Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Stories uit Kanaän 110: Die laaste vier konings van Juda
Hierdie is die laaste storie in die reeks: Stories uit Kanaän, want hierdie storie vertel hoe die laaste mense weggevoer is uit Juda. Ons lees dit in 2 Konings 23-25 en 2 Kronieke 36.
Stories uit Kanaän 110: Die laaste vier konings van Juda (2 Konings 23- 25 en 2 Kronieke 36)
Tobias: Hallo, almal! Tannie, Tannie, wat beteken Boontjie kry sy loontjie?
Tannie:Boontjie kry sy loontjie? Tobias, dis ‘n idoom wat beteken dat jy gaan kry waarvoor jy soek. As iemand steel, gaan hy gestraf word en moet dit terugbetaal. Mmm, as jy nie leer nie, sal jy swak punte kry.
Tobias:O! Of as my maatjie sy ma se venster aspris stukkend gooi, moet hy sy sakgeld daarvoor gee?
Tannie:Jy het hom, Tobias!
Tobias:Tannie, kom dit uit die Bybel uit?
Tannie:Nee, dit kom van ‘n storie uit Nederland. Maar in die Bybel is daar baie stories waar ons sien dat “boontjie sy loontjie gekry het.” Vat nou maar die konings van Israel: so baie van hulle het verkeerd gedoen. Maar wat God anders maak, is dat Hy mense gespaar het van straf as hulle sê hulle is jammer. Ongelukkig was daar ook ‘n klomp konings wat nooit jammer gesê nie. Dan het slegte dinge maar gebeur. Kom ek vertel julle vandag van die laaste vier konings van Juda. Interessant genoeg was drie van hulle broers.
Tobias:Nou laat ons hoor wat die boeties gedoen het!
Tannie:Na Josia se dood, het sy seun Joahas koning geword vir drie maande. Hy het nie die Here gedien nie. Toe kom vang koning Farao Neko van Egipte vir Joahas en gaan sit hom in die tronk. Farao sê toe dat sy broer Jojakim moet koning word. Eintlik was sy naam Eljakim, maar Farao het sy naam verander.
Tobias:Hoe lank kon Jojakim regeer, Tannie?
Tannie:Tobias, hy het elf jaar regeer. Farao Neko het baie goud en silwer gevra vir Juda. Jojakim moes dit by die land se mense vra, want hy het nie genoeg gehad nie. Boonop het die koning van Babel, Nebukadnesar ook teen Jerusalem opgetrek. So, hulle het swaar gekry, maar hy het nie die Here gedien nie. Die Bybel sê dat dit eintlik so swaar gegaan het omdat die Here nie die volk vergeef het vir al die sondes wat in koning Manasse se tyd gedoen is nie. Profete van God het voorspel dit gaan gebeur. Jojakim het vir drie jaar die klomp goud en silwer aan Nebukadnesar betaal, maar toe wou hy nie meer nie. Toe kom vang Nebukadnesar hom en vat hom na Babel toe. Hy het ook mooi goed uit die tempel gevat en dit in sy afgod se tempel gaan sit.
Tobias: Aggenee! En wie word toe koning, Tannie?
Tannie: Tobias, Jojagin, Jojakim se seun het toe koning geword. Hy het net drie maande en tien dae geregeer. Hy het ook nie die Here gedien nie. Toe kom Nebukadnesar en stroop Jerusalem van al die mooi goed uit die tempel en die paleis. Al die mooi goue goed wat Salomo vir die tempel laat maak het, is stukkend geslaan. Koning Jojagin gee homself toe maar oor. Toe word hy en al sy vrouens, al die belangrike mense en al die goeie soldate weggevoer na Babel. Ook klomp vakmanne wat mooi goed kon maak, is weggevoer. Baie jong, sterk manne is ook gevang en saamgevat.
Tobias: Tannie, dis verskriklik! Hoekom het die konings tog nie maar teruggekom na God toe nie? Was daar toe nog iemand oor wat kon koning wees?
Tannie: Julle, Nebukadnesar het toe ‘n broer van Joahas en Jojakim koning gemaak. Sy naam is verander na Sedekia. Hy het elf jaar in Jerusalem geregeer. Hy het alles gesien wat gebeur het, maar wil julle my nou glo? Hy het ook nie die Here gedien nie. Jeremia en ander profete het met hom en die priesters kom praat, maar hulle het glad die profete uitgelag! Die Here het toe besluit om die hele volk weg te vee.
Tobias: Tannie! Nee! Hoe het dit gebeur?
Tannie: Tobias, koning Sedekia het eers alles gedoen wat Nebukadnesar vir hom gesê het, maar het later in opstand gekom. Toe val Nebukadnesar Jerusalem weer aan. Hy het met sy soldate rondom die stad gebly vir ‘n lang tyd, sodat die mense daarbinne later niks meer gehad het om te eet nie. Die soldate van Jerusalem het toe in die nag probeer vlug deur ‘n gat in die stadsmuur, maar hulle en koning Sedekia is gevang. Nebukadnesar het vreeslike wrede goed met Sedekia aangevang en hom weggevat na Babel toe. Boonop het soldate van Babel Jerusalem verwoes: die tempel, die paleis en al die groot geboue en mooi huise is afgebreek en verbrand. Selfs ‘n deel van die stadsmuur is afgebreek. Nou is al die mense wat nog oorgebly het in die land weggevat, behalwe die armste mense wat die landerye moes bewerk. Nebukadnesar het ‘n goewerneur, Gedalja, aangestel oor die laaste paar mensies. Maar ‘n paar van Juda se mense wat weggekruip het toe almal weggevoer is, het gekom en hom vermoor. Hulle vlug toe na Egipte toe.
Tobias: Tannie, toe is die hele Israel weg uit Kanaän? Party in Babel en ander in Egipte?
Tannie: Jy is reg, Tobias. Nes God hulle gewaarsku het. Tog het iets interessant met Jojagin daar in Babel gebeur. Nebukadnesar is oorlede en sy seun het koning geword. Toe haal hy vir vir Jojagin uit die tronk en gee hom mooi klere. Hy mag elke dag by hom aan tafel geëet het. En ons eindig ons storie vandag met ‘n belofte. God het sy volk swaar gestraf, maar Hy het deur sy profeet Jeremia gesê dat die land sewentig jaar sal rus, en dan sal God sy volk terugbring na die land Israel.
Tobias: Regtig? So ek kan nou maar ophou huil? Daar was hoop vir Israel?
Tannie: Tobias, maats, ons sluit vandag die Stories uit Kanaän af, maar in die boeke van die profete gaan ons hoor hoe die Here vir Juda teruggebring het. As mense terugkom na God toe, vergewe Hy altyd weer. Ons groet julle met wat God sê in Ps 34:6: “Ek die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig en vol liefde en trou.” Totsiens, totsiens, tot volgende keer!
***