Bybelstories in Afrikaans

Wysheids- en gedigteboeke 2: Job leer in sy lyding

Carin Conradie Season 7 Episode 2

Hierdie storie handel oor die tweede en laaste deel van Job.  Hy het baie geleer van God.  En nadat hy vir sy vriende gebid het, het God sy lewe  herstel.  Ons lees dit in Job 3 tot 42.

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Wysheids en gedigte boeke  2:  Job leer in sy lyding  (Job 3 - 42)

 

Tobias:Hallo, tannie Carin en maats!  Tannie, hoe groot is God?  So groot soos ‘n rugbyspeler?  Of soos ‘n huis?  Of soos ‘n woonstel met ‘n hysbak?  Hê, Tannie?

Tannie:(lag) Hallo, Tobias!  Nee!  As ons sê God is groot bedoel ons nie ons kan Hom meet soos die mammas meet hoeveel die maats gegroei het nie.   Groot beteken dat Hy fantasties wonderlik is en Hy kan enige ding maak of regmaak!    

Tobias:Tannie,  dis moeilik om te verstaan.

Tannie:Tobias, ons God is wonderliker as wat ons ooit sal kan verstaan hier op aarde!  Elke dag leer ons bietjie meer hoe en wie Hy is.   Tobias, maats, julle onthou dat ons laas vertel het van Job wat so baie swaar gekry het?  Hy het mos alles, behalwe sy vrou en sy lewe verloor!

Tobias:Ja!  Vertel ons nog van hom!  Het hy vir  God verstaan?

Tannie:Kom ons hoor wat het hy verstaan.   Laas het ons gestop waar sy vriende by hom kom sit het.  Na sewe dae het Job begin praat.   Hy het gesê dat hy nou so swaar kry, hy wens hy was liewer nooit gebore nie.  Sy hele lyf pyn en is vol rowe. Sy tande het uitgeval en die mense wat by hom raad kom vra het, spot nou met hom.  Julle, toe eers begin praat die vriende.  Hulle name was Elifas, Bildad en Sofar.  Later het ‘n jonger vriend, Elihu ook gekom.    Elifas het vir Job gesê dat hy  so swaarkry, om hy sonde gedoen het:  “Job, as ek jy was, sou ek my tot God bekeer.  God kan mense gesond maak.  Luister net!”   Maar Job het hom geantwoord:  “Elifas, nee, my saak met God is reg.  Ek het nie sonde gedoen wat ek nog nie bely het nie.”  En toe bid Job en sê vir God hy weet niks meer nie en hy kan ook nie meer die swaarkry uithou nie.

Tobias:Wat het die Bildad  vriend gesê, Tannie?

Tannie:Bildad het gesê:  “Job, dis omdat jy nie jou sonde wil erken nie.  Ja, dis hoekom jy so swaarkry.  Vra vir God hoe jy moet lewe.  Dan sal dit weer goedgaan met jou.”   Ou Job was moedeloos met hierdie vriende van hom.  Hy het Bildad geantwoord:  “Ja, Bildad, ek weet God is groot!  Hy het die sterre gemaak en Hy hou die see op sy plek.  Ag, Here, wys my tog hoekom ek so swaar kry?”

Tobias:Tannie, en sy vriend Sofar?

Tannie:Julle, Sofar het begin:  “Job, jy praat so baie!  Ek moet jou stilmaak.   Eintlik verdien jy om nog meer te ly.   Job, maak jouself los van  jou sonde.”  Maar julle, Job het antwoord:  “Vriend, dalk moet jy stilbly.  Of dalk moet jy daar by die diere of die voëls of die visse gaan leer.  Ek sê vir julle ek het nie sondes wat ek vir die Here wegsteek nie.”   So het die vriende en Job gepraat en gepraat.  Elkeen het gesê waar hy dink mens wysheid kry.  Elifas het gedink mens kry wysheid van mooi kyk rondom jou.   Bildad het gedink jy kry wysheid van jou ouers en oumas en oupas.  Sofar het gedink net wyse mense is wys.   Job het gesê wysheid kom net van God af.

Tobias:Tannie,  en die jonger  vriend?  Wat het hy gesê?  

Tannie:Julle, toe die ander drie klaar gepraat het, begin hy: “Job, ek is kwaad vir jou. Jy  praat heeltyd asof jy niks verkeerds gedoen het nie.  En julle ander drie, julle pratery kon nie vir Job wys hy is verkeerd nie.  Ek is baie wys en ek dink God laat jou ly om vir jou iets te leer.”

Tobias:  Tannie,  wanneer hou  hulle toe op met hulle gepraat en gepraat!  Julle grootmense kan so baie praat!

Tannie:Tobias, hulle het stilgebly toe God met Job begin praat het.  God het ‘n stormwind gestuur en toe praat Hy uit die wind.    Hy het vir Job gevra waar Job was toe God al die wonderlike dinge in die natuur gemaak het: die aarde, die sterrre, die see, die hael, die leeu, die wildedonkie en die buffel.  God het ook ‘n dier beskryf wat baie vir ons soos ‘n dinosourus klink.  God het hulle almal gemaak en Hy sorg vir hulle.    Hy het gevra Job moet tevrede wees met wat God gee.  Hy het nie verduidelik hoekom Job so swaar kry nie.     Julle, Job het geskrik en gesê:  “Hoe kan ek U antwoord?  U is te groot.  Ek sal stilbly.    Ek het voorheen gehoor wat mense van U gesê het, maar sowaar, nou het ek Uself gesien.  Ek sal stilbly.”

Tobias: God het met hom gepraat dat hy dit kon hoor?  Sjoe!  Het God met die vriende ook gepraat?

Tannie:Ja, Tobias.  God het vir die drie vriende gesê Hy is kwaad vir hulle, want hulle het nie die waarheid oor God gepraat nie.  Hulle moes sewe ramme en sewe bulle gaan offer.  Dan moes Job vir hulle bid dat God hulle kon vergewe. 

Tobias:Tannie, het dit toe vir die res van Job se lewe so sleg met hom gegaan?

Tannie:Tobias, nee.   Luister net!   Nadat Job vir sy vriende gebid het, het sy broers en susters en vriende by hom kom kuier om hom te troos.  Elkeen het ‘n stuk silwer en ‘n goue ring vir hom gebring.    Julle, Job se seerplekke op sy lyf het almal gesond geword.  Job het weer bokke en skape en beeste en kamele en donkies en slawe gekry.  En weet julle hoeveel?  Dubbeld soveel as wat hy verloor het.  En hy het ook weer sewe seuns en drie dogters gekry.  

Tobias:Tannie?  Regtig?

Tannie:Tobias, die drie dogters was blykbaar die mooiste vrouens in die hele land.   Job het ook vir hulle baie goed laat erf, saam met sy seuns.  Hy het nog honderd en veertig jaar geleef en het nog sy agter-agter kleinkinders gesien.  Die tweede deel van sy lewe was baie lekkerder as die eerste deel!

Tobias:Tannie Carin!  Ek kan dit nie glo nie!  Al het Job nooit uitgevind hoekom hy so swaargekry het nie,  was hy nog lief vir God.  En God het hom bederf met klomp goeters!  O, ons God kan enige iets maak of regmaak!  Jippie!   Maats, kom ons gaan vertel hierdie storie vir iemand.   Dalk vir iemand wat swaarkry?  Almal moet weet van ons wonderlike God.  Maats, hiermee groet ons dan!  Totsiens, tot volgende keer!

***