Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Boeke van die profete 7: Ester word koningin
Ons begin vertel die storie van Ester, 'n jong Jodin wat die koning van die Mediërs en Perse se vrou geword het. Ons lees dit in Ester 1 en 2.
Boeke van die profete 7: Ester word koningin (Ester 1-2)
Tannie:Hallo, Tobias! Hallo, maats! Welkom op ‘n vrolike dag!
Tobias:Hallo, tannie Carin! Hoekom is dit ‘n vrolike dag?
Tannie:Tobias, storie-vertel-dae is altyd vir my vrolike dae!
Tobias:O! Tannie, kan ek asseblief sê waaroor vandag se storie moet gaan?
Tannie:Laat ek hoor, Tobias?
Tobias:Ons hoor so baie stories oor ooms, kan ons vandag ‘n storie hoor oor tannies?
Tannie:(lag) Ons kan, lawwe, Tobias! Wat van sommer ‘n hele paar stories oor ‘n tannie?
Tobias:Regtig? Kan Tannie? Vertel, vertel!
Tannie:Tobias, die stories begin met ‘n koning van die Mediërs en Perse, Ahasveros. Sy oupa was Kores: die koning wat die eerste Jode saam met Serrubabel teruggestuur het na Jerusalem.
Tobias:Ek dog dis ‘n storie oor ‘n tannie!
Tannie:Wag, Tobias, wees net geduldig. Ons sal nou by die Tannie kom. Julle, die Ahasveros was baie ryk en hy wou spog daaroor. Hy het in die stad Susan gebly. Party van die Jode was nou al terug na Jerusalem, maar nog nie almal nie. In daardie tyd besluit Ahasveros om ‘n groot partytjie te hou vir al die belangrike mense van die honderd sewe en twintig provinsies waaroor hy koning was. Hy het ‘n groot uitstallling gehou van al sy mooi en duur goed. Die mense kon vir honderd en tagtig dae daarna kom kyk. En daarna hou hy toe nog ‘n fees in sy tuin vir ‘n hele week lank.
Tobias:Wie het na die partytjie toe gekom?
Tannie:Hierdie keer is al die mense van die stad Susan genooi. Die tuin was pragtig versier met rooi en wit doeke, pers linte en silwer en goue rusbanke. Daar was soveel wyn as wat die mense wou hê, maar die koning het gesê: “My paleisbediendes, julle moet die mense mooi bedien, maar moet niemand dwing om te drink nie.” Sy koningin, Vasti, het ook ‘n partytjie vir al die vrouens gegee. Op die sewende dag van die fees, was die koning nou al vrolik van al die wyn. Hy wou toe verder spog met al sy mooi goed. Hierdie keer was dit met sy koningin. Hy het sewe beamptes gestuur om haar te gaan roep om na die manne se partytjie te kom. Hy het gesê: “Sy moet haar kroon ophê, hoor!” Maar julle, daar steek Vasti toe viervoet vas. Sy het geweier om daar te gaan rondpronk voor die manne wat partytjie hou.
Tobias:Oepsie! Was die koning kwaad?
Tannie:Tobias, hy was briesend kwaad! Hy het dadelik vir sy sewe raadgewers gevra wat hy nou moet doen. Hulle het gesê hierdie ding gaan ‘n lelike voorbeeld vir al die vrouens in die hele koninkryk word. Hy moet dadelik vir Vasti afsit as koningin en briewe vir die hele ryk skryf. In die brief, wat eintlik nou ‘n wet geword het, het gestaan dat alle vrouens vir hulle mans moes luister, want die man is die baas van die huis. Ai, julle! Maar later toe die koning afgekoel het, het hy baie aan Vasti gedink. Toe sê sy amptenare: “O koning, laat kom die mooiste meisies in die land en kies vir u ‘n nuwe koningin.”
Tobias:Regtig? Toe doen hulle dit?
Tannie:Ja! Amptenare het al die pragtige meisies in die land gesê om na die paleis te kom. Hulle moes vir ‘n jaar lank lekkerruik behandeling kry. Vir ses maande met mirre-olie en toe met lekkerruikkruie. Daar was ‘n man wat nooit kon trou nie, Hegai, wat na al die meisies moes kyk. En Tobias, raai van wie het Hegai die meeste gehou? Die meisie waaroor ons storie gaan!
Tobias:Wie was sy, Tannie?
Tannie:Tobias, haar naam was Ester. Haar ouer neef, Mordegai, het haar aangeneem, want haar ouers was al dood. Mordegai was een van die Jode wat weggevoer is vanaf Jerusalem. Die Ester was baie, baie mooi. Toe die koning se amptenare haar raaksien, het Mordegai vir haar gesê: “Ester, jy moet ongelukkig gaan, maar moenie vir iemand sê jy is ‘n Jodin nie.” Julle, soos ek gesê het, Hegai het baie van Ester gehou. Hy het haar dadelik op die lekkerruik behandeling gesit en die regte kos laat eet. Hy het ook die sewe beste bediendes en die beste kamer vir haar gegee.
Tobias:Nou wat het na die jaar se lekkerruik-behandeling gebeur, Tannie?
Tannie:Tobias, na die jaar moes die meisies een vir een na die koning se paleis gaan. Die meisies was seker maar op hulle senuwees, want as die koning hulle nie gekies het nie, kon hulle nooit weer na hom toe gaan nie en moes bly in iets soos ‘n koshuis vir al die koning se byvrouens. Julle, die aand wat hulle na die koning moes gaan, kon hulle enige iets saamvat wat hulle wou. Toe dit Ester se beurt was, het sy net saamgevat wat Hegai vir haar gesê het om te vat.
Tobias:En wat gebeur toe?
Tannie:Julle, Ester was so mooi vir die koning dat hy haar gekies het as die nuwe koningin. Hy het die kroon op haar kop gesit en haar in die paleis ingebring. Hy was so opgewonde oor sy nuwe vrou, dat hy weer ‘n groot fees gehou het, spesiaal vir Ester. Hy het so vrolik gevoel dat hy vir al die mense in sy koninkryk gesê het hulle hoef nou nie meer so baie belasting te betaal nie. En, Tobias, hy het sommer klomp geskenke ook uitgedeel!
Tobias:Sjoe! Dit klink lekker! En Tannie sê ons gaan nog van Ester hoor?
Tannie:Ja, Tobias! Ons gaan nog vertel hoe God vir Ester gebruik het om haar volk te red.
Tobias:Wat? Regtig? Is dit wat God beplan het? Wonderlik! Dan is dit nou goed dat ons storietyd verby is, dat ons gou weer kan kom om verder te luister!
Tannie:Ja, maats! Ons kan ons God vertrou dat Hy altyd die beste planne het. Ons groet julle dan nou, maar kom sommer gou weer! Totsiens, almal, totsiens!
***