Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Stories uit Kanaän 103: Koning Agas van Juda
In 2 Konings 16 en 2 Kronieke 28 lees ons van koning Agas van Juda wat sy eie kop gevolg het. Ons vewys ook na Spreuke 3:6.
Stories uit Kanaän 103: Koning Agas van Juda (2 Konings 16 en 2 Kronieke 28)
Tannie:Hallo, maats! Hallo, Tobias!
Tobias:Hallo, julle! Tannie, Tannie, ek, ek het vanoggend my eie planne.
Tannie:Laat ek hoor, Tobias?
Tobias:Ja, mmm, ek wil bietjie vandag ons storie doen.
Tannie:O? Nou maar reg. Laat ons die storie hoor!
Tobias:Goed! Storie? Mmm, mmm, ja, mmm... Nou weet ek nie.
Tannie:Tobias, ek dog jy het ‘n plan?
Tobias: Mmm, tannie Carin, ek dink nie my plan gaan werk nie. Ek het nie ‘n storie om te vertel nie. Sal Tannie maar asseblief help?
Tannie:Ai, my liefste Tobias! Ja, ons almal wil partykeer ons eie planne probeer maak. Haai, dalk kan ek juis vandag ‘n storie vertel van ‘n koning wat so sy eie planne gemaak het. Toe werk dit glad nie uit nie!
Tobias:Asseblief, Tannie! Vertel!
Tannie:Tobias, maats, na koning Jotam van Juda het sy seun Agas koning geword. Hy het nie die Here lief gehad nie. Hy het afgode aanbid en offers gebring op hoogtes en onder bome. Hy het afskuwelike dinge gedoen: net soos die mense wat afgode aanbid het: verskriklike goed wat mens skoon naar maak.
Tobias:Haai, nee, Tannie! En toe?
Tannie:Tobias, toe het die Here vyande gestuur: die konings van Aram en van Israel het hom aangeval. Hulle het stede oorgevat, baie mense doodgemaak en ‘n klomp weggevoer na Samaria toe. Toe maak Agas verder sy eie planne. In plaas van hulp vra by die Here, gaan vra hy toe hulp by die koning van Assirë: “O, koning Tiglat-Piliser, ek is u seun. Ag, help my tog veg teen Aram en Israel?” Hy het goud en mooi goed vir hom gegee om hom te betaal. Toe gaan val die koning van Assirië vir Aram en Israel in. Koning Agas besluit toe om vir Tiglat-Pileser te gaan kuier. Daar in hulle afgode se tempel, sien hy toe ‘n mooie altaar waarvan hy baie hou. Hy laat teken toe gou ‘n prentjie daarvan en stuur dit na die priester in Jerusalem.
Tobias:Tannie, wat moes die priester met die prentjie doen?
Tannie:Tobias, Agas wou hê die priester moes so ‘n nuwerwetse altaar bou. Hy doen dit toe ook en toe Agas terugkom vanaf koning Tiglat-Pileser, is die ding net mooi klaar. O, koning Agas was so opgetrek met sy eie nuwe plan. Hy gee toe opdrag aan priester Urija: “Gaan sit die bronsaltaar van die tempel daar agter in die hoekie. Ek sal dit nog gebruik om God se wil te vra. Maar hierdie mooi nuwe altaar van my, sit dit hier voor in die tempel neer.”
Tobias:Tannie! Nee! Hy mag mos nie dit doen nie?
Tannie:Ai, julle! Toe maak Agas sommer verder sy eie planne! Eintlik mag net priesters offers gebring het. Maar nee, Agas bring toe sommer sy eie offers. Hy gee toe ook opdrag: “Alle offers moet van nou af op hierdie altaar gebring word.” Tobias, koning Agas het ook sommer party goed gebreek daar by die tempel. En dit alles sodat hy nou vir die koning van Assirië kon goed lyk. Julle, toe kom val die Filistyne en die Edomiete ook nog vir Juda in. Koning Tiglat-Pileser het ook begin om vir Agas al meer moeilikheid te gee. Hy het hom nie gehelp nie. Agas was nou regtig benoud.
Tobias: Tannie, gaan vra hy toe vir die Here om hom te help?
Tannie:Nee, Tobias. Toe dink Agas by homself: “Die gode van Damaskus het hulle gehelp. Mmm, ek gaan hulle aanbid. Dalk help hulle my ook.”
Tobias:Nog van sy eie planne!
Tannie:Ja, julle! En hierdie planne van hom het gemaak dat Juda se mense al verder en verder van die Here af weggegaan het.
Tobias:Dis waar ons eie planne ons bring. Net mooi nêrens nie!
Tannie:Maar Tobias, ek het darem ook ‘n mooi stukkie om te vertel. Jy onthou dat Israel ‘n klomp van Juda se mense gevang en saamgevat het na Samaria toe. Nou ja, toe die soldate van Israel die dag met die tweehonderd duisend vrouens, seuns en dogters daar aankom, gaan staan ‘n profeet van die Here, Oded, reg voor hulle by die stadspoort: “Israel, die Here het julle gebruik om vir Juda te straf. Maar nou het julle dit darem baie lelik gedoen. Julle wil nou glad mense uit julle eie broedervolk as slawe neem? Nee, man, vat terug die mense. Die Here wil dit nie so hê nie.”
Tobias:Haai? En wat maak hulle toe?
Tannie:Julle, daar was ‘n paar leiers wat gehoor het wat die profeet sê. Hulle sê toe vir die soldate: “Nee! Julle bring nie hierdie mense in die stad in nie! Dit sal ‘n verkeerde ding wees teen die Here self!” Tobias, toe vat daai leiers die gevangenes na ‘n veilige plek. Hulle het vir hulle water, kos, klere, en skoene gegee. Hulle het salf aan hulle seerplekke gesmeer. Die wat nie kon loop nie, is op donkies gelaai. Toe vat hulle hulle terug na die stad Jerigo toe.
Tobias:Ag, maar dis nou wonderlik, fantasties! Nes ek dink die storie is heel lelik, dan sien ek hoe goed die Here nog steeds vir Israel en Juda was. Tannie, lyk my die Here se planne is maar die beste?
Tannie:Tobias, die Here se planne bly die beste. En weet jy hoe weet ons sy planne?
Tobias:Mmm, ons bid?
Tannie:Ja, ons bid en ons lees die Bybel. In die boek Spreuke is geskryf: “Vra Hom raad in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop”. Die Here wil ons elke dag mooi help om die regte dinge te doen.
Tobias:Tannie, ons God is wonderlik! Baie dankie vir die storie! Dankie vir al die stories! Ek wil nie weer my eie planne vir ons storie-tyd probeer maak nie! (lag) Dit werk nie uit nie! (lag) Maats, ons gaan nou groet! Vra vir die Here om julle te help, elke dag, tot ons weer kom? Hy weet die beste! Totsiens, almal, totsiens!
***