Bybelstories in Afrikaans

Wysheids- en gedigteboeke 3: Die boek van die Psalms

Carin Conradie Season 7 Episode 3

Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.

0:00 | 10:32

Die boek van die Psalms is gedigte wat gesing of gebid is.  Dis handige, klaar uitgeskryfde gebede wat ons vandag nog elke dag kan gebruik.

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Wysheids- en gedigte boeke 3:  Die boek van die Psalms  

 

Tobias: Hallo, tannie Carin!  Mensig!  Maar is ek nou lus vir ‘n storie!  

Tannie:Hallo, Tobias en maats!   Tobias, ek is lus vir raaisels vra!

Tobias:Nê?   Kan ek dan die eerste een vra?   Hoekom eet leeus hulle kos rou?

Tannie:Hmm, nee, ek weet nie?

Tobias:Want hulle weet nie hoe om dit te braai nie!

Tannie:(lag) O, ja, leeus weet nie hoe om hulle kos te braai nie. (lag)

Tobias:Ek het nog een:  Wat het ‘n pynappel wat ‘n appel nie het nie?

Tannie:Wat het ‘ n pynappel wat ‘n appel nie het nie?  Mmm… Seker ‘n pyn?

Tobias:Dis reg, Tannie!   (lag)  

Tannie: Nou is dit my beurt:  watter boek in die Bybel het die meeste skrywers en die meeste hoofstukke?

Tobias:Aarde, nee!  Ek weet nie!

Tannie: Die Psalms!

Tobias:Regtig?  Nou hoeveel skrywers het geskryf aan die Psalms?

Tannie:Tobias, ons weet van Dawid, Salomo, Moses, Esra, die Koragiete, Asaf, Heman en Etan.  Dan is daar een en vyftig Psalms wat ons nie weet wie dit geskryf het nie.

Tobias:Dis ‘n klomp mense!    En kan  ek raai  hoeveel hoofstukke het die boek?  Ek raai:  sestig.

Tannie:Tobias, jy raai verkeerd:  daar is honderd en vyftig Psalms.  

Tobias:Honderd en vyftig!  Sjoe!   Dis lekker baie!   Tannie, wat beteken die woord Psalm?

Tannie:Julle, dit beteken om ‘n snaar van ‘n musiekinstrument te pluk dat dit so sing.

Tobias:Haai!  So dan is Psalms liedjies?  En het hulle kitaar gespeel toe hulle dit gesing het?

Tannie:Tobias, party is liedere en party is gebede.   Hulle het ook nog nie kitare gehad daardie tyd nie.  Hulle snaarinstrumente was harpe en liere.    

Tobias:O!  SoTannie,  as ek  Psalm sê, sê ek in Hebreeus:   “tieng”  of  “katjoing”!

Tannie:Dis reg, Tobias.  Jy kan besluit of dit tieng, of twang of katjoing is!   

Tobias:“Tieng” klink beter!  (lag)

Tannie, maar hoekom is die “Tiengs” geskryf?  Ek bedoel die Psalms?

Tannie:Tobias, die Psalms is gedigte wat ons kan bid.   Party Psalms is kla-gebede.   As iets ons pla, as ons hartseer is of as ons kwaad is kan ons die kla-Psalms bid.   So lees ons in Psalm 90: 13 “Hoe lank nog, Here, voordat U ons help?  Kry ons tog  jammer!”

Tobias:Haai, dis wonderlik!   Klaar geskryfte kla-gebede!  Mooi!   Tannie, maar sê nou maar ek wil vir God dankie sê?

Tannie:Julle, dan is daar  dankie-Psalms.   Die heel korste hoofstuk in die Bybel is Psalm 117.  Hoor gou wat daar staan:  “Prys die Here, alle nasies, loof Hom, alle volke, want sy liefde vir ons is sterk, Hy sal altyd getrou bly.  Prys die Here.”

Tobias:O, ek hou van hierdie  dankie-gebed!   Mmm Tannie, wat van as ek dalk stout was?  Is daar jammer-sê-Psalms?

Tannie:Ja, Tobias, daar is’n hele paar jammer-sê Psalms!   In Psalm 51 skryf Dawid:  “Was my skoon van my sonde!”

Tobias: Aarde, ons!  Dis nou handig:  jammer-sê Psalms.   Tannie, is daar nog soorte Psalms?

Tannie:Tobias, ja:  daar is ook goeie-raad-Psalms.  

Tobias:Goeie raad?  Soos wat?

Tannie:In Psalm 73 skryf  Asaf dat hy nie kan verstaan dat dit so goed gaan met slegte mense nie.  Hy vra vir God hoe dit dan nou eintlik werk.  En dan in sy gebed besef hy  dat al verstaan hy nie alles nie, is dit die beste om naby God te bly.  Dit beteken om elke dag sy Woord te lees en te bid. 

Tobias:O, die Bybel is fantasties, wonderlik!

Tannie:Tobias, ons kry ook nog Psalms vir die konings en ook Psalms waar gevra word God moet sy vyande straf.  Dan is daar Psalms wat vertel wat met Jesus op die aarde gaan gebeur.

Tobias:Tannie, nou verstaan ek nie:  Psalms wat sê wat met Jesus gaan gebeur?

Tannie:Tobias, in Psalm 22 staan:  “My God, my God, waarom het U my verlaat?’

Tobias:Tannie, maar is dit dan nie die woorde wat Jesus aan die kruis gesê het nie?  

Tannie:Presies!  En so is daar nog baie ander Psalms wat ons ook aan Jesus se lewe laat dink.   

Tobias:Tannie, dan is die Bybel regtig regtig waar!  As die Nuwe Testament ook verse uit die Ou Testament haal, weet ons dit mos?

Tannie:Tobias, daar is teksverse uit twintig Psalms ook in die Nuwe Testament geskryf!

Tobias:Jippie, jippie, jippie!   Ons God en sy Woord is wonderlik!    Tannie, dit laat my dink aan my laaste raaisel voor ons klaarmaak:  Raai, raai, watter boek  word die meeste verkoop in die wêreld?

Tannie:Ek wonder of die maats weet watter boek word die meeste verkoop in die wêreld?

Tobias:Maats, dis die Bybel!  Die heel beste boek is die Bybel!  

Tannie:Tobias, jy is heeltemal reg!

Tobias:Tannie, my kop draai nou skoon van al die dinge wat ons oor die Psalm boek geleer het.  Sal Tannie volgende keer nog ietsie vertel oor die Psalms?

Tannie:Ons kan volgende keer verder gesels oor die Psalms.  Maats, gaan lees gerus een of twee Psalms hierdie week.  Julle sal sien wat lekker klaar uitgeskryfde gebede is dit.  Mooi loop!   Ons wil gou weer kom!  Totsiens!

***