Bybelstories in Afrikaans

Stories uit Kanaän 106: Koning Hiskia en koning Sanherib

Carin Conradie Season 5 Episode 106

Koning Sanherib het vir Jerusalem beleër.  Hikia het  na die Here geroep en Hy het uitkoms gegee.  Ons lees dit in 2 Konings 18, 19 en 2 Kronieke 32.

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Stories uit Kanaän 106:  Koning Hiskia en koning Sanherib  (2 Kon 18, 19  en 2 Kron 32)

 

Tobias:Hallo, tannie Carin!  Tannie, ek wonder, ek wonder, hmm… sê tog,  hmm…

Tannie:Hallo, julle!  Tobias, hulle sê “nuuskierige agies kry pyn op hul magies!”  

Tobias:Maak nie saak van die maagpyn nie.  Ek wil weet: hoeveel gode is daar?  Ek hoor hulle sê alle godsdienste gaan ons in die  hemel kry.  Is dit waar?

Tannie:Daar is wel baie godsdienste in die wêreld.  Maar wat ons glo is nie eintlik ‘n godsdiens nie.  Die Bybel leer ons dis eerder soos  iets tussen ‘n pappa en ‘n kind.   Ons kan met God praat en na Hom luister, want Hy is lewendig!  

Tobias:O!  Tannie, so is dit ‘n nuwe ding die?  Die ding van baie godsdienste?

Tannie:Julle, dit kom al eeue en eeue.  Kom ek vertel julle  van koning Sanherib van Assirië.  Dalk help dit ons om te verstaan.   Tobias, in koning Hiskia van Juda se tyd, het koning Sanherib die land ingeval.  Hy wou almal bangmaak en wou op die ou end vir Jerusalem vir hom vat. 

Tobias:Het hy dit reggekry, Tannie?

Tannie:Wel, hy het hulle goed banggemaak!  Hiskia  het eers  vir Sanherib gesê hy sal vir hom silwer en goud stuur.  Hy moes al die silwer en goud uit die tempel en uit die paleis vat.   Toe het hy  Jerusalem se mure sterker gemaak,  klomp wapens laat maak, en het  watervore buite Jerusalem laat toestop.  Dit alles om reg te maak as Sanherib sou kom.   Hiskia het ook met sy soldate gepraat:  “Wees sterk en dapper, moenie bang wees of skrik vir Sanherib nie. Ons is meer as hulle.  By hulle is net mense.  By ons is die lewende God.”  

Tobias:  Tannie, het Sanherib toe gekom na Jerusalem toe?

Tannie:Op ‘n dag het hy sy hoofsoldaat na Jerusalem toe gestuur.  Drie amptenare van Hiskia het  gaan luister wat hy te sê het.  Hy begin toe: “So sê die groot koning Sanherib van Assirië:  wie gaan julle help om teen my te wen?     Sal Egipte julle help?  Nee!   Egipte is soos ‘n riet.  Jy dink dis ‘n kierie, en as jy nogso op hom druk, dan breek hy sommer en steek in jou hand!  Of sal julle God julle kan help?  Is dit dan nie sy altare wat Hiskia laat afbreek het nie?”  Julle, op daai stadium vra die amptenare van Hiskia:  “Ag, sal u tog asseblief in Aramees praat?  Moenie in Judees praat dat die mense op die muur u kan verstaan nie.”  Maar die hoofsoldaat sê:  “Nee, ek praat in Judees.  Die mense op die muur moet hoor hulle gaan ook doodgaan van die honger saam met Hiskia.”  Julle, toe roep hy nog harder:  “Luister julle almal.  Moenie vir Hiskia glo nie.  Julle God kan julle nie red nie.  Geen van die ander volke se gode kon hulle red nie.  Hoekom sal julle God julle kan red?  Hy kan nie!”  

Tobias:Tannie, het die mense op die muur iets geantwoord?

