Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Wysheids- en gedigte boeke 8: Prediker
Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.
In hierdie episode probeer ons verstaan wat die Prediker skrywer vir ons wil sê as hy skryf: "alles is 'n gejaag na wind".
Wysheids- en gedigteboeke 8: Prediker (Prediker 1 - 12)
Tannie:Hallo, Tobias! En as jy vandag met ‘n emmer en ‘n netjie hier aankom? Gaan jy vissies vang?
Tobias:Nee, Tannie! Ek wil vir my bietjie wind gaan vang.
Tannie:Wind gaan vang? Jy bedoel wind wat waai?
Tobias:Ja, Tannie! Ek wil probeer!
Tannie:Sterkte, Tobias! Ek, ek dink nie jy sal ooit wind kan vang nie.
Tobias:O? Tannie is seker? Ek dink dan ek kan?
Tannie:Tobias, jy laat my nou dink aan een van die vreemde boeke in die Bybel - die boek Prediker. Weet jy, in die boek praat hy van jaag na wind - om die wind te probeer vang.
Tobias:Tannie, nou waaroor gaan die boek? Het hy die wind gevang gekry?
Tannie:Nee, Tobias. Ons dink koning Salomo het hierdie boek geskryf toe hy al ‘n ou man was. Die boek is soos ‘n leerboek vir jonger mense. Hy het dit geskryf om vir ons te vertel dat hy geluk hier op aarde probeer vang het. Net soos wat jy wind wil vang.
Tobias:Tannie, het hy geluk hier op aarde gevang gekry?
Tannie:Nee, hy het nie.
Tobias:Tannie! Kan nie wees nie! Hy was dan so ryk! Wat van sy baie geld?
Tannie:Nee! Baie geld het hom nie gelukkig gemaak nie. Nes hy dit het en dink: “Nou sal ek gelukkig wees”, dan besef hy geld is sommer niks: net ‘n hand vol wind.
Tobias:Tannie, maar sy geld kon vir hom lekker dinge koop, soos mooi huise en mooi klere! Het dit hom nie gelukkig gemaak nie?
Tannie:Tobias, hy sê nee, dit het nie!
Tobias:Maar wat van sy baie vrouens?
Tannie:Die baie vrouens het hom nie gelukkig gemaak nie.
Tobias:Maar, maar hy het baie boeke gehad en het boeke geskryf en was slim. Of mens sê wys? Het wysheid hom nie gelukkig gemaak hier op aarde nie?
Tannie:Nee, Tobias, al sy wysheid het hom nie gelukkig gemaak nie. Hy het gesien wyse mense en dwase mense; ryk mense en arm mense - almal gaan tog maar een of ander tyd dood. Dan is hulle gelyk.
Tobias:Tannie, nee! Daar moes iets wees! Wat het hy nog probeer soek of koop om hom gelukkig te maak?
Tannie:Julle, hy het alles probeer: hy het plesierige partytjies gehou, en baie wyn gedrink. Maar nee! Dit voel maar net asof hy ‘n hand vol wind gevang het. Tobias, hy het groot geboue gebou - regtig groot. Hy het baie wingerde geplant en tuine en parke en vrugtebome. Hy het damme gebou om al die mooi tuine en bome water te gee.
Tobias:En?
Tannie:Dit was vir hom maar nes asof hy die wind gaan vang. Geen geluk wat aanhou nie!
Tobias:Wat het hy nog probeer?
Tannie:Hy het baie slawe en slavinne gehad wat vir hom moes werk, maar al hoef hy nooit sy bed op te maak nie of die skottelgoed te was nie, het dit hom nie gelukkig gemaak nie.
Tobias:Nee! En ons dink dan dit sou lekker wees! Wat nog?
Tannie:Julle, hy het baie beeste en skape gehad. Hy het sangers en kore en baie mooi musiek gehad waarna hy kon luister daar in sy paleis. Hy het dit geniet, maar dit het hom nie regtig gelukkig gemaak nie.
Tobias:Tannie, klink my hy was ‘n ou klakous! Hy was dan met niks tevrede nie?
Tannie:(lag) Tobias! Ek hoor jou! Dit kan vir ons so klink, maar onthou dis ‘n leerboek vir jongmense die.
Tobias:O ja! Nou wat wou hy hê moet ons leer uit hierdie boek?
Tannie:Julle, in hierdie boek staan daar sewe en dertig keer, dat al hierdie dinge wat hy probeer het, is maar net ‘n gejaag na wind - dit word sommer net niks. Hy het ook ag en twintig keer skryf, dat al die dinge wat hy probeer het, hier op aarde is. So sy raad begin met ‘n hele lys van dinge wat maar gebeur soos dit gebeur hier op aarde. Daar is ‘n tyd vir alles: om gebore te word, om dood te gaan, om plante te plant of om dit uit te trek en so gaan hy aan en aan. Hy sê vir ons dat dit altyd so sal wees. So, ons kan maar aanvaar dat dit so sal wees.
Tobias:Is dit al raad wat hy gee?
Tannie:Nee, Tobias! Die belangrikste raad kom nog. Hy het gesê dat ons drie baie belangrike dinge moet doen. Die eerste ding is ONTHOU. Onthou vir God as jy jonk is en voor oudword kom wat maar swaar kan wees. Nommer twee is: DIEN God. Nommer drie is: GEHOORSAAM God. Dit is waar gelukkig wees begin. Nie net hier op aarde nie, maar ook eendag as ons dood is en na God toe gaan.
Tobias:Tannie? So die prediker sê ons moet nie net in hierdie lewe vaskyk nie, want daar is nog ‘n lewe hierna ook?
Tannie:Mooi, Tobias! Dis wat hy wil sê! Alle lekkerte in hierdie lewe gaan gou verby en is eintlik soos ‘n hand vol wind. Maar as ons onthou om vir God te dien en te gehoorsaam sal ons vir altyd gelukkig wees!
Tobias:Tannie, ek sien nou die prediker was nie ‘n klakous nie. Hy wil ons mooi leer oor wat ons eintlik gelukkig maak! Maats, lyk my as julle Spreuke klaar gelees het, moet julle vir Prediker vat. Mensig, maar ons het fantastiese boeke in die Bybel. Ek dink ek gaan nou groet om bietjie in Prediker te gaan rondblaai! Maar maats, ons wil gou weer kom! Lekker Bybel lees! Totsiens!
Tannie:Totsiens, maats, tot volgende keer!
***