Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Stories uit Kanaän 98: Koning Joas se regering
In 2 Konings 12 en 2 Kronieke 24 hoor ons van koning Joas van Juda en hoe hy goed begin, maar sleg geëindig het.
Stories uit Kanaän 98: Koning Joas se regering (2 Konings 12 en 2 Kronieke 24)
Tobias: Hallo, almal! Tannie, hoekom is tannie Carin se hande so vuil?
Tannie: Hallo, julle! Nee, Tobias, my hande is nie vuil nie. Ek het hulle gewas. Ongelukkig wil die verfspatsels net nie so vinnig afwas nie.
Tobias: Ai, Tannie is ook alewig aan die huisverf of regmaak!
Tannie: Tobias, dis nou maar een ding van geboue: dit moet heeltyd reggemaak word. Maar weet jy, ons lees selfs in die Bybel van die tempel van die Here wat reggemaak moes word.
Tobias; Wat? 'n Regmaak-storie? Nou laat ons hoor?
Tannie: Ons het mos al vertel van koning Joas. Hy was net sewe jaar oud toe hy koning geword het. Hy het die Here gedien, want priester Jojada, sy pleegpappa, het hom geleer. Joas het gesien dat die tempel op party plekke gebreek is. Sy ouma, Atalia, het nie die tempel laat regmaak soos mens maar moet doen met geboue nie. Die mense van Juda het geweet hulle moet gereeld geld tempel toe bring. Die gewoonte het al van Moses se tyd af gekom. Maar Atalia het glad daai geld gebruik vir haar afgode!
Tobias: Haai, nee! Maar wat doen koning Joas toe?
Tannie: Julle, hy het vir die Leviete gesê hulle moet die tempel laat regmaak, maar na 'n paar jaar, toe is nog niks gedoen nie. Die koning laat roep toe vir priester Jojada en vra hom: "En hoekom is die tempel nog nie reggemaak soos ek gevra het nie?" Oepsie! Jojada vat toe 'n kis; boor 'n gat in die deksel en sit dit regs van die altaar neer. Al die geld wat die mense gebring het, is daarin gegooi. Net die geld wat gebring is vir skuld- en sondeoffers, moes na die priesters gaan vir hulle leefgeld.
Tobias: Het hulle genoeg geld ingekry, Tannie?
Tannie: Ja, Tobias! Die mense wou graag die geld bring! Soos die kis vol geword het, is dit leeggemaak en is weer daar neergesit. Later vat koning Joas en priester Jojada toe die geld en gee dit vir die voormanne. Hulle het klip, hout, yster en brons gekoop. Hulle het ook werkers gehuur. Daar was klipkappers, skrynwerkers, bronswerkers en grofsmede.
Tobias: Het hulle mooi met die geld gewerk, Tannie?
Tannie: Ja, Tobias. Die Bybel sê die voormanne was eerlik. Die werkers het mooi en vinnig gewerk. Sommer gou-gou was die tempel weer mooi en sterk. En julle, daar was glad geld oor! Toe laat maak hulle weer goue en silwer gereedskap vir die tempel. Terwyl priester Jojada geleef het, is daar elke dag brandoffers in die tempel gebring - net soos God gevra het.
Tobias: Tannie, priester Jojada was 'n goeie man?
Tannie: Hy was, ja, Tobias. Hy het honderd en dertig oud jaar geword. Die volk van Juda het hom by die konings in die Dawidstad begrawe, omdat hy baie goeie werk vir die volk, God en sy tempel gedoen het.
Tobias: Tannie, het Jojada kinders gehad?
Tannie: Tobias, ons weet van 'n seun, Sagaria. Ai, julle! Maar dis nie so 'n mooi storie nie. Tobias, na priester Jojada se dood, het leiers van Juda na koning Joas gekom: "O, koning, u is so 'n wonderlike koning! Ons wil by u staan en vir u raad gee, want, ja, ag, u is so 'n wonderlike koning!" Tobias, Joas het baie van die lekker-kry woorde gehou. Toe laat hy hom ompraat om die leiers se raad te volg.
Tobias: Wat was hulle raad, Tannie?
Tannie: Hulle het gewyde pale en afgodsbeelde begin aanbid. Hulle het heeltemal van die Here en sy tempel vergeet! Die Here het kwaad geword. Hy het profete gestuur om Juda te waarsku, maar hulle het nie geluister nie. Toe het die Gees van God oor Sagaria gekom en hy het gesê: "So sê die Here: waarom is julle nie aan My gehoorsaam nie? Dit sal nie goedgaan met julle nie. Die Here gaan julle los, omdat julle Hom gelos het." Toe gebeur 'n lelike ding: mense het onwaar stories oor Sagaria aan die koning gaan vertel. Toe gee hy opdrag dat Sagaria, sy eie neef, met klippe doodgegooi moet word. Hy het nie gedink aan hoe goed Jojada, Sagaria se pa, vir hom was nie. Net voor Sagaria dood is, het hy gesê: "Die Here sien dit. Hy sal julle straf."
Tobias: Haai, nee, Tannie! En is hulle toe gestraf?
Tannie: Tobias, God het vir koning Gasael van Aram gestuur om vir Joas en die leiers te straf. Hy het al die leiers doodgemaak. Hy het met 'n klein klompie soldate 'n groot klomp soldate van Juda gewen. Gasael het baie mooi goed uit Jerusalem gevat. Joas het ook baie goud en mooi goed uit die paleis en tempel vir Gasael gegee. In die geveg is Joas lelik gewond.
Tobias: Mensig, maar dis nou jammer! Hoe lank was Joas toe nog koning?
Tannie: Julle, Joas is met sy seer lyf huis toe en het in die bed gaan klim. Twee van sy amptenare, het skelmpies met mekaar gepraat: "Haai Sabad!" "Ja, Josabad?" "Ek wil hoor of jy in is: ek wil Sagaria se dood wreek. Kom ons twee maak vir koning Joas dood." "Mmm, ja, ek is in. Kom ons doen dit." Julle, en toe het hulle twee vir koning Joas in sy bed vermoor. Joas het twee vrouens gehad. Hy het vir veertig jaar in Jerusalem regeer. Na sy dood, het sy seun Amasia koning geword.
Tobias: Tannie, kan mens nou goed begin en sleg eindig? Nee, ons moenie dit doen nie. Maats, kom ons bly by die Here?
Tannie: Dis reg, ja, Tobias. Maats, kom ons bly by die Here tot tot ons weer kom vir nog'n storie en vir altyd! Ons groet dan met: kom ons volg ons Koning Jesus! Totsiens, maats, tot volgende keer! Totsiens!
***