Bybelstories in Afrikaans

Boeke van die profete 4: Jerusalem se muur word klaar gebou

Carin Conradie Season 6 Episode 4

In Nehemia 5 tot 7 lees ons hoe die Judeërs deur al die moeilikheid tog die muur klaar gebou het in net twee en vyftig dae.

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Boeke van die profete 4:  Jerusalem se muur  word klaar gebou  (Nehemia 5 - 7)

 

Tobias: Hallo, tannie Carin en hallo, maats!  Tannie, ek  het ‘n vragie?

Tannie: Hallo, julle! Ja, ons liewe nuuskierige Tobias? Wat wil jy vra?

Tobias: Wat beteken dit as mense sê “aanhouer wen”?

Tannie: Tobias, dit beteken dat as mens net aanhou en aanhou met ‘n moeilike werk, dan sal jy dit klaarkry.

Tobias: Ek hou daarvan:  hou aan, aan hou, hou aan… ek is seker Tannie kan aan ‘n Bybelstorie dink  waar “aanhouers gewen” het?

Tannie: Ja, ou verspotte Tobias!  Ek kan aan een dink.  Julle onthou dat Nehemia en die mense van Juda en Bejamin begin het om Jerusalem se muur te bou?  Nou ja, daar het “aanhouers gewen”!

Tobias: Ek het mos gesê!  Vertel, asseblief, Tannie?

Tannie: Julle, Nehemia-hulle het baie moeilikheid gehad met die bouery.  Ons het laas vertel hoe vyande hulle wou stop.  Dit het net bietjie beter gegaan, toe kom kla ‘n klompie dat hulle te honger is.  Nehemia wou weet hoekom hulle dan nie kos van hulle lande of wingerde af eet nie.  En daar word toe ‘n hele byenes van moeilikheid oopgekrap!  Hy hoor toe dat die ryk Judeërs die armer Judeërs baie swaar laat kry het.  Daar was ‘n hongersnood en toe het hulle hul lande en huise verruil vir koring.  Ander moes belasting aan die koning betaal en het niks gehad nie.  Toe verkoop hulle hul kinders as slawe aan die ryk mense om tog ‘n geldjie te kry.   Nehemia was baie ontsteld toe hy dit hoor.  Hy reël toe ‘n groot vergadering met die ryk mense en raas omtrent met hulle.  

Tobias: Wat sê die ryk mense toe?

Tannie: Niks!  Hulle het doodstil gesit en nie hulle monde oopgemaak nie!  Maar Nehemia was nog nie klaar nie.  Hy het nog met hulle geraas en gesê:  “Hierdie uitbuitery moet nou stop. Vandag nog gee julle al die lande, wingerde, olyfboorde en huise terug.  Julle moet ook een persent afslag gee vir die kos en geld wat hulle by julle geleen het, sodat hulle nie alles hoef terug te betaal nie.   Julle gaan sweer dat julle dit gaan doen.”  Toe antwoord die hele vergadering:  “Amen”.  Hulle het toe gedoen wat hy gevra het en die dag die Here geprys.

Tobias: Wonderlik!   En het hulle toe nog probleme gehad met die bou van die muur?

Tannie: Julle, daar was so baie dinge waaraan Nehemia gelyk moes dink.  Daar was honderd en vyftig mense in sy huis wat moes kos kry  - nog mense wat help bou het.  So behalwe die beplanning vir die bouery, moes hy sorg dat daar elke dag genoeg kos ingebring is dat die kombuis dit kon maak.  Nehemia was eintlik toe die goewerneur van Juda.  Hy kon vir die volk geld gevra het, omdat hy hulle leier was, maar hy het nie.  Hy het die kos uit sy eie geld betaal.    En intussen maak die vyande toe weer planne om die bouery te stop.  

Tobias: Aggenee!  Wat hierdie keer?

Tannie: Die vyande het vir Nehemia ‘n boodskap gestuur om hulle iewers te ontmoet om te gesels.  Hy het geweet hulle wou hom eintlik seermaak.  Hy laat weet toe hy is baie besig met bou, hy kan nie nou kom nie.  Julle, hulle stuur daai boodskap vier keer.  Elke keer laat weet hy net hy kan nie kom nie.  Die vyfde keer stuur hulle ‘n dreigbrief waarin hulle sê hy moet nou kom, want hulle hoor hy wil koning word in Juda.  Hulle gaan dit vir die koning van Persië gaan vertel, as hy nie na hulle toe kom nie.  Nehemia laat weet toe:  “Julle het sommer dit uitgedink.  Dis glad nie waar nie.”  Maar hulle het nie opgehou met planne maak nie.    Iemand van Juda het homself in sy huis toegesluit.  Toe Nehemia by hom kom, sê hy:   “Kom ons ontmoet mekaar in die tempel.  Ons moet daar wegkruip, want mense wil jou vannag kom doodmaak.”

Tobias: Doen hy dit toe?

Tannie: Tobias, Nehemia het gedurig tot God gebid.  Elke dag, aanmekaar.  Die Here het hom gehelp om deur die mense se planne te sien.  Hy het uitgevind dat die man dit gesê het omdat die vyande hom omgekoop het!    Maar Tobias, wat het ons gesê?  Aanhouer wen!   Julle, na net twee en vyftig dae, toe is die muur klaar gebou.  Selfs die poortdeure was ingesit, sodat hulle die stad saans kon toesluit.   Toe die vyande dit hoor, was hulle doodstil.   Hulle het gesien die mense van Juda het dit nie uit hulle eie krag gedoen nie.  God het hulle gehelp!

Tobias: Fantasties!   Net twee en vyftig dae?  Mens kan dit amper nie glo nie!

Tannie: Dis die Here se krag!   Maar julle, Nehemia het geweet hulle moet die stad mooi oppas teen die vyande.  Hy het poortwagte en ‘n hoof oor veiligheid aangestel.  Hy het gesê die poorte moet eers oopgemaak word as die son warm skyn en dan sommer weer vroegaand toegemaak word.  Mense moes ook wagstaan by die wagposte en by hulle huise.   En in alles, het hy gedurig tot God gebid.

Tobias: Tannie, dis nou ‘n lekker storie:  “aanhouer wen”!   God het vir Nehemia gesê om die muur te bou, daarom het God hom gehelp om klaar te maak.  Maats, dis wonderlik om sulke stories te hoor en te weet:  God is nog steeds dieselfde God!  Hy wil vandag vir jou en vir my help om aan te hou om te doen wat Hy vra.

Tannie: Dis reg, Tobias.  In Afrikaans sê ons  “aanhouer wen”, maar in die Bybel is daar ‘n storie in Lukas agtien wat Jesus vertel het sodat ons moet aanhou bid en nie moedeloos word nie.  Dis sommer nog beter as “aanhouer wen”   -  hou aan met bid sonder om moedeloos te word!

Tobias: Dankie Tannie!  Ek dink dis die beste manier om vandag se storie mee af te sluit.  Maats, ons groet julle met “hou aan met bid sonder om moedeloos te word.”  Totsiens, almal, totsiens!

***