Bybelstories in Afrikaans

Wysheids- en gedigte boeke 5: Die boek Spreuke - deel een

Carin Conradie Season 7 Episode 5

Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.

0:00 | 10:11

Ons begin met die boek Spreuke :  hoofstukke 1 - 9.   Daarin leer ons dat die boek ons wysheid wil leer en:  wysheid begin met die dien van die Here.

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Wysheids- en gedigte boeke 5:   Die boek Spreuke - Deel   een  (Spreuke 1 - 9)

 

Tobias: Tannie Carin, hallo, Tannie, ek weet wat is vier plus vyf!  Is ek slim as ek dit weet?  Is ek amper so slim soos koning Salomo?

Tannie: (lag) Hallo, Tobias, kom ons sê darem  eers hallo vir die maats.

Tobias: Hallo, maats!  Weet julle hoeveel is vier plus vyf?   Dis nege!

Tannie: Mooi, Tobias.   Jongie, as ons praat van Salomo, sê ons hy was ‘n baie wyse man.  God het vir hom wysheid gegee.  Wysheid is meer as om net somme te verstaan of om te kan lees.  Dit beteken ook om mooi goed te kan maak en om die regte woorde op die regte tyd te kan sê.

Tobias: O!  Tannie, het Salomo boeke geskryf?

Tannie: Ja, hy het.  In ons Bybel het ons drie van sy boeke:  Spreuke, Prediker en Hooglied.   Ons wil vandag begin gesels oor Spreuke se eerste deel.

Tobias: O, lekker!  Is dit ‘n boek  wat ons baie slim antwoorde gaan gee?  Is vier plus vyf daarin?  Kan ek iets oor diere of plante daarin leer?

Tannie: Tobias, Salomo het baie boeke geskryf oor plante en diere en reptiele en visse, maar Spreuke gaan nie daaroor nie.  Die boek begin met:  “as mense hierdie boek lees, sal hulle leer hoe om reg te lewe hier op God se aarde.  

Tobias: So, die boek kan ons leer wat reg is voor mense en wat reg is voor God?

Tannie: Dis reg!  Tobias, jy is sommer ‘n baie wyse seuntjie!

Tobias: Regtig, Tannie?  Vertel my nog van Spreuke!  Ek wil nog wyser word!

Tannie: (lag) Reg so Tobias!   Julle, die eerste deel van Spreuke vertel ons hoekom die boek geskryf is.  Dis nie net om te weet wat reg is nie.  Dit sê dat ons wysheid kry as ons die Here dien.  Tobias, soos ons liedjie waarmee ons mos begin?

Tobias: Dis reg, Tannie!  “Wysheid begin met die dien van die Here…”

Tannie: Ja!   Julle, dan kom ons by tien gesprekke wat ‘n pappa met sy seun het.   Hy vertel vir sy seun allerhande verskillende dinge wat hy by sy pa en sy pa by sy oupa geleer het.  Dis alles dinge wat sy seun sal help om goeie besluite te neem.  Hy waarsku sy seun om nie dom dinge te doen wat hom in die moeilikheid kan bring nie.

Tobias: Haai, regtig?  Nou  vertel  vir ons bietjie van die goeie raad wat die pappa gegee het?

Tannie: Julle, die pa het vir sy seun gesê: “Seun, as die stoute seuns vir jou sê jy moet saamkom, hulle wil die mooigoed van iemand gaan vat, moet jy nie saamgaan nie.  Al sê hulle ook jy kan baie van die mooigoed vir jou vat, moenie dit doen nie.  Hulle wil mense doodmaak.  Maar hulle gaan op die ou end doodgaan.   My seun, as jy onthou wat ek en jou ma vir jou leer en dit doen, sal dit jou lewe so mooi maak, asof jy ‘n pragtige krans op jou kop het en ‘n mooie ketting om jou nek.”

Tobias: Dis interessant!  So die manne het in daai tyd gehou van kranse van blare op  hulle koppe en kettings om hulle nekke?

Tannie: Ja, Tobias.  Kranse van blare is gedra as hulle vrolik feesvier.  

Tobias: So, as kinders na hulle ouers se goeie raad luister, maak dit hulle sommer baie deftig!    Vertel nog iets, Tannie?

Tannie: Tobias, die pa het ook gesê:  “My seun, jy moet wysheid van die Here soek meer as wat jy silwer of geld soek.   Wees lief vir mense.  Wees getrou.  Soek raad by God.  Hy sal jou help besluit wat die beste ding is om te doen.  Dien die Here en bly weg van slegte dinge af.  Dis sommer nog beter as enige medisyne wat jy kan drink.  En my, kind, partykeer straf die Here ons as ons verkeerd doen, want Hy is lief vir ons.  Aanvaar dit en doen dan die regte ding.”

Tobias: O, dis mooi!  Nog, Tannie!

Tannie: Hy het ook gesê:  “Jongie, hou vas aan wat ek jou leer.   Soek wysheid en probeer dinge verstaan.  Dit is mooier as ‘n pragtige kroon.  Dink tog oor die wyse dinge wat ek jou leer.  Moenie heeltyd oor slegte dinge dink nie.  My kind, en as jy die dag trou, wees lief vir jou vrou en net vir jou vrou.   En ja, voor ek vergeet: werk tog hard.  Gaan kyk bietjie hoe doen die miere dit.”

Tobias: Sjoe, dis wonderlike raad!  Tannie, is die hele boek  vol  van die pa se geselsies?

Tannie: Nee, Tobias, dis net die eerste nege hoofstukke.   Maar weet julle, in die eerste nege hoofstukke is daar ook  vier gedigte. 

Tobias: O!  En ons het mos geleer daai mense se gedigte was nie rympies soos ons s’n nie.  Nou waaroor gaan die gedigte, Tannie?

Tannie: Tobias, die gedigte gaan oor wysheid.  Dit is so geskryf dat dit klink asof wysheid ‘n goeie, goeie vrou is.   Sy staan en roep in die strate en op hoogtes en by kruispaaie:  “Julle wat nog nie slim en wys is nie, kom.  Moenie dink julle weet alles nie.  Kom, dat ek julle kan leer.  Ek praat net die waarheid.   Wat ek julle leer is beter as silwer of goud of die mooiste edelstene.  Ek, Wysheid het  die verstand en die kennis en ek is slim.  Luister, as julle die Here wil dien, moet julle haat wat verkeerd is.  Moenie hoogmoedig wees nie.   Ek het my kennis by die Here gekry.  Daarom kinders, moet julle na my luister.”

Tobias: Aarde, Tannie!   Dis so mooi!   Nou wil ek sommer self vir Spreuke gaan lees.

Tannie: Maats, daar is net mooi een en dertig  hoofstukke in die boek Spreuke.  Dalk kan julle ouers of julleself een hoofstuk op ‘n dag lees.  Dis net mooi genoeg vir ‘n maand met een en dertig dae.

Tobias: Nou kom, Tannie, kom ons gaan lees hoofstuk een.   Maats, ons gaan julle nou groet tot volgende keer!  O, ek sien uit om nog van Spreuke te leer.  Mooi loop, maats.  Totsiens, tot volgende keer!

 

***