Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Wysheids- en gedigte boeke 6: Die boek Spreuke - deel twee
Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.
Ons praat oor Spreuke 10 - 30 en lig enkele spreuke uit. Baie spreuke vertel hoe wysheid die teenoorgestelde is van dwaasheid.
Wysheids- en gedigteboeke 6: Die boeke Spreuke: deel twee (Spreuke 10 - 30)
Tannie:Tobias, hallo! En as jy so hartseer in die ou hoekie sit?
Tobias:Tannie Carin, my maatjie het my vies gemaak!
Tannie:Vies gemaak? Wat het gebeur?
Tobias:Nee, eintlik is ek terleurgesteld. Hy het gesê ek kan gister by hom kom speel, en toe sê hy weer ek kan nie. Tannie, as mens iets sê, moet mens dit mos doen, dan nie?
Tannie:Ai, Tobias, ek kan sien jy is hartseer en terleurgesteld! Jong, dis iets waarmee ons mense sukkel. Maar weet jy, selfs van die skrywers van die Bybelboeke het soms so gemaak.
Tobias:Wat? Nee! Wat bedoel Tannie nou?
Tannie:Maats, Tobias, eintste Salomo wat een van die skrywers van Spreuke is, is ‘n voorbeeld daarvan. Hy het so baie wysheid van God gekry. In 1 Konings lees ons dat hy drieduisend spreuke, of ons kan sê, wyse sinnetjies, geskryf het, maar party van die dinge wat hy gesê het, het hy nie gedoen nie. Vat nou maar trou: in Spreuke is daar baie sinne wat wys dat een man met een vrou trou, maar nee die Salomo wou vriende maak met ander lande se konings en het daarom met sewehonderd vroue getrou en nog driehonderd byvroue.
Tobias:Nou weet ek nie wat om te sê nie….. Salomo? Aarde, hy het wyse woorde geskryf, maar dit nie gedoen nie?
Tannie:Maar julle Spreuke is vol van die wysheid van God, al het Salomo nie alles reg gedoen nie. En ons kan maar daarna luister en dit doen.
Tobias:Tannie, vertel bietjie van die wyse sinnetjies?
Tannie:Julle, baie van die hoofstukke vertel ons dat wyse mense doen reg, maar dwase mense doen verkeerd. Hoor net hier: ‘n wyse seun maak sy ouers bly, maar ‘n dwase seun maak hulle hartseer. En: mense wat eerlik is, word gehelp, maar dwase, oneerlike mense word gevang. Ook: as jy iets vir ander mense gee, sal jy ryk word. Nog: As iemand bekommerd is, druk dit hom neer, maar ‘n vriendelike woord, laat hom weer bly voel. En hoor hierdie een: leer ‘n klein kindjie wat reg is, en hy sal altyd die regte pad kies.
Tobias:Tannie, is hierdie spreuke altyd waar? Altyd, altyd?
Tannie:Tobias, hier moet ons nou mooi luister: hierdie spreuke sê dat dit heel moontlik so sal wees. Maar die Spreuke is nie beloftes nie. Daar is ‘n verskil. In die Bybel het ons beloftes, soos: Jesus het gesê Hy sal vir al die dae van ons lewe naby sy kinders wees. Dit sal altyd, altyd so wees. Niks sal dit verander nie. Maar die sinne in Spreuke sal meestal waar wees, maar daar is kere dat dit nie waar is nie.
Tobias:Mmm, ek dink nou aan: mense wat vir ander help met kossies of geld, sal nie altyd ryk word nie? Of, of ouers kan hulle kinders van Jesus leer, maar miskien kies die kinders om nie vir Jesus lief te wees as hulle groot is nie.
Tannie:Jy is heeltemal reg, Tobias. Dis hoekom ons al die boeke in die Bybel nodig het. Die ander wysheidsboeke help ons om te verstaan dat die lewe nie altyd so reguit loop soos Spreuke sê nie. Maar julle, ons moet lees wat daarin staan, al is die nie beloftes nie. Tobias, ‘n paar van die wyse sinne laat ons dink aan dinge wat ons in die Nuwe Testament lees.
Tobias:Soos wat, Tannie?
Tannie:Julle, soos die klomp spreuke oor die tong. Dit laat my so baie dink aan die boek Jakobus waar hy vir ons sê ons moet tog oppas wat ons sê. Ons moenie dwase dinge sê nie, maar wysheid van God vra.
Tobias:Vertel so bietjie van die tong-wyse-sinnetjies, Tannie?
Tannie:O, daar is baie, maar hoor gou hier: wie skinderstories versprei, is dwaas. Dwase mense praat lelik van ander, maar wyse mense bly liewer stil.
Praat sonder om te dink, kan so seer soos dolksteke wees. Julle, ‘n dolk is soos ‘n skerp, lang, ronde mes.
En luister nog: ‘n sagte antwoord laat kwaai mense afkoel, maar ‘n seermaakwoord, laat hulle nog kwater word.
Wie antwoord voor hy die vraag gehoor het, is dwaas en kom in die skande. Iemand wat eerlik antwoord, is ‘n ware vriend.
Tobias:Mensig, Tannie! Daar is wonderlike spreuke!
Tannie:Ja, julle, daar is spreuke oor enige ding wat jy aan kan dink: kos, diere, gebed, geduld, moord, luiheid, hoop, om vinnig kwaad te word en nog en nog en nog!
Tobias:Regtig? Nou vertel bietjie iets van… diere?
Tannie:Laat ek gou dink, mm.. ja: sorg dat jy weet wat jou kleinvee nodig het, ja; gee aandag aan jou veetroppe.
Die wyse mens sorg goed vir sy diere, maar die dwase is wreed.
En interessant, Tobias, daar is heel party spreuke waar daar gesê word: daar is drie, nee vier dinge. Dit help ons om die spreuke te onthou. Hoor hier: “Daar is drie, nee vier dinge wat ek glad nie verstaan nie: hoe ‘n aasvoël in die lug bly, hoe ‘n slang teen ‘n rots opseil, hoe ‘n skip op die diepsee vaar en hoe die liefde tussen ‘n man en ‘n meisie werk.”
Tobias:(lag) Haai, dis oulik! Ek hou daarvan! Tannie, ons het mos nou begin om elke dag ‘n hoofstuk uit Spreuke te lees, maar ek gaan nou vir my maatjie vra of ek vandag kan kom kuier en of ek en hy dit ook doen. Ek is nou nie meer vies vir hom nie. Tannie, ek dink ek gaan die maats groet en gou gaan hoor waar bêre hy sy Bybel. Totsiens, maats!
Tannie:Aarde, maats, daar gaan die ou groen seuntjie al! Ek hoop julle is nou sommer nog meer lus vir die boek van Spreuke. Lekker lees! Mooi loop! Tot volgende keer! Totsiens!
***