Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 100: Koning Amasia van Juda

Carin Conradie Season 5 Episode 100

Koning Amasia van Juda was die seun van Joas.  Hy het ook goed begin, maar later die Here vergeet.  Ons lees dit in 2 Konings 14 en 2 Kronieke 25.

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Stories uit Kanaän 100:  Koning  Amasia van Juda   (2 Konings 14 en 2 Kronieke 25)

 

Tobias: Mmm, o, lekker!  Tannie Carin?  Hallo?  Kom ruik hier!  Kom ruik hier!

Tannie: Hallo, Tobias!  Wat moet ek kom ruik?

Tobias: Ek het ‘n baie lekkerruik rosie!  Kom, kom ruik!

Tannie: Mmm, aaa!  Ja,  maats, hierdie rosie ruik so lekker!

Tobias: Tannie,  ek wonder of die mense in die Bybel se tyd ook van plante en blomme en bome gehou het?

Tannie: Tobias, ek is seker hulle het.  Interessant!  In vandag se storie het een koning vir ‘n ander koning ‘n storie vertel van bome en plante.  So wou hy iets aan hom verduidelik.

Tobias: Bome en plante?   Tannie, begin sommer dadelik, asseblief!

Tannie: Tobias, maats, hierdie storie gaan oor koning Amasia van Juda.  Hy was die seun van Joas.  Hy was vyf en twintig toe hy koning geword het en het nege en twintig jaar lank geregeer.  Julle sal mos onthou dat Joas deur sy eie amptenare doodgemaak is?  Nou ja, koning Ahasia het toe daai manne gestraf.  Gelukkig het hy  onthou dat God deur Moses gesê het hy mag net die skuldiges straf en nie hulle kinders ook nie.  

Tobias: Ag, dankie!  Tannie, sê tog hy was ‘n goeie koning?

Tannie: Tobias, hy het goed begin.  Hy het die Here gedien, maar eintlik net so half-half.  

Tobias: Aggenee!  Hoe dan so?

Tannie: Julle, hy het die manne in Juda wat kan oorlog maak getel.  Lyk my hy sien toe  hulle is ‘n bietjie min.  Toe gaan praat hy met manne uit Israel, en huur hulle as soldate vir ‘n allamintige klomp geld: drie en’n halwe ton silwer!    Daar kom toe ‘n man van God by hom aan:  “O koning, moenie hierdie Efraim huursoldate saamvat oorlog toe nie.  Die Here gaan nie vir jou help as hulle by jou is nie.”  Maar Amasia vra toe:  “Maar wat nou van die klomp geld wat ek betaal het?”  Die man van God kon hom antwoord:  “Die Here kan vir jou meer as dit teruggee.”  

Tobias: Luister hy toe na die man van God?

Tannie: Ja, hy stuur hulle toe almal  huistoe, maar hulle was  bitter kwaad.  

Amasia wou die mense van Edom gaan aanval.  Hy was maar skrikkerig oor hy nou so min soldate gehad het, maar hy het al sy moed bymekaar geskraap, en, julle sal my nou nie glo nie,  die Here het hom sommer ver laat wen.  

Tobias: Net soos die man van God gesê het!

Tannie: Ja!  Maar Tobias, net hier het dinge begin skeefloop!   Toe Amasia by die huis kom na die oorlog, hoor hy die huursoldate uit Efraim, het sy stede ingeval; mense doodgemaak en klomp goed gevat.   Boonop vat Amasia toe die afgode van Edom en begin bring vir die goed offers!

Tobias: Tannie?  Kan nie wees nie!  Wat het die Here daarvan gedink?

Tannie: Julle, die Here het kwaad geword en ‘n profeet na Amasia toe gestuur: “Koning, jy dien dan nou die gode wat die Edomiete laat verloor het teen jou?    Hoekom doen jy dit?”  Die profeet wou nog iets sê, maar toe praat die koning sommer tussen-in: “Jy?  Is jy aangestel as my raadgewer?  Bly stil man!  Soek jy jou dood?”  Die profeet sê toe maar net:  “Ek weet nou dat God u gaan vernietig.  U kies dit self.”  En daar loop die profeet.  Nie lank daarna nie, sê Amasia se raadgewers vir hom hy moet hierdie boodskap na koning Joas van Israel toe stuur:    “Joas, kom ons veg teen mekaar.”   En Tobias, hier kom nou die storie van die plante.  Koning Joas stuur toe vir hom hierdie storie: “ Amasia, eendag het ‘n ou doringbos in Libanon ‘n boodskap vir die sterk, groot sederboom gestuur:  laat my seun met jou dogter trou?  Toe kom wildediere daar verby en trap die doringbos plat.   Amasia, jy dink jy kan my nou maklik wen, omdat jy vir Edom gewen het.   Man, bly maar liewer by die huis.  Ons is te sterk vir jou.  Ons gaan jou wen.”

Tobias: Haai, dis ‘n interessante bos-storie!   Tannie, wat gebeur toe?

Tannie: Julle, die Bybel vertel ons dat God dit so gewerk het, omdat Amasia die afgode begin aanbid het.  Amasia val toe tog vir Israel aan.   Israel het so goed geveg, dat die soldate van Juda almal weggehardloop het, huistoe.   Joas het vir Amasia gevang en toegesluit.  Hy het ‘n groot stuk van die muur van Jerusalem afgebreek.  Hy het al die goud en silwer uit die tempel en paleis  gevat.  Hy het ook nog mense gevang en saamgevat na Samaria toe.

Tobias: Kan jy nou meer!  Amasia is toe toegesluit?  Vir hoe lank, Tannie?

Tannie: Tobias, dit klink asof hy vrygelaat is na Joas se dood.  Hy het nog vyftien jaar geleef nadat Joas dood is.   Maar toe het dit sleggegaan met hom.  Vandat hy begin het om afgode te dien, het mense beplan om hom te vang.  Hy het gevlug, maar die mense het hom gevolg en hom doodgemaak.   Hulle het hom darem toe in die Dawidstad gaan begrawe.  

Tobias: Tannie Carin, dink nou net:  hy kon al die slegte dinge vrygespring het, as hy net die Here bly dien het!   

Tannie: Tobias, maats, oral in die Bybel sien ons dat God vir ons baie lief is.  So lief dat Hy ons vir Homself wil hê.   Hy is soos ‘n baie goeie pappa wat goeie dinge wil gee, maar ook wil hê ons moet Hom terug liefhê.  

Tobias: Dankie, Tannie vir die storie!  Ons kan sien dis die beste om God te dien.  Ek wil graag!  Hy is die groot Koning!   

Tannie: Kom ons bid en vra dat Jesus ons daarmee sal help.   Jesus Christus, help ons asseblief om te doen wat U wil hê.  Help ons om U lief te hê.  Amen.   Maats, ons storietyd is al weer om.  Kom sommer gou weer vir  nog ‘n storie oor die konings van Israel en Juda.  Mooi loop!  Totsiens, totsiens!

***