Bybelstories in Afrikaans

Boeke van die profete 9: Die tweede ete van koningin Ester

Carin Conradie Season 6 Episode 9

Haman wou die Jode uitwis, maar in hierdie storie hoor ons hoe hy tot 'n val gekom het.  Ons lees dit in Ester 5 tot 7.

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Boeke van die profete 9:  Die tweede ete van koningin Ester  (Ester 5 - 7)

 

Tobias:Tannie Carin,  hallo!   Kom!  Dis storietyd!

Tannie:Hier kom ek!  Hallo, Tobias en maats!

Tobias:Tannie, gaan ons weer hoor van die man met die neus in die lug of van ‘n ete? 

Tannie:Tobias, ons gaan sommer van albei hoor.   Kom ons begin  met die eerste ete en dan gaan ons aan na die man met die neus in die lug.

Tobias:O, lekker!  Ek luister!

Tannie;Tobias, koningin Ester het mos vir koning Ahasveros en neus-in-die-lug-Haman genooi vir ete.  By die ete het die koning gevra wat sy graag wil hê.  Sy vra toe of die koning en Haman die volgende dag weer sal kom eet.  Dan sal sy vir die koning vra wat sy wil hê.   Haman was tog so opgetrek met homself dat hy die een was wat genooi was.  Hy het vrolik daar uitgestap, maar toe sien hy vir Mordegai in die poort sit.  Dit was mos Ester se neef wat nie voor Haman wou buig nie.  Toe word hy woedend kwaad.

Tobias:Oepsie!  En wat het hy met sy kwaad gemaak?

Tannie:Nie iets goeds nie!  Hy het huistoe gegaan, al sy vriende en sy vrou bymekaar geroep en gesê  “Julle, kyk net hoe goed gaan dit met my: ek is ryk, ek het baie seuns, die koning het my die tweede belangrikste gemaak in sy koninkryk, koningin Ester het my uitgenooi om saam met haar en die koning te eet en more eet ek weer saam met hulle.  Maar julle, dit beteken niks solank ek daai ellendige Jood Mordegai in die poort sien sit nie.”  Sy vrou kom toe met ‘n lelike plan: “Haman, ek het ‘n plan.  Bou ‘n lekker hoë galg.  Dan gaan jy more voor die ete na die koning en vra of jy vir Mordegai daaraan kan laat ophang.  Dan kan jy rustig die ete geniet.”

Tobias:Tannie?  Nee? Doen hy dit toe?

Tannie:Ja, hy laat bou toe die galg.    Daai nag sukkel die koning om te slaap.  Hy het rondgerol in sy bed.  Toe laat roep hy een van sy amptenare om sy  eie geskiedenisboeke  vir hom te kom voorlees.    Toe lees die amptenaar en hy kom by die stukkie waar Mordegai uitgevind het van twee paleisbeamptes wat die koning wou doodmaak.  Toe kon Mordegai  vir Ester sê om die koning te waarsku.  Die koning vra toe:  “Die Mordegai, het hy iets gekry vir  wat hy gedoen het? “  Die amptenaar sê toe nee.   Daai tyd is dit toe al vroegoggend en die koning vra:  “Wie is hier in my voorhof?”  Dit was Haman wat ingekom het om vir die koning te vra of hy vir Mordegai aan die galg kan ophang.  Die koning laat kom hom in en voor Haman iets kon vra, vra die koning:  “Wat moet gedoen word aan iemand vir wie die koning wil dankie sê?”  Haman dink toe die koning praat van hom.  Hy antwoord:  “’n Belangrike amptenaar van die  koning moet ‘n kleed van die koning om die man hang.  Dan moet hy op een van die koning se perde klim.  Ja, en dan moet die belangrike amptenaar voor hom uitloop op die stadsplein en roep dat die koning vir hierdie man wil dankie sê.”   Julle, en daar sê die koning hy moet dit vir Mordegai doen.

Tobias:Doen hy dit toe?

Tannie:As die koning iets sê, moes jy dit maar net doen.  Hy doen dit toe en daarna gaan hy huistoe:  baie ontsteld en skaam.  Hy vertel dit toe vir sy vrou en vriende en sy sê:  “O, dit lyk asof jy gaan swaakry onder hierdie Jood Mordegai.”  En net daai tyd, kom roep die paleisbeamptes hom vir die volgende ete saam met Ester.  Daar aangekom eet en drink hulle heerlik.  Toe vra die koning weer:  “Ester, wat wil jy vir my vra?”  Ester het geantwoord:  “O koning, as u goed vir my wil wees,  laat my volk asseblief bly leef?  Daar is op ‘n dag besluit wat my hele volk voor die voet uitgeroei gaan word.  U sal ook swaarkry daardeur, want baie Jode werk in u diens.”   Die koning vra toe:  “Nou wie wil dit doen?  En waar is hy?”  Ester antwoord toe dat dit Haman is.  Julle, en daar is die koning op die oomblik briesend kwaad.  Hy storm toe uit na die tuin toe om seker af te koel.  Haman het baie groot geskrik en dadelik vir Ester gevra om tog vir hom goed te wees.  Hy het op die rusbank by haar neergeval om te vra dat hy nie gestraf word nie.  Net daai tyd kom die koning toe terug:  “Haman, en wil jy nou nog boonop hier in my paleis my koningin aanval?”  Die koning se dienaars het dadelik vir Haman gegryp en sy oë toegebind.  Een van die paleisbeamptes wat ook daar was, sê toe: “Koning, daar is ‘n baie hoë galg by Haman se huis gebou.  Hy wou vir Mordegai, die een wat u lewe gered het, daar laat ophang.”  Die koning gee toe opdrag dat Haman aan sy eie galg opgehang word.  Eers daarna was die koning minder kwaad.

Tobias:Tannie?  Dis ‘n vreeslike storie!   Die neus-in-die-lug-Haman het geval.   Wat gebeur toe?

Tannie:Julle, die koning het Haman se grond vir Ester gegee.   Mordegai het nou na die grond gekyk.  Ester het aan die koning vertel dat Mordagai haar neef is.  Die koning het die seëlring wat hy vir Haman gegee het, nou vir Mordegai gegee.  

Tobias:Maar Tannie, was die wet  nog steeds daar dat al die Jode doodgemaak moes word?

Tannie:Ja, Tobias.   Daai tyd het hulle gesê: dis die wet van Mediërs en Perse en niemand kan die wet wegvat nie.   Maar julle, volgende keer wil ons vertel wat toe gebeur het dat die Jode tog gehelp kon word.

Tobias:Huh-uh, lyk my nie neus in die lug werk nie.  Vir Haman het dit sleg afgeloop!   Tannie, dankie vir die storie.  

Tannie:Ja, Tobias, maats, ons kan bietjie oor die storie dink tot ons weer kom.  Ons kan sien hoe die Here vir Ester en Mordegai gebruik het om sy volk te beskerm.   Maar dis ongelukkig nou groettyd.  Ons wil graag gou weer kom om verder te vertel van hoe God vir Ester gebruik het.  Totsiens, julle, totsiens!

***