Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Stories uit Kanaän 108: Koning Manasse van Juda
In 2 Konings 22 en 2 Kronieke 33 lees ons van Hiskia se seun Manasse. Hy het sleg begin en goed geëindig. Genade!
Stories uit Kanaän 108: Koning Manasse van Juda (2 Konings 21 en 2 Kronieke 33)
Tobias:Hallo, Tannie! Hallo, maats! Tannie Carin, kan ons bietjie raai-raai speel?
Tannie:Hallo, almal! Tobias, ons kan, ja! Het jy ‘n raaisel?
Tobias:Ja, Tannie. Raai, raai: maak my dood dan leef ek langer, laat my leef, dan gaan ek gouer dood. Wat is dit?
Tannie:Maak my dood dan leef ek langer, laat my leef, dan gaan ek gouer dood. O aarde, nee, Tobias, ek weet nie.
Tobias:Dis ‘n kers, Tannie!
Tannie: O! Ja! As dit brand, gaan dit mos gouer kort word, maar as ons dit doodblaas, hou die kers langer. Mooi! Goed. Nou is dit my beurt: raai watter mens het die oudste geword in die Bybel?
Tobias:Mmm, ek weet nie.
Tannie:Dit was Metusalag. Hy het negehonderd nege en sestig jaar oud geword.
Tobias:Aarde, maar dis oud! Ek wonder of die maats weet: raai watter hoofstuk in die Bybel is die langste?
Tannie:Dis Psalm honderd en negentien, ne?
Tobias: Dis reg, Tannie.
Tannie:Ek het ook nog een: raai watter koning van Juda het die langste geregeer?
Tobias:Tannie, sê maar?
Tannie:Koning Manasse.
Tobias:O, nes die naam van een van die stamme van Israel? Vertel asseblief van hom?
Tannie:Tobias, maats, Manasse was net twaalf jaar oud toe hy koning geword het in Jerusalem. En raai net? Hy het vyf en vyftig jaar lank geregeer!
Tobias:Sjoe! Dis lank! En was hy lief vir die Here?
Tannie:Ai, julle! Ongelukkig moet ek nou sê nee. Hy het verskriklike dinge gedoen.
Tobias:Soos wat, Tannie?
Tannie:Tobias, sy pa, Hiskia het mos die hoë plekke en pale waar mense offers gebring het, afgebreek. Maar hy het dit weer gaan staan en opbou. Hy het ‘n altaar vir Baäl gebou. En een vir Asjera en dit nogal binne-in die Here se tempel neergesit. Hy het ook altare vir die son en maan en sterre gebou en dit in die tempel gesit. Hy het verskriklike grillerige aardige aaklige offers gebring in die Ben-Himnomdal. Hy het meer uitgevind oor toordery en goëlery en het dooie mense probeer oproep om vir hulle raad te vra. Boonop het Manasse klomp mense sommer net vir sommer net laat doodmaak.
Tobias:Dis verskriklik, Tannie! Het hy dan nie geweet wat is reg nie?
Tannie:Tobias, hy het geweet wat God gesê het. Hy het geweet dat as Israel doen wat God vra, hulle altyd in die land sou kon bly. Die Here het ook sieners en profete gestuur om vir Manasse en die volk te waarsku. Maar nee, hulle wou nie luister nie. Toe het God gesê: “Omdat Manasse en Juda die stinkende afgode bly aanbid, gaan Ek baie slegte goed oor hulle laat kom. Mense se ore sal skoon tuit as hulle hoor wat gebeur. Ja, ek gaan Jerusalem skoonvee soos mens ‘n skottel skoonvee en dit omdop.
Tobias:Tannie! Het dit toe gebeur?
Tannie:Tobias, die Here het Assiriërs gestuur na Jerusalem. Hulle het vir Manasse gevang en hom met hake en in bronskettings na Babel toe gevat. Dit het baie sleg met hom gegaan. Sy hele lyf moes erg gepyn het. Toe dit so sleg gaan, toe het Manasse gebid: “Here, God van my pa en oupas, wees my genadig. Ek is so jammer dat ek so gesondig het. Ek het myself bo U gesit. Vergewe my asseblief. Ek smeek U, help my, asseblief.”
Tobias:En Tannie, wat gebeur toe? Die Here hoor mos altyd as ons roep?
Tannie:Tobias, ja! Die Here het gehoor. Hy het gesien Manasse is jammer. Hy het geweet Manasse weet nou die Here alleen is God. Ja, julle, die Here het hom laat terugkom uit Babel. Hy is terug na Jerusalem en was verder hulle koning. Maar nou het dinge verander. Hy het al die afgodsbeelde en vreemde altare uit die tempel uit weggevat. Al daai goed is buite die stad weggegooi. Hy het die stukkende altaar van die Here reggemaak, sodat die priesters daarop kon offers bring. Hy het gesê: “Volk van Juda, julle moet net die Here God alleen dien.”
Tobias:En het die volk geluister, Tannie?
Tannie:Ja, Tobias. Hulle het ongelukkig nie al die altare op die hoë plekke afgebreek nie. Maar hulle het vir die Here daar offers gebring en nie meer vir afgode nie. Julle, Manasse het ook klomp bouwerke gedoen. Die buitemuur van die Dawidstad is verhoog. Hy het ook hoofsoldate in al die belangrike stede van Juda gesit. Toe Manasse oorlede is, is hy begrawe in die tuin van sy huis.
Tobias:Mensig, Tannie? Hierdie storie het darem sleg begin! Ek wou sommer weghol!
Maar is ek bly dat Manasse weer lief geword het vir die Here! Dis fantasties, wonderlik! Maats, is dit nou nie lekker om vandag se storie so af te sluit nie?
Tannie:Dit is, Tobias. Ja, en is dit lekker om weer te sien Wie is ons God? Hy is genadig! En Hy hoor as ons roep. Maats, ons groet dan tot volgende keer. Mooi loop! Totsiens, totsiens!
***