Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Boeke van die profete 8: Haman wil die Jode doodmaak
In Ester 2 tot 5 lees ons van Haman wat net niks van Mordegai gehou het nie. Die gevolg was dat hy die koning gevra het om 'n wet te skryf dat die Jode op 'n sekere dag almal uitgewis kon word.
Boeke van die profete 8: Haman wil die Jode doodmaak (Ester 2 - 5)
Tobias: (lag)
Tannie: Tobias? Hallo! En as jy so lekker lag?
Tobias: Hallo, julle! Tannie, my maatjie se ma sê ons moenie neus in die lug rondloop nie! (lag) Dink hoe snaaks gaan dit lyk, (lag) en ons gaan mos val? (lag)
Tannie: (lag) Tobias, weet jy wat beteken dit? Dit beteken iemand is hoogmoedig; hy dink te veel van homself!
Tobias: O? Ja, en hy gaan tog later val. (lag)
Tannie: Tobias, ek weet van ‘n Bybelstorie van iemand wat so neus in die lug was.
Tobias: O, lekker! ‘n Storie? Van iemand wat neus in die lug rondgeloop het?
Tannie: Tobias, maats, julle onthou dat Ester koningin geword het van die Persiese koning? Nouja, haar neef, Mordegai het eendag ‘n geheim gehoor.
Tobias: ‘n Geheim? Wat was dit?
Tannie: Hy was in die poort van die koning waar belangrike mense vergaderings gehou het. Toe hoor hy twee paleisbeamptes praat: “Ek is so kwaad vir die koning! Ek wil hom sommer doodmaak.” Die ander een het gesê: “Ek is net so kwaad. Ek sal jou help.” Mordegai het skelmpies vir Ester ‘n boodskap gestuur daaroor. Sy het dit aan die koning vertel. Die twee manne is gestraf en Mordegai se naam is opgeskryf in die koning se geskiedenis boek.
Tobias: O, aarde! Dis goed hy het dit gehoor!
Tannie: Tobias, ons gaan anderdag terugkom na hierdie storie. Na ‘n tyd het die koning een van sy amptenare, Haman, die belangrikste amptenaar van almal gemaak. Die koning het gesê almal moet voor hom buig. Maar Mordegai het gesê hy buig nie voor ‘n mens nie. Hy is ‘n Jood. Almal het geweet hulle aanbid vir God. Haman het vreesliks kwaad geword vir Mordegai. Toe hy ook nog hoor hy is ‘n Jood, was hy nog kwater. Hy wou sommer vir Mordegai en sy hele volk doodmaak.
Tobias: Tannie! Nee!
Tannie: Tobias, Haman en nog mense het ‘n dag beplan vir ‘n hele volksmoord. Hulle het soort van lootjies getrek om te besluit op watter dag dit moes gebeur. Toe gaan hy na die koning: “O, koning Ashasveros, hier is ‘n volk in u koninkryk wat ons ‘n plan mee moet maak. Hulle hou hulle so eenkant. Hulle het ander gewoontes as ons en hulle gehoorsaam nie u wette nie. As u nou dink dis goed, maak ‘n wet dat hierdie hele volk uitgeroei moet word. Ek sal vir u so ‘n ou geldjie in die skatkis sit.” Julle, die koning het nie eers geweet wie die volk is nie. Hy sê toe: “Haman, skryf maar die wet. Hier is my seëlring om ‘n stempel op die briewe te sit. Ag, en los tog maar die ou geldjie.”
Tobias: Tannie? Skryf hulle toe die wet?
Tannie: Ja, Tobias. Hulle het dit in al die tale wat in die koningkryk gepraat is, geskryf en dis so gou moontlik met boodskappers uitgestuur. Julle, die Jode was so ontsteld en so hartseer! Hulle het rouklere aangetrek en bitterlik gehuil. Mordegai het deur die stad geloop en huil met rouklere aan en as op sy kop. Hy het naby die koning se poort gekom, maar hy mag nie so ingegaan het nie. Toe gaan vertel die paleisbeamptes vir Ester hoe lyk Mordegai. Sy het dadelik vir hom ander klere gestuur, maar hy wou dit nie vat nie. Sy stuur toe iemand om te gaan vra hoekom hy so huil. Mordegai het vir die man, Hatak, vertel dat die Jode oor so bietjie minder as ‘n jaar almal doodgemaak gaan word. Mordegai se boodskap aan Ester was: “Ester, hoor net wat sê hierdie nuwe wet. Jy moet na die koning toe gaan en vra dat hy ons jammer kry.” Maar Ester het laat weet sy mag nie sommer net na die koning gaan nie. Hy het haar dertig dae laas laat roep. En as hy jou nie laat roep nie en jy daag net by hom op, kan hy jou doodmaak. Net as hy dalk sy goue septer na jou toe uitsteek, kan jy bly leef. Mordegai laat weet toe vir haar: “Ester, jy moenie dink jy sal vrykom as al die Jode doodgemaak word nie. Wie weet, dalk is dit vir hierdie ding wat nou besig is om te gebeur, dat jy koningin moes word.” Ester laat weet toe vir hom: “Mordegai, roep al die Jode van die stad bymekaar. Vas vir drie dae. Ek en my kamerbediendes sal ook vas. Na die drie dae sal ek na die koning gaan. As hy my dan nou doodmaak, moet hy hy dit maar doen.“ Julle, en vas het beteken dat hulle gebid het tot God.
Tobias: Het hulle toe gevas en gebid?
Tannie: Ja, Tobias, hulle het. En op die derde dag het Ester haar mooi aangetrek en gewaag om in die voorhof te gaan staan, net voor die plek waar die koning se troon was. Toe die koning opkyk, sien hy vir Ester staan. Sy was vir hom so mooi, dat hy sy goue septer in sy hand opgelig het en na haar toe uitgesteek het! Sy het stadig nader gestap en aan die punt van die septer geraak.
Tobias: Wat? Regtig? So, sy kon bly lewe? Jippie! En toe, Tannie?
Tannie: Tobias, die koning vra toe: “Koningin Ester, wat kan ek vir jou doen? Wat wil jy hê? Ek sal die helfte van my koninkryk vir jou gee.” Ester het gevra: “O koning, as u wil, sal u en Haman vandag saam met my kom eet? Ek het ‘n ete vir u reggemaak.” Julle, en net daar en dan sê die koning dat Haman moet kom. Hulle gaan nou dadelik lekker saam met Ester eet.
Tobias: En toe, Tannie?
Tannie: En toe, Tobias, stop ons storie vir vandag. Ek sal volgende keer vertel wat het Ester daar by die ete vir koning Ahasveros gevra.
Tobias: Tannie! Ai! Ek is nou so nuuskierig. Maar toemaar, ons kry tog lekker omdat ons sien die Here het gehoor toe hulle vas en bid! En die koning het nie vir Ester doodgemaak nie. Jippie! Maats, dan groet ons seker nou maar? Kom gou weer, want ek is so nuuskierig oor daai ete! Mooi bly maats! Weet dit: Ons God is koning: hoër as almal en as Ahasveros! Hoera! Totsiens, totsiens almal!
***