Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Boeke van die profete 6: Nehemia kom weer terug na Jerusalem
In Nehemia 13 lees ons hoe kwaad Nehemia vir die Judeërs geword het omdat hulle dinge gedoen het wat hulle weet verkeerd was.
Boeke van die profete 6: Nehemia kom weer terug na Jerusalem (Nehemia 13)
Tobias:Tannie Carin, hallo! Ek wonder…
Tannie:Hallo, liefste, nuuskierigste Tobias, waaroor wonder jy?
Tobias:Hoekom voel mense?
Tannie:Wat bedoel jy Tobias? Voel soos bly of hartseer, of bang of kwaad?
Tobias:Ja! Dis wat ek bedoel. Mag mense voel?
Tannie:Verseker mag en moet ons voel. Dis nie die gevoel wat verkeerd is nie, maar soms wat ons daarmee maak. As ons nou kwaad sou wees as iemand aan ons stamp en ons slaan hom bloedneus, dan is die slaan verkeerd.
Tobias:Maar Tannie, mag mens ooit kwaad word? Is dit nie ‘n slegte gevoel nie?
Tannie:Tobias, partykeer moet ons juis kwaad word dat verkeerde dinge reggemaak kan word. Kom ek vertel julle bietjie van hoe kwaad Nehemia in die Bybel was.
Tobias:Laat ons hoor?
Tannie:Julle, Nehemia was vir twaalf jaar lank goewerneur in Jerusalem. Toe het die koning van Persië gevra hy moet terugkom. Maar na ‘n paar jaar - ons weet nie hoe lank nie - kon hy weer teruggaan na Jerusalem.
Tobias:Mooi! Ek hoop alles wat nog goed en reg soos hy dit gelos het?
Tannie:Tobias, dit is nou juis die ding! Daar was vier groot probleme waaroor hy toe met die Judeërs moes praat. Die eerste probleem was oor ‘n man Tobija. Hy was van Ammon en was een van die vyande wat nie wou hê hulle moes die tempel en die muur van Jerusalem herbou nie. Tobija was getroud met een van die priesters se familielid. In die tyd wat Nehemia weg was van Jerusalem, het een van die priesters sommer vir Tobija ‘n lekker groot kamer reggemaak in die tempel. Dit was eintlik die plek waar al die offers en gereedskap gebêre moes word. Maar julle, was die Nehemia nou kwaad toe hy terugkom en dit sien!
Tobias:Wat het hy gemaak met sy kwaad?
Tannie:Julle, hy het vir Tobija uitgejaag en al sy meubels uit die kamer gegooi! Die tempel van God was heilig. Daar kon nie mense in bly nie, en dit nog iemand wat nie eers die Here lief gehad het nie. Nehemia het die plek netjies laat skoonmaak soos die wet gesê het en toe weer alles daar gebêre.
Tobias:Sjoe! En Tannie sê daar was nog probleme?
Tannie:Nehemia het gesien die Leviete wat elke dag moes sing daar in die tempel, was weg. Hulle is terug na hulle grond toe om te gaan boer. Maar lyk of die eintlike probleem was dat die res van die volk nie meer vir hulle kos gebring het soos hulle moes nie.
Tobias, en dan was daar die probleem met hulle sabbatdag. God het gevra hulle moet rus daai dag. Maar dit lyk of hulle toe steeds aangehou het met werk. Hulle het die wynpers getrap en kos gekoop en verkoop. Nehemia het kwaai met die mense gepraat: “Hoe kan julle die sabbat ontheilig? God het gesê julle moet rus, maar nou koop en verkoop julle? Julle gaan maak dat God baie kwaad raak vir ons. Nee man! Van nou af gaan die poorte in ons stadsmuur toegemaak word voor die sabbat begin. En dit gaan eers weer oopgemaak word nadat die sabbat verby is. Ja, en julle klomp wat vis en goed hier kom verkoop op die sabbat? Nee! Julle kom nie hier in op die sabbat nie. En nee, julle slaap ook nie buite die hek nie. Julle gaan moeilikheid kry as julle dit weer doen.”
Tobias:Tannie, het die mense darem toe geluister?
Tannie:Ja, hulle het, Tobias.
Tobias:Dankie tog! Dalk het hulle vergeet in die tyd wat Nehemia weg was? Ai! Maar Tannie het gesê daar was ook ‘n vierde probleem?
Tannie:Ja! Klomp jare tevore het die skrifgeleerde Esra mos met die Judeërs geraas wat vir hulle vrouens uit die ander nasies gevat het. Lyk my dit het toe weer gebeur in die tyd wat Nehemia weg was. Hy sien toe daar loop kinders rond wat nie Judees kan praat nie. Hulle het ander vreemde tale gepraat. Maar toe was Nehemia woedend! Voor hy weg is na Persië het die mense glad op ‘n dokument wat met was toegemaak is, beloof om nie hulle dogters en seuns met ander volke te laat trou nie. En sowaar, lyk of hulle vergeet het. Nehemia het dinge gedoen wat vandag baie vreemd sou gewees het: hy het met hulle geraas en hulle geslaan en party se hare uitgetrek. Dit klink woes! Maar dit was om hulle te laat belowe dat hulle nooit weer hulle dogters of seuns met ander volke sal laat trou nie.
Tobias:Hoekom was hy so kwaai daaroor, Tannie?
Tannie:Tobias, trou met ander volke het beteken dat hulle dan ook daai volke se afgode begin dien het. Nehemia het die Judeërs herinner aan hoe die slimme koning Salomo ander gode begin dien het toe hy met ander vrouens getrou het. En dan, kinders wat nie Judees kon praat nie, kon mos ook nie die wet verstaan nie. Dan sou hulle nie kon weet hoe om vir God lief te hê nie.
Tobias:Ek verstaan!
Tannie:Julle, daar was selfs manne tussen die priesters wat met ander volke se mense getrou het. Nehemia het een so ‘n man weggejaag, want daar mag nie so iemand diens gedoen het in die tempel nie.
Tobias:Tannie, so al klink die goed wat Nehemia gedoen het nou vir ons snaaks, was dit alles om die mense van Juda te help om net die Here God alleen lief te hê?
Tannie:Dis nes jy daar sê. Dit help ons ook om te verstaan dat ons regtig nie moet dinge doen wat ons weet verkeerd is nie. Dan kan mense nie sien hoe groot en wonderlik ons God is nie. Dan sien hulle net die verkeerde goed raak.
Tobias:Ai, maats, kom ons doen die regte dinge dat mense vir God in ons kan sien! Maar lyk my ons moet nou al weer groet, Tannie? Ai, die storietyd loop so gou uit! Maats, ons groet dan tot volgende keer! Totsiens!
***