Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 104: Die laaste koning van Israel

Carin Conradie Season 5 Episode 104

Hosea was die laaste koning van die noordelike ryk van Israel.  In hierdie storie word die eerste mense van Israel weggevoer deur Assirië.  Ons lees dit in 2 Konings 17.

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Stories uit Kanaän  104:  Die laaste koning  van Israel   (2 Konings 17)

 

Tobias: Hallo, julle…  mmm…

Tannie: Hallo, maats  en hallo, Tobias.   Meneer, en as jy so diep dink vandag?

Tobias: Tannie Carin , party mense sê God was baie kwaai in die Ou Testament.  Hy  het sommer mense  links en regs gestraf.  Is dit so? 

Tannie: Tobias, maats,  mense dink baie keer so, omdat ons net sekere stories in die Bybel lees.  As ons die hele Bybel lees, sien ons ons God is liefde!  

Tobias: Maar Tannie, God het die ou konings gestraf?  Hoe het Hy liefde gewys?

Tannie: Tobias, kom ek vertel bietjie die storie van die laaste koning van Israel.  Dan kyk ons of ons verstaan.

Tobias: Nou laat ons  hoor?

Tannie: Julle, na koning Ela het Hosea koning geword van die noordelike stamme van Israel.  Hy was nege jaar lank koning in Samaria.

Tobias: En het hy die Here gedien?

Tannie: Nee, Tobias!  Hy was darem nou nie so wild en woes soos ou koning Jerobeam nie, maar hy het nie die Here gedien nie.    Hosea het baie moeilikheid met koning Salmaneser van Assirië gehad.   Salmaneser wou Samaria binne-val.  Toe sê Hosea gou:  “Toemaar, toemaar, Salmaneser, ek sal jou onderdaan wees.”  Maar na ‘n rukkie wou Hosea nie meer belastings betaal aan Assirië nie.  Hy gaan vra toe skelmpies vir die koning van Egipte om hom te help veg teen Assirië.  Toe die koning van Assirië dit uitvind, gaan vang hy vir Hosea en sit hom in die tronk.  Hy gaan veg toe ook teen Samaria vir drie jaar lank en vat die stad oor.   Hy vang toe die mense van Samaria en gaan plak hulle in ander stede neer.

Tobias; Tannie, maar dit klink dan of God sommer woeps, vir Hosea wou straf.  Vinnig!  

Tannie: Tobias, die Bybel vertel ons dat hierdie wegvoering na ander lande, gebeur het omdat Israel nie na God wou luister nie.   Die volk  het al die  wette van God gekry.  Hulle het presies geweet wat hulle moes doen.  Maar nee, hulle het ekstra goeters begin doen.  Hulle moes byvoorbeeld net in die tempel offers bring, maar  hulle bou altare op verskillende plekke op hoogtes en onder bome.  Hulle maak goue beelde van ‘n kalf en bring offers vir die kalf.  Hulle het pale geplant en daar gebid.  Hulle  het wierook  sommer oral geoffer.   Later het hulle ook afgode begin aanbid:  vir Baäl, Asjera, die son en maan en sterre.  Hulle het nare offers gebring vir die afgode van hout en klip.  

Tobias: Maar Tannie, kon die Here hulle nie maar net gewaarsku het nie?

Tannie: Tobias, Hy het.   Vanaf Moses se tyd het hy  rigters, sieners en profete gestuur wat vir Israel gewaarsku het.  Daar was klomp:  twaalf rigters en profete meer as ons vingers! Ons ken nie eers almal se name nie. En dan nog priesters ook.   Hulle het gevra en gesmeek dat Israel moes terugkom na die Here, want die Here het hulle liefgehad.

Tobias: Ag, dis jammer!  Hoekom het hulle nie maar geluister nie?

Tannie: Ai, julle!  Dis nie net dat hulle nie geluister het na die profete nie.  Hulle was lelik met hulle.  Ons gaan nog later vertel hoe hulle die profete in gate en putte gegooi het en party doodgemaak het.  

Tobias: Maar moes die Here nie dalk vir hulle langer tyd gegee het nie?  Het Hy nie te gou gestraf nie?

Tannie: Julle, vanaf  die tyd wat Israel in Kanaän gekom het, het die Here hulle omtrent seshonderd en tagtig jaar lank gewaarsku.   Vanaf  Jerobeam koning geword het van die noordelike Israel, is hulle twee honderd jaar lank gewaarsku.  

Tobias: Dis lank!  Maar wat van God se belofte aan Dawid dat daar altyd iemand van sy kinders koning gaan wees?

Tannie: Tobias, onthou, ons vertel vandag dat die noordelike stamme van Israel weggevoer is.  Die suidelike stamme van Juda was nog in die land.  Dis uit Juda wat Jesus later gebore is: die Ewige koning wat sy liefde kom wys het toe Hy in ons plek doodgemaak is.

Tobias: O, ek sien!  Maar  wie het nou in die noordelike kant van die land  gebly?

Tannie: Julle, die koning van Assirië het mense van ander lande daar ingebring.  Hulle het hulle eie afgode aanbid.  Toe het leeus hulle begin aanval.  Hulle besef toe hulle weet nie hoe hulle die God van  hierdie land moet aanbid nie. 

Tobias: En toe, Tannie?

Tannie: Die koning van Assirië het toe een priester van Israel teruggestuur om die mense te leer van God.  Maar toe maak hulle alles skoon deurmekaar:  hulle probeer aanbid die  Here God, maar hulle aanbid ook sommer hulle afgode met die snaakse name van Sukkot-Benot, Nergal, Asima, Nibgas, Tartak, Adrammelek en Anammelek.

Tobias: (lag)  Dit klink asof Tannie ‘n ander taal praat. (lag)

Tannie: Ja, dit klink omtrent so!

Tobias: Tannie, so ‘n deel van Israel het toe nie meer ‘n eie land gehad nie, omdat hulle nie die Here wou liefhê nie, al wou Hy hulle liefhê!.  Maar hoe moet ons weet hoe om die Here lief te hê?

Tannie: Tobias, maats, vir ons is dit so maklik: ons het die hele Bybel wat ons kan lees.  Daarin sê die Here presies vir ons wat Hy wil hê.   As ons die Bybel elke dag lees,  nes ons elke dag ons kos eet,  sal ons weet hoe om te leef vir Hom.

Tobias: Tannie, dis fantasties!  God se Woord is wonderlik!  Ek is so bly ons kan die maats daarvan vertel!  Jippie!   Ons God is Koning!

Tannie: (lag) Maats, Tobias, so ons sien, God is liefde!  Hy het jare geroep na Israel.  En toe stuur Hy later vir Jesus.   Maar maats, hiermee moet ons nou eers afsluit.  Kom gou weer!  Die wonderlike Bybel het nog fantastiese stories oor ons God van liefde.  Ons groet dan!   Totsiens tot volgende keer!

           ***