 8, 10, 12 en 13)
Tobias: Een, twee, drie, vier, vyf, ses, sewe…
Tannie: Hallo, Tobias? En wat tel jy vandag?
Tobias: Hallo, tannie Carin. Ek tel hoeveel lande se name ken ek. Daar is Suid-Afrika, Amerika, Engeland, China, Frankryk, Duitsland, Kanada… ek weet nie meer nie. Tannie, watter lande was daar in die Bybel se tyd?
Tannie: Tobias, daar was Israel en dan ook ander lande wat nie nou meer bestaan nie. Soos Aram en Edom en die land van die Filistyne.
Tobias: Het Tannie dalk ‘n storie oor Aram?
Tannie: Ja, ek het! Ek wonder wie kan die storie van Elia onthou? Die Here het hom gestuur om drie mense te gaan salf: vir Elisa as profeet, vir Jehu as koning van Israel en vir Gasael as koning van Aram.
Tobias: Ja, ek dink ek onthou dit!
Tannie: Tobias, ons storie van vandag gaan oor die eintste Gasael. In daardie tyd was Ben-Hadad die koning van Aram. Hy het op ‘n dag baie siek geword. Niemand kon raai of hy sou gesond word of dalk sou doodgaan nie. Koning Ben-Hadad het toe al soveel van die God van Israel gehoor, dat hy geweet het Hy kan die antwoord gee. Tobias, en net daai tyd kom die profeet Elisa in Damaskus aan. Ben-Hadad besluit toe om een van sy amptenare na Elisa te stuur: “Gasael, gaan na die man van God toe. Gaan vra hom om vir die Here te vra of ek gesond sal word. Ja, en vat sommer baie geskenke saam.”
Tobias: Tannie, gaan hy toe na Elisa toe?
Tannie: Ja, julle! Gasael het van al die mooiste goed wat mens in Damaskus kon koop, saamgevat. Hy het dit op veertig kamele gelaai. Dalk het elke kameel maar net een stukkie gedra. Maar die lang ry kamele moes wys dat hier geskenke kom van ‘n belangrike man. Gasael kom toe by Elisa en sê: “U dienaar Ben-Hadad het my na u toe gestuur. U weet hy is nou baie siek? Hy wil weet of hy gaan gesond word.” Elisa het hom geantwoord: “Gaan sê maar vir jou koning dat hy gaan gesond word, maar die Here het vir my gewys hy gaan sekerlik sterwe.” Tobias, ‘n interessante ding gebeur toe. Elisa het nie omgedraai en weggeloop of weggekyk nie. Hy het vir Gasael vas in die gesig gekyk met ‘n harde gesig. Hy het hom so lank aangekyk, dat Gasael glad sleg begin voel het. En julle, die volgende oomblik bars Elisa in trane uit.
Tobias: Hoekom, tannie Carin?
Tannie: Tobias, Gasael het ook dadelik gevra: “Waarom huil u dan nou?” Elisa het hom geantwoord: “Ek huil, want ek weet hoe lelik jy met Israel gaan wees. Jy gaan ons dorpe verbrand en ons mense baie, baie wreed doodmaak.” Gasael het dadelik geantwoord: “Nee, Profeet, dit kan nie wees nie. Ek het niks mag nie. Ek sal nie so iets kan doen nie.” Maar Elisa het hom geantwoord: “Die Here het vir my gewys dat jy die nuwe koning van Aram gaan word.” Gasael is toe daar weg en het teruggegaan na koning Ben-Hadad. Toe hy by die koning kom, wou hy dadelik weet: “Wat? Ja, wat het die man van God gesê?” Gasael het geantwoord; “Koning, hy het gesê u gaan gesond word.”
Tobias: Die koning was seker baie bly, Tannie?
Tannie: Ja, hy was seker. Maar volgens ons storie, was Gasael nie so bly nie. Dit klink asof hy regtig graag koning wou word en sommer vinnig.
Tobias: Hoekom sê Tannie so?
Tannie: Tobias, die Gasael het ‘n lelike plan gehad. Hy het die aand gaan slaap, maar die volgende oggend het hy opgestaan en sy plan gaan uitvoer.
Tobias: Wat het hy gedoen, Tannie?
Tannie: Julle, die Gasael het die oggend vir koning Ben-Hadad daar op sy siekbed in sy kamer gaan versmoor met ‘n nat lap.
Tobias: Haai, nee! Regtig? Toe is die koning dood nes Elisa gesê het!
Tannie: Ja, julle, en toe word die wrede Gasael koning oor Aram.
Tobias: En Tannie? Het dit waar geword dat hy so lelik was met Israel?
Tannie: Tobias, ons lees in die Bybel dat hy die dorp Ramot en Gat aangeval het en ook later vir Jerusalem. Koning Joas wat toe koning van Juda was, het al die mooi goed en goud wat hy in die paleis en in die tempel kon kry, vir Gasael gegee dat hy tog moet terugtrek na sy land toe. Later het God eintlik vir Gasael gebruik om vir Israel te straf, omdat hulle nie na die Here wou terugkom nie. Gasael en sy soldate het baie, baie Israeliete doodgemaak. Maar Tobias, hoor net wat lees ons: koning Joahas het vir die Here gesmeek dat Hy tog moet help. Die Here het gesien Gasael is so lelik met hulle. Toe het die Here ‘n redder gestuur, sodat hulle kon teruggaan na hulle eie huise toe. Ons lees ook in die boek Amos dat God vir Gasael gestraf het omdat hy so wreed was. Hy was vir baie jare koning. Na sy dood het sy seun, ook ‘n Ben-Hadad. koning geword oor Aram.
Tobias: Tannie? Is dit so dat die Here besluit wie word koning en vir hoe lank?
Tannie: Ja,Tobias, verseker! Maats, ons God is koning oor die hele aarde! Dit maak ons baie bly en opgewonde! Maak nie saak wat gebeur nie; ons kan weet Hy weet alles. En Hy sal sy kinders weer help.
Tobias: Ek is bly ons kan ons storie-tyd van vandag so eindig: Ons God is koning! Hoera! Maats, ons gaan julle groet! Kom tog gou weer vir nog stories! Totsiens!
***