Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Wysheids- en gedigteboeke 4: Die Psalms
Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.
Vandag gesels ons verder oor die wonder van die Psalms wat vir ons behoue gebly het.
Wysheids- en gedigte boeke 4: Die Psalms
Tobias: Hallo, tannie Carin!
Tannie: Hallo, Tobias en maats! Welkom by ons storietyd!
Tobias: Tannie, Tannie, ons gaan weer vandag gesels oor die Psalms, ne? Tannie het mos gesê die Psalms is gedigte? So, kan ek vir ons ‘n gediggie opsê?
Tannie: Tobias, jy kan maar? Laat ons jou gediggie hoor?
Tobias: Vlieg sit op die wal en dis al!
Tannie: (lag) Jou ou lawwe ding! Dis ‘n kort gediggie!
Tobias: Tannie, ek het nog een: hoor hier: Ek is Tobias met groen bene, en ook groen hakskene. Ek hou van stories en ek hou van nies.
Tannie: (lag) Tobias, dis’n lawwe, lawwe rympie!(lag) Maar weet jy, die Psalms is gedigte en liedjies, maar die skrywers van die Bybel het nie hulle gedigte laat rym, soos ons dit doen nie.
Tobias: Wat bedoel Tannie nou?
Tannie: Tobias, in jou eerste gedig het woorde gerym: wal en al. In jou tweede gedig was dit bene en hakskene. En stories en nies het ook soort van gerym. Maar in Hebreeus het hulle sinne nie geëindig met woorde wat amper dieselfde klink of rym nie.
Tobias: O, so hulle het nie rympies gehad nie. Net gedigte.
Tannie: Dis reg, Tobias.
Tobias: Tannie, so het die mense van Israel so een lekker dik sang-gedigteboek gehad met die honderd en vyftig Psalms in?
Tannie: Nee, Tobias. Hulle wil ons vertel dat die Psalms eintlik in vyf boeke opgedeel is. Hulle dink dit was dalk op vyf boekrolle geskryf.
Tobias: O ja, hulle het mos boekrolle gehad, nie boeke nie. Tannie, hoe het so ‘n boekrol gelyk?
Tannie: Julle, dit was lang stukke materiaal wat gemaak was van riete of dierevelle. Hulle het stukkie vir stukkie daarop geskryf tot dit vol was, en dit dan opgerol en seker vasgebind met ‘n toutjie of iets. As jy dit wou lees, moes jy dit afrol tot waar jy nou wil lees. Dit beteken die rolle kon nie te dik wees nie.
Tobias: Interessant! So die Psalms was vyf rolle of boeke. Het verskillende mense die vyf boeke geskryf?
Tannie: Tobias, die meeste Psalms van die eerste boek en die vyfde boek, is deur Dawid geskryf. Die tweede boek is deur Dawid en die Koragiete geskryf. Asaf was die skrywer van klomp van die derde boek se Psalms. Die meeste van die vierde boek se skrywers het nie hulle name bygesit nie. Nou weet ons nie wie dit geskryf het nie. En weet julle wat is interessant? Al vyf boeke eindig met ‘n loflied aan God. Hoor gou die einde van die eerste boek: “Die Here moet al die lof kry vir altyd, Amen, ja, amen.” Ons kan dalk vandag afsluit met Psalm 150, die laaste boek se loflied. Die hele Psalm is ‘n loflied aan God.
Tobias: Wonderlik! Tannie, nou wanneer het Dawid en die Koragiete en Asaf die gedigte of liedjies geskryf?
Tannie: Dawid, was mos ‘n musiek-man. Ons gebruik die woord musikant vir so iemand. Hy kon baie mooi op die lier speel. Hy was nog sommer jonk, toe kon hy al mooi speel. Toe hy ‘n kind was, het hy sy pa se skape opgepas. Daar tussen die skape het hy seker geoefen en geoefen tot hy goed kon speel. Hy het mos vir koning Saul in sy paleis gaan speel as die koning sleg gevoel het. Dawid het baie gedigte geskryf. Party het hy geskryf toe dit sleg met hom gegaan het, of toe hy hartseer was, of baie bly. Of toe hy so opgewonde was oor God dat hy moes sing vir Hom. Dan het hy mos die mooie Psalm 23 geskryf oor God wat ons Herder is. Hy het so gedink oor die tyd wat hyself ‘n herder vir skape was.
Tobias: En Asaf en die Koragiete, Tannie?
Tannie:Julle, Asaf en Korag was sangers wat in die tempel gewerk het. Hulle werk was om liedere te skryf en dit te leer vir die kore. Dawid het vir hulle die werk gegee. Die priesters en party goeie konings na Dawid, het vir die Koragiete se kinders en kleinkinders ook gevra om liedere te skryf om God te loof. O, die mense in die tempel se tyd het baie gesing. Baie van die Psalms sê ook vir ons met watter musiek dit gesing moet word: soos hierdie woorde moet op daai wysie gesing word, of hierdie lied moet die omies met hulle diep bas stemme sing; hierdie lied moet die fluite speel; daai lied moet die snaarinstrumente speel.
Tobias: Tannie, dis wonderlik, fantasties dat hierdie Psalms nie weggeraak het nie. Ons het dit nog steeds en ons kan nog steeds vir God dit sing of bid. Jippie! Jippie! Maats, ek het nou so baie oor die Psalms geleer. Ek dink tannie Carin moet sommer elke dag vir my een lees. Tannie, kan ons nou afsluit met Psalm 150 soos Tannie belowe het?
Tannie: Tobias, ek is net so opgewonde om hierdie jaar sommer elke dag ‘n Psalm te lees en ja, kom ons sluit af met ons verwerking van Psalm 150. Mooi bly, maats, tot volgende keer!
Prys die Heer waar ons saam is
Prys Hom oor die hele aarde
Hy is groot en doen groot dade.
Bring daardie: Ramshoring; harp en lier; Tamboeryn; koordans, fyn,
Alle soorte snare; fluite en simbale.
Laat alles wat asemhaal, Hom prys, in jou eie taal, in jou eie taal.
***