Tannie:Nee, Tobias, hulle het doodstil gebly, want die koning het dit gevra.  Die amptenare het vir Hiskia alles gaan vertel.  Hulle was so hartseer dat hulle al vier hulle klere geskeur het.  Hiskia stuur hulle drie toe na die profeet Jesaja om hom te  vertel  wat die hoofsoldaat gesê het.  Jesaja het gesê:  “ So sê die Here:  moenie bang wees oor wat julle gehoor het nie.  Die hoofsoldaat sal onrustig raak en teruggaan na sy eie land toe.  Hy sal daar doodgaan.”  

Tobias:Tannie, gebeur dit toe?

Tannie:Julle, die hoofsoldaat hoor toe dat koning Sanherib weg is uit een dorp, want hy moes gaan veg teen iemand anders.  ‘n Ander koning was ook oppad om teen Assirië te veg.  Toe gaan hy weg van Jerusalem af.

Tobias:Ag, dankie tog!

Tannie:Ja, maar alles was nog nie rustig nie.  Sommer daai einste tyd stuur koning Sanherib ‘n brief vir Hiskia: “Moenie op jou God probeer vertrou nie.  Jy het mos gehoor hoe baie lande het ek al ingeneem.  Kon enige van hulle gode hulle red?  Nee!  So hoekom dink jy kan jou God vir Jerusalem red?  Hy kan nie!”  Julle, Hiskia was so bang dat hy dadelik na die tempel toe is.  Daar het  hy die briewe oopgesprei voor die Here.  Hy het gebid: “ Here, God van Israel, U alleen is God.  U het die hele wêreld gemaak.   Hoor hoe lelik praat Sanherib van U.  Hy het baie lande gewen, maar hulle gode was sommer klippe en hout.  Here, red ons dat almal kan sien U alleen is God.”

Tobias:Het God geantwoord?

Tannie:Ja, Hy het.  Die profeet Jesaja stuur toe ‘n boodskap vir Hiskia:  “So sê die Here:  Ek het jou gebed gehoor.   Ek sê vir Sanherib:  vir wie het jy sleggesê?  Die Heilige God van Israel.   Ja, Ek het beplan dat jy baie lande moet wen.  Ek weet alles wat jy doen.  Ek het gehoor hoe lelik jy van My praat.  Ek sal jou laat teruggaan na jou eie land.   Hiskia, Ek gee jou ‘n teken:  twee jaar  sal julle  koring en vrugte eet wat sommer opgekom het.  Maar in die derde jaar sal julle weer lekker ploeg en plant op julle eie grond.  Sanherib sal nooit in Jerusalem inkom nie.  Ek wat altyd doen wat Ek sê, Ek belowe dit.”  

Tobias:En het dit gebeur?

Tannie:Julle, daardie nag het die engel van die Here in die kamp  van Sanherib ingegaan.  Hy het honderd vyf en tagtig duisend soldate doodgemaak.  Sanherib moes toe maar  teruggetrek na sy eie land toe.  En sowaar, nie lank daarna nie, het Sanherib in sy god se tempel gaan aanbid.  Toe kom twee van sy eie seuns in en maak hom dood.    Al die volke  het gesien wie is die Here.  Hulle het offers gebring na Jerusalem toe.  Hulle het ook duur geskenke vir Hiskia gebring.  

Tobias:Tannie,  Sanherib het gedog God is soos ander gode wat eintlik dooie goed is.

Tannie:Tobias, die God van die Bybel is ‘n lewende God.  Hy sal altyd luister as mense na Hom roep.  Dit is net Hy wat ons kan hemel toe vat.

Tobias:Tannie, dis hoekom ons al die stories in die Bybel vir die maats moet vertel. Maats, dit is nou  fantasties, wonderlik, wonderlik, fantastiese nuus waarmee ons vandag se storie kan afsluit!  Kom gou weer!  Daar is nog baie stories oor hierdie lewende God!  Ons groet julle, tot volgende keer!  Totsiens!

***