Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 97: Jehu word koning oor Israel

Carin Conradie Season 5 Episode 97

God het gesê dat Agab se hele familie uitgewis gaan word deur die hand van 'n nuwe koning.  Ons lees hiervan in 2 Konings 9 en 10.

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Stories uit Kanaän 97: Jehu word koning oor Israel     (2 Konings 9 en 10)

 

Tannie:          Hallo, maats!  Julle?  Wat sien ek?  Hier kom Tobias aan met ‘n kroon op sy kop!  Hallo, Tobias!  En as jy vandag ‘n kroon dra?

Tobias:        Hallo, almal!  Ons het koning-koning gespeel.  (lag)  Dit was lekker!  

Tannie, maar sê my: hoe weet die mense wie moet volgende koning wees?

Tannie:          Tobias, gewoonlik is die koning se kind die volgende koning.  Dit het ook so gewerk by die stamme van Juda.   Maar in Israel het dit soms anders gewerk.

Tobias:        Nou hoe het Israel geweet wie moet die volgende koning wees?

Tannie:          Tobias, God self het dikwels die volgende koning aangewys.  So het God het vir Elia gesê Jehu sal  koning word, maar dit het eers in Elisa se tyd gebeur.  

Tobias:        Vertel die hele storie, asseblief tannie Carin?

Tannie:          Tobias, maats, op ‘n dag het Elisa vir een van die jong profete gesê: “Maak gou  klaar.  Vat hierdie kruikie olie en gaan na Ramot toe.  Gaan soek vir Jehu, seun van Josafat, seun van Nimsi.  Olie hom as koning van Israel.  As jy klaar is, moet jy so vinnig weghardloop as wat jy kan.”  Die jongman maak toe so.  Hy kry toe vir generaal Jehu waar hy saam met die ander amptenare van koning Joram vergadering hou.  Hy roep toe vir Jehu eenkant, want hy het ‘n boodskap vir hom.  In die kamer waar hulle alleen was, gooi hy toe die olie op sy kop en sê:  “So sê die Here, die God van Israel:  jy gaan die volgende koning wees van my volk.  Jy moet die hele familie van koning Agab uitroei.  Dit moet gebeur oor koningin Isebel my profete doodgemaak het.  Syself sal ook doodgaan en nie eers begrawe word nie.”  Toe die profeer klaar gepraat het, vlug hy so vinnig as wat hy kon.

Tobias:        Haai!  Wat doen Jehu toe?

Tannie:          Jehu gaan toe terug na die ander belangrike mense.  Hulle was baie nuuskierig oor wat die eienaardige jongman vir Jehu kom sê het.   Hy wou eers nie sê nie, maar vertel toe tog wat die profeet gesê het.  En onmiddellik gooi die mense hulle klere voor hom neer.  Hulle het die ramshoring geblaas en geroep:  “Jehu is koning!”  Tobias, en net daar begin praat hulle oor hoe hulle vir koning Joram, seun van Agab, gaan doodmaak.   Jehu klim toe op sy wa en gaan soek vir koning Joram in Jisreël.  Hy was nog eintlik siek na  ‘n oorlog teen die Arameërs.   Ahasia, koning van Juda, was ook daar.

Tobias:        Tannie, wat gebeur toe?

Tannie:          Die wag op die stad Jisreël se muur het gesien daar kom iemand aan.  Koning Joram stuur toe ‘n boodskapper om te vra of hulle in vrede kom.  Jehu het die boodskapper geantwoord dat dit nie saak maak of hy in vrede kom nie.  Die boodskapper moet sommer maar by hom bly.  Dit het twee keer gebeur.  Die wag het gesê dit lyk soos Jehu op die wa, want almal het al geweet hoe wild hy so ‘n wa kan dryf.  Joram en Ahasia spring toe op hulle eie strydwaens en ry na Jehu toe.  Jehu het vir Joram geskree dat hy nie in vrede kom nie, oor sy ma, Isebel, se sondes.  Jehu se soldate het daai dag vir Joram en vir Ahasia met die pyl en boog geskiet.  Hulle het ook Ahasia se broers doodgemaak.   Koningin Isebel het gehoor Jehu is oppad.  Sy maak haarself toe deftig met grimering, en kam haar hare.  Sy het uit ‘n paleisvenster na Jehu geroep:  “Kom jy in vrede, jou koningsmoordenaar?”  Jehu het opgekyk en gevra of daar paleisamptenare is wat aan sy kant is.  Drie amptenare het daai dag gesorg dat Isebel dood gegaan het op ‘n baie wrede manier, net soos Elia lank tevore voorspel het.

Tobias:        Toe gaan woon Jehu in die paleis, Tannie?

Tannie:          Ja, Tobias. Hy het ook gehoor daar is nog sewentig prinse van Agab se familie oor in Jisreël.  Hy het briewe geskryf vir die mense in die stad.  Hulle het bang geword en het gesorg dat die prinse ook almal uitgeroei is, nes die Here gesê het dit gaan gebeur.  Julle, daar was ook nog ‘n  tempel van Baäl en baie Baälpriesters in Samaria.   Jehu maak toe asof hy ook vir Baäl wil dien.  Hy het al die mense wat vir Baäl gedien het in die tempel laat bymekaar kom.  Niemand wat die Here dien, mag daar gewees het nie.  Toe laat maak hy hulle  almal dood.  Hulle het die tempel afgebreek en toilette van daai klippe gebou.

Tobias:        Sjoe, Tannie, dis erg!   So,  het Jehu die Here gedien?

Tannie:          Ai, Tobias, ek wens ek kon “ja” sê.  Die Here het vir hom gesê Hy is bly hy het die koningshuis van Agab uitgeroei, soos die Here gevra het.  Daarom sou daar vier  van sy kinders en kleinkinders koning word oor Israel.  Maar Jehu het nie die Here met sy hele hart gedien nie.   Hy het steeds die goue kalwers aanbid wat koning Jerobeam nog laat maak het.   Daarom het die Here  vir die koning van Aram al meer en meer laat wen, sodat Israel al meer en meer van hulle grond moes afgee.   Jehu was ag en twintig jaar koning van Israel.  Na hom het sy seun Joahas koning geword.

Tobias:        Tannie, hoekom sukkel ons mense so:  ons doen bietjie goed, maar wil nog so ons eie dinge ook  doen!   Ai, koning Jehu!

Tannie:          Tobias, maats, dis hoekom Jesus Christus gekom het om ons te red van onsself.  Nou wil Hy koning wees oor ons lewe en ons help om reg te lewe.

Tobias:        Jippie!  Maats, ons hoor die stories uit die Ou Testament van die snaakse konings, maar gelukkig weet ons nou van Jesus en kan Hom kies as ons goeie Koning!  Dis die goeie nuus van die Bybel!  Maats, met hierdie goeie nuus gaan ons dan groet tot volgende keer!   Jesus is Koning!  Totsiens, maats, totsiens!

                                                                                    ***