Bybelstories in Afrikaans

Boeke van die profete 3: Nehemia gaan na Jerusalem

Carin Conradie Season 6 Episode 3

In Nehemia 1 - 4 lees ons hoe dit gekom het dat Nehemia na Jerusalem is en die mense aangemoedig het om die muur rondom die stad te begin herbou.

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Boeke van die profete 3:   Nehemia gaan na Jerusalem  (Nehemia 1 - 4)

 

Tobias:  (huil)

Tannie: Hallo, Tobias!  Hoekom huil jy so?

Tobias: Hallo, tannie Carin.  Ek en  my maatjie wou bou-bou speel, maar my groen armpies is so dun: toe laat val ek ‘n baksteen op my voet!  

Tannie: Ai, ek is jammer!  Het julle nie geweet bouwerk is baie harde werk nie?

Tobias: Ek het dit aan my voet gevoel, ja!  Tannie, het die mense in die Bybel se tyd ook baie gebou?

Tannie: Ja, hulle het!  Dalk kan ek vandag  juis ‘n storie oor ‘n bouery  vertel.  Maar Tobias,  voel jou voet al beter?

Tobias: Dis seer, maar die storie sal my help om dit te vergeet.  Vertel, asseblief!

Tannie: Julle, ons het mos vertel van  die mense van Juda wat terug is na hulle  land, Israel.  ‘n Groot groep is saam met  Serubbabel en daarna ‘n klein groepie saam met Esra. In vandag se storie begin vertel ons van Nehemia wat met ‘n paar mense terug is na Jerusalem.   Hy was koning  Artasasta van Persië se wynskinker.   Hy is gebore in Babel, maar hy het alle nuus wat hy kon hoor van sy eie land, Israel, uitgesnuffel.  Op ‘n dag hoor hy daar is iemand wat nounet terug is van Jerusalem.  Hy is dadelik na hom toe.  Die man het hom vertel dit gaan swaar in Jerusalem.  Die stad se mure is nog nie eers gebou nie.  Alles lê nog net so in stof!  O, maar was Nehemia nou hartseer toe hy dit hoor.  Hy het gehuil en gevas en lank gebid tot God.  

Tobias: Het hy iets gedoen ook?

Tannie: Tobias, Nehemia vertel dat hy altyd vrolik was as hy die koning en koningin se wyn inskink, maar die dag kon hy net nie vrolik lyk nie.  Die koning vra toe: “En as jy so af lyk, Nehemia? Is jy siek?  Of harseer?”  Nehemia was maar bang, maar hy antwoord toe die koning:  “Ai, koning, ek kan nie help om hartseer te wees as die mure van die stad van my oupas in flenters lê nie.”  Die koning vra hom toe of hy hom iets wil vra.  Nehemia het vinnig in sy hart gebid:  “Here, help tog nou, asseblief”  en toe antwoord hy:  “As die koning dalk nou vir my goed wil wees, stuur my asseblief na Jerusalem dat ek die mure kan gaan bou?”  Die koning het gevra:  “Mmm, en hoe lank sal jy soontoe reis?  En wanneer sal jy terugkom?”  Nehemia het vir die koning ‘n tyd gegee en ook gevra of hy dalk briewe kan kry wat kan help dat hy veilig kan reis.  Hy het ook gevra of hy bome uit die koning se bos kan kry vir die bouery.   En God was so goed dat hy gehelp het dat die koning toe ja sê.

Tobias: En daar gaan hy?

Tannie: Ja, Tobias, en daar gaan hy!   Maar hy het vir niemand gesê hoekom hy in Jerusalem is nie.  Hy wou eers kyk hoe groot is die bouwerk wat gedoen moet word.   Hy vat toe sy donkie en ‘n paar manne en hulle gaan stilletjies in die nag en ry om die muur.  Op party plekke het die bourommel so hoog gelê dat sy donkie nie eers daar kon ry nie!  Toe die volgende dag, praat hy met die leiers:  “Julle sien hoe sleg gaan dit hier.  Ons muur is stukkend en die poorte is verbrand, maar die Here was so goed vir my dat die koning my hierheen laat kom het.  So, wat sê julle?  Gaan ons hierdie muur weer opbou? “   Die mense het geantwoord:  “Kom ons bou”. 

Tobias: En toe begin bou hulle?

Tannie: Ja, hulle het begin bou!  Daar was ‘n paar belangrike mense wat nie sulke harde werk vir hulle Here wou doen nie, maar almal anders het gebou: die priesters, Leviete,  hoofmanne oor wyke, ystersmede, salfmengers, ‘n pa met sy dogters.  Hulle het die mure en ook die hekke en die skarniere en die sluitbalke gebou vir al die groot poorte! 

Tobias: Aarde, Tannie!  Klink my hulle het omtrent  hard gewerk!

Tannie: Tobias, en om dit nog moeiliker te maak, hoor hulle toe dat die vyande rondom hulle hulle bouery wou stopsit.   Hulle het hulle gedreig en gespot:  “O, die Judeërs bou so ‘n ou effense muurtjie dat ‘n jakkals dit sommer sal kan omspring.”  Nehemia was hartseer en het by God gekla:  “Here, hoor  hoe spot hulle ons!”  Maar die mense wou graag klaar bou, so hulle het net aangehou.    

Tobias: Hoe ver het hulle al toe getrek?

Tannie: Julle, die muur was nou al halfpad klaar.  Maar toe kom nog moeilikheid.  Mense het kom vertel dat die vyande hulle gaan kom aanval. Toe moes Nehemia nuwe planne maak.    Hulle het gevra dat God hulle help.  Hulle het wagte uitgesit wat kon kyk wanneer kom die vyand.  Nehemia het vir die mense gesê:  “Julle, moenie bang wees vir hierdie mense nie.  Dink aan hoe groot en wonderlik ons God is.  En as ons moet veg, sal ons veg.”  Van daai dag af het die helfte van die mense gebou en die ander helfte het die wapens reggehou.  Die mense wat boumateriaal aangedra het, het met een hand gedra en in die ander hand ‘n wapen vasgehou.  Die bouers het hulle swaard aan hulle gordel vasgemaak.  Hulle het gebou en gebou.   Nehemia en sy groep het nie eers tyd gehad om ander klere te gaan aantrek nie.

Tobias: Aarde, Tannie?  Maar dit klink na swaar werk?  

Tannie: Dit was baie swaar werk.  Maar hulle het aangehou, want hulle wou dit graag klaarmaak en hulle het heeltyd tot God gebid om hulle te help.

Tobias: En kon hulle dit klaarkry, Tannie?

Tobias: Tobias, dalk moet ons daai  verrassing hou vir ons volgende storie.  

Tobias: O, nou is ek so nuuskierig!  Ek hoop die tyd gaan gou verby dat ons verder kan luister!  Maats, so ek groet julle nou dat ons gou weer kan kom.  (lag)  Julle, maar lyk my ons kan ook vir God vra om ons te help met enige iets waarmee ons sukkel!   Maats, gaan kyk bietjie vir watter swaar ding in jou lewe jy vandag kan bid.  En dan kom julle sommer gou weer.  Totsiens, totsiens!

***