Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Stories uit Kanaän 109: Konings Amon en Josia van Juda
In die tyd van koning Jerobeam 1, het 'n profeet voorspel dat 'n jong koning, Josia, die land van afgodery sal skoonmaak - ongeveer 300 jaar later. Ons lees die storie van Josia in 2 Konings 21 tot 23 en 2 Kronieke 33 tot 35.
Stories uit Kanaän 109: Konings Amon en Josia van Juda (2 Kon 21-23 en 2 Kron 33-35)
(Is, issie, is, issie, is, issie, aag)
Tannie: Hallo Tobias, wie stry so?
Tobias: Hallo almal! Tannie Carin, dis my maatjie en sy sussie. Hulle het by my gespeel, maar hulle gaan nou huistoe.
Tannie: Waaroor stry hulle so?
Tobias: Ek weet tog nie. Maar Tannie, partykeer stry maatjies met my en sê die Bybel kan nie waar wees nie. Wat kan ek doen dat hulle kan glo?
Tannie: Ag, my liefste Tobias, ons kan niemand laat glo nie. Net die Gees van God kan dit doen. Maar ons kan vir hulle bid en ons kan vertel. Ons kan byvoorbeeld vertel hoe dinge in die Bybel voorspel is, en toe word dit later waar.
Tobias: Ja? Het Tannie dalk ‘n storie van iets wat waar geword het?
Tannie: Tobias, ek het ‘n storie oor twee konings gebring. Die eerste koning was Amon, seun van Manasse. Hy was twee en twintig toe hy koning geword het en het net twee jaar geregeer. Hy het al die afgode aanbid wat sy pa aanbid het voor hy teruggekeer het na die Here. Van sy amptenare het toe vir mekaar gesê: “Kom ons maak vir ou Amon dood.” En toe doen hulle dit sowaar. Maar die mense van Juda was kwaad daaroor en het weer daai mense doodgemaak. Toe maak hulle Amon se seun Josia koning in sy plek.
Tobias: Josia! Wat weet ons van hom?
Tannie: Tobias, hy was net ag jaar oud toe hy koning geword het. Maar weet jy ‘n profeet het omtrent driehonderd jaar vantevore voorspel dat daar ‘n koning met die naam Josia sal kom. Ons het dit vertel in Stories uit Kanaän nommer 75. Ons lees dit in 1 Konings 13.
Tobias: Haai, Tannie? Vertel bietjie meer?
Tannie: Julle, koning Josia het het op sestien begin om die Here te dien. Toe hy twintig geword het, het hy begin om afgode en altare van die afgode in die land te verwoes. Oral in die land het hy die goed afgekap, stukkend geslaan, fyngemaal en die as uitgestrooi. Die afgodspriesters mag ook nie meer geleef het nie. Toe hy so ses en twintig was, het hy gesê die tempel moet skoongemaak word. Hy het van sy amptenare na die tempel gestuur en gesê: “Julle moet al die geld wat die Leviete ingesamel het, vat en vir die priester gee. Hy moet dit vir bouers en skrynwerkers gee om klip en hout te koop om die tempel mooi reg te maak.” Maar...
Tobias: Hoekom sê Tannie MAAR?
Tannie: Maar toe hulle so begin krap daar in die tempel vir die geld, kry die priester ‘n boek daar onder die stof. Dit was die Wetboek wat God vir Moses gegee het.
Tobias: O aarde! Het die mense dit nie meer gelees nie?
Tannie: Tobias, klink nie so nie. Die priester gee toe die boek vir die staatsekretaris om dit vir die koning te gaan lees. Toe koning Josia hoor wat daarin staan, het hy sy klere geskeur! Hy was so hartseer dat die vorige konings nie een gedoen het wat in die wetboek staan nie! Hy sê toe vir vyf belangrike manne: “Julle moet die Here gaan vra wat nou? Hy moet baie kwaad vir ons wees dat ons sy wet vergeet het!” Die manne is toe dadelik daar weg na ‘n profetes, Gulda daar in Jerusalem. Nadat hulle haar vertel het van die Wetboek, sê sy: “Die Here sê vir Josia: Ek gaan hartseer bring oor Juda en Jerusalem, want hulle het My vergeet en agter afgode aangeloop wat hulle sommer met hulle eie hande gemaak het. Al die swaar strawwe wat in die Wetboek staan, gaan Ek oor Juda bring. Maar omdat Josia hartseer was toe hy hoor wat in die wet staan, sal Ek hom spaar. Die strawwe gaan nie in sy lewe kom nie.”
Tobias: Haai, Tannie? En toe?
Tannie: Tobias, Josia het toe die hele volk laat bymekaar kom en vir hulle die Wetboek voorgelees. Hy het daai dag die Here belowe dat hy Hom wil dien. Hy het vir die volk gesê: “Julle moet net die Here God alleen dien.” En toe begin die groot skoonmaak van die tempel: al die priesters en wagte moes help. Hulle het beelde en altare en kamers vir afgode uit die tempel uitgehaal, stukkend geslaan en fyngemaal. Josia besef toe daar is nog ander dele van die land wat ook moet skoonkom van altare vir afgode. Net soos ‘n profeet driehonderd jaar vantevore voorspel het, het hy mensbene uit grafte laat haal en dit op die altare van die afgode gebrand. So het hy seker gemaak geen afgodspriester sou weer daar ‘n offer vir sy god wou bring nie. Josia het ook daai dag die graf gesien van die profeet wat in die tyd van Jerobeam 1 voorspel het dat Josia mensbene op die altare gaan verbrand.
Tobias: Regtig Tannie? Toe gebeur dit wat die profeet gesê het?
Tannie: Ja, Tobias, nes hy voorspel het. Josia het ook gesê niemand mag meer met dooies probeer praat of allerhande voorspellings maak nie. Julle, toe het Josia gesê die volk moet weer die paasfees vier. Dit was die grootste paasfees wat gevier is sedert Sameul geleef het. Die Leviete het die offers gebring. Die sangers het gesing. Die hele volk het saamgevier!
Tobias: Dis fantasties!
Tannie: Tobias! Daar was nie ‘n koning voor Josia of na hom wat die Here so met sy hele hart gedien het nie. Toe hy nege en dertig jaar oud was, het hy uitgetrek teen soldate van Egipte. ‘n Pyl het hom getref en hy is toe dood. Die mense van Juda was baie hartseer. Tot die profeet Jeremia het ‘n treurlied oor hom geskryf.
Tobias: Dis jammer hy is so jonk dood, maar klink of hy in sy lewe die land goed skoongemaak het van afgode en altare en verkeerde goeters. Tannie, dankie vir die storie. Ek gaan vir my maatjie en sy sussie gaan vertel van die profeet wat voorspel het van Josia. O, lekker! Maats, ons gaan nou groet, want ek moet nou hardloop. Totsiens julle almal, tot volgende keer!
***