Bybelstories in Afrikaans

Kersfees 2025

Carin Conradie

Kersfees 2025 

 

Tobias:Hallo, tannie Carin!  Dis mos daai “Jingle Bells” liedjie wat speel?   Die winkels speel mos die liedjie as dit so amper Kersfees is.

Tannie:Hallo, Tobias en maats!  Ja, jy is reg.   En ons is nou al amper by Kersfees 2025.   Ons wil hoeka vir ons maats sê dat ek en jy nou so vir drie weke gaan kuier en dan gaan daar nie ‘n Bybelstories in Afrikaans potgooi wees nie.  Ons wil graag weer in Januarie 2026 daarmee aangaan.

Tobias:Ja!  Maar ek dink daar is dalk maats wat ook gaan kuier by ouma en oupa?

Tannie:Ja, miskien?

Tobias:Tannie, maar hoekom het ons nie ook  Afrikaanse Kersfeesliedjies oor sneeu en  klingel-klokkies nie?

Tannie:Tobias, nee, dis mos somer in Suid-Afrika as dit Kerstyd word.  Dis die mense wat ver noord van die ewenaar bly, dis nou die middellyn van ons aarde, wat soms sneeu oor die Kerstyd kry.

Tobias:O ja, dis reg!  Tannie, maar lyk my almal is bly as dit Kersfees word.  Hoekom is almal nou weer so opgewonde?

Tannie:Tobias, mense kan opgewonde raak oor verskillende dinge in die kerstyd.  Die winkelomies hoop mense koop sommer hulle rakke leeg.  Pappas en mammas hoop hulle kan bietjie rus van hulle werk.

Tobias:En ek dink hulle hoop hulle kinders is ekstra soet.  (lag)

Tannie:(lag)  Ja, ek is seker daarvan.   

Tobias:Dink Tannie kinders dink hulle gaan geskenkies kry  met Kersfees?

Tannie:Tobias, ek dink daar is seker party  kinders wat geskenkies sal kry?  Maar eintlik is ons mos opgewonde oor iets anders…

Tobias:Ek wil raai!  Miskien oor baie liggies in die strate?   Of, oor lekker koekies om te eet!  Of, nee!  Gaan dit miskien oor waar Kersfees vandaan kom?

Tannie:Dis reg, Tobias!  Jou ou slimkind!   Kerstyd laat ons die storie onthou dat Jesus Christus as ‘n baba na die aarde toe gekom het.  Die nag met sy geboorte was daar mos ‘n engel wat na herders en hulle skape in die veld gegaan het.   Die engel sê toe hulle moet ‘n baba in ‘n voerbak vir diere gaan soek, daar in Betlehem.  

Tobias:Ja, Tannie!  En toe kom vreeslik baie engele en toe sing hulle verskriklik mooi!  En sy mamma was Maria.  En sy pappa wat op die aarde vir Hom moes sorg, was Josef.  Maar, maar sy eintlike  Pa is God self.   

Tannie: Dis reg.  En wie het nog na die baba kom soek?

Tobias:  Tannie, slim omies wat ver met hulle kamele gery het.  Hulle het ‘n groot ster gesien.  En toe weet hulle sommer ‘n splinternuwe koning is gebore.   Toe gaan soek hulle hom in Jerusalem by koning Herodes.  Maar ander slim mense sê toe nee, julle soek by die verkeerde plek.  Ons lees in ons boeke dat Hy dalk in Betlehem sal wees.

Tannie:En wat maak die slim omies toe?

Tobias:Hulle ry toe na Betlehem toe.  En toe hulle weer kyk, toe sien hulle daai mooi ster so bokant ‘n huisie hang.  Toe weet hulle sommer, dis nou die plek.  En Tannie, toe gee hulle vir Josef en Maria  en baba Jesus drie soorte geskenke:  ‘n stuk goud, en lekkerruik stokkies en lekker ruik parfuum.

Tannie:Reg, Tobias.  Die geskenke was goud, wierook en mirre.  Ja, en toe word Jesus groot en bly omtrent so vir  drie en dertig jaar hier op ons aarde om…

Tobias:Ek weet, ek weet!  Om vir ons die offer vir ons sonde te word, omdat ons dit nie self kan doen nie!

Tannie:Mooi, mooi!  Ja, maats, Tobias is reg.   Ek weet daar is baie maats wat nie Kersfees vier nie en daar is weer ander wat wel Kersfees vier.  Maar dit maak nie saak nie.  Alle kinders van God is in Desember  en dwarsdeur die jaar so baie, baie bly dat God ons so lief het, dat Hy ‘n plan kom maak het om ons te red van ons sonde!  Dit is vir alle mense wat in Hom glo!

Tobias:O, jippie, jippie, jippie!   So ons is bly oor die baba en die engele en die herders. Mmm, en die slim omies met hulle geskenke.  En Jesus wat die dood en sonde kom wen het.  Jippie!  Tannie, ons moet vir ons Koning Jesus sing!  En sommer spring en spring!  Tannie,  kan ons voor ons afsluit vir die maats die mooi vers sê in Johannes 3 vers, vers, vers?   Vers wat nou weer?  Die vers oor God wat ons liefhet?

Tannie: Bedoel jy Johannes 3:16?

Tobias:Ja, ja!  Kom ons sê dit vir hulle op?  Of, nee!  Kom ons sing dit!   Ons moet sing van ons Koning se liefde!

Tannie:Dis ‘n goeie plan, Tobias!   Maats, ons sluit dan vandag af met Johannes 3:16.  Die maats kan gerus sommer die hele Johannes drie gaan lees.  Kyk  veral  mooi na vers sewentien ook.   En dan, hoop ons, gesels ons weer in Januarie 2026.  Mooi loop maats.  Totsiens, almal!  En ja, sing saam as jy die liedjie ken!

 

 

Want so lief het God die wêreld gehad

Dat Hy sy enig’gebore Seun

Gegee het, gegee het

Sodat elkeen wat in Hom glo

Nie verlore mag gaan nie, 

Maar die Ewige lewe kan hê.

***