Bybelstories in Afrikaans

Wysheids- en gedigte boeke 7: Die boek Spreuke - deel drie

Carin Conradie Season 7 Episode 7

Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.

0:00 | 10:06

In hierdie episode vertel ons meer van Spreuke 30 en 31 en wie die skrywers was.   

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Wysheids- en gedigte boeke 7:  Die boek Spreuke - deel drie     (Spreuke 30, 31)

 

Tobias:Tannie, tannie Carin, hallo!  Hoor, hoor gou  hier!

Tannie:Hallo, Tobias!  En as jy so opgewonde is?

Tobias:Tannie, hoor net wat het ek geleer om te sing:  “A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z.

Tannie:Mooi, Tobias!  Jy ken die Afrikaanse alfabet!  Mooi, mooi!

Tobias:Tannie, het elke taal ‘n ander soort alfabet?

Tannie:Tobias, ‘n klomp van ons tale het soort van dieselfde alfabet, al spreek mens die letters bietjie anders uit.  Maar daar is tale wat heeltemal ‘n ander alfabet het, soos Hebreeus.

Tobias:O!  Nou sing dit gou vir my, Tannie?

Tannie:(lag)  Nee, aarde, Tobias!  Ek kan nie.  Ek weet net die alfabet het net twee en twintig letters.   Die eerste letter is Alef en die tweede een Bet.  Tobias, dit laat my nou dink:  daar is ‘n interessante iets oor die Hebreeuse alfabet in die laaste boek van Spreuke.

Tobias: Haai, vertel Tannie?

Tannie:Maar voor ek daarby kom, wil ek eers vertel van hoofstuk 30, die voorlaaste hoofstuk.   Tobias, maats, dit lyk vir ons asof daar meer as een mens was wat die boek Spreuke geskryf  het.

Tobias:Ek het dan gedog dis koning Salomo wat dit geskryf het?

Tannie:Die meeste spreuke is deur hom geskryf.  Tog klink dit of koning Hiskia seamptenare ook  spreuke neergeskryf het, wat nie in Salomo se tyd gedoen is nie.  

Tobias:Interessant!  En was daar nog skrywers?

Tannie:Ja!  In hoofstuk dertig word gepraat van Agur.  Niemand weet wie dit was nie.  Ons lees nêrens anders in die Bybel van hom nie.  Dit kan dalk wees dat hy iemand uit Arabië was.

Tobias:Tannie, was hy ook lief vir die Here?

Tannie:Ja, hy was!   Hy skryf dat net God wysheid het.  Hy skryf so mooi dat God alles gemaak het. Hoor net hier:  “wie het die wind in sy twee hande gevat? Wie het die water in ‘n doek toegedraai?”

Tobias:Dit klink amper so ‘n gedig, Tannie!

Tannie:Ja, nogal.  Luister ook na die mooi gebed wat hy bid:  “moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U vergeet nie.  Ook nie arm word en steel dat mense sleg praat van U nie.”

Tobias:Sjoe!  Dis mooi geskryf!

Tannie:Maats, julle kan self gaan lees watter spreuke hy nog geskryf het.  Hy het ons laat verstaan dat as ons verkeerde goed doen, sal slegte dinge gebeur.  Hoor net hier: “as jy iemand op die neus slaan, kom daar bloed uit; as jy mense kwaad maak, kom daar rusie.”

Tobias:Dis alles so waar!   Tannie, wie het nog gehelp om Spreuke te skryf?

Tannie:Tobias, in hoofstuk dertig hoor ons van koning Lemuel van Massa.  Nou wie hy was, weet ons ook nie.  Lemuel skryf neer wat sy mamma vir  hom geleer het.  Die eerste deel vertel hoe ‘n goeie koning moet maak.

Tobias:Laat ons bietjie hoor, Tannie?

Tannie:Julle, Lemuel se ma het gesê konings moenie dronk word van wyn nie.  Dan kan hulle nie goeie werk doen nie.  Hulle moet  vir die mense help wat nie            vir hulleself kan help nie.

Tobias:Dit klink na goeie raad.  Miskien moet ons konings van vandag dit ook bietjie lees.

Tannie:Net so!  Tobias, maar dan kom ons by die laaste stuk van hoofstuk dertig.  Dit vertel van hoe ‘n soort vrou die koning vir hom moet kies.   En Lemuel het elke nuwe sin begin met ‘n letter van die Hebreeuse alfabet.

Tobias:Huh?  So, die eerste sin begin met Alef en die tweede een met Bet?

Tannie:Ja, Tobias, en verder die hele alfabet.   Ek dink dis dalk so geskryf om te help dat mense dit makliker kon onthou.

Tobias:Dis nou slim!   Tannie, vertel bietjie van die soort vrou wat Spreuke van praat?

Tannie:Julle, so ‘n vrou is beter as die mooiste diamante of robyne. Sy sorg vir kos vir almal in haar huis.   Sy maak klere en ander goed en verkoop het.  Sy koop grond en laat plant wingerd daarop. Sy kry  wysheid van God en sê dit vir mense wat dit nodig het.   Haar man is lief vir haar en sy is goed vir hom.  Sy is ook goed vir haar kinders.  Sy sorg dat hulle lekker warm klere vir die winter het. Sy help arm mense.  Sy  werk sommer hard.   Haar man en haar kinders sê:  “Daar is baie slim, sterk  vrouens, maar jy is die beste!”

Tobias:Tannie, het  Lemuel geskryf hoe die vrou dit regkry om ‘n goeie vrou te wees?

Tannie:Ja, Tobias!  Hy het geskryf dat die vrou se mooiheid nie net is hoe sy lyk nie, maar sy is eintlik so oulik omdat sy die Here dien.  Lemuel se mamma het vir ‘n vrou wat die Here dien gesê:  “Mooi so, mooi so!”   

Tobias:Word daar baie van vrouens gepraat in die boek Spreuke?

Tannie:Ja!  Julle onthou mos dat die begin van Spreuke gesê het dat wysheid is soos ‘n goeie vrou.  En dan word  jong seuns en mans gewaarsku om tog weg te bly van slegte vrouens af en om ander mans se vrouens uit te los.   Dis hoekom dit  vir my so mooi is dat die boek eindig met so ‘n mooi vrou!

Tobias:Dankie, Tannie!   Ek hou nou sommer nog meer  van die boek Spreuke.  En al ken ek  nou nie die Hebreeuse alfabet nie, is die laaste hoofstuk  vir my baie mooi.  Maats, lees julle nou al die boek?   Geniet dit!   Maar ai, lyk my storietyd is al weer om?  Ons moet seker nou maar groet.  Lekker lees aan Spreuke, maats!  Ons wil gou weer kom!  Totsiens!

***