Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Wysheids- en gedigteboeke 9: Hooglied
Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.
In hierdie episode gesels ons oor die boek Hooglied: 'n boek wat vertel van die liefde tussen 'n man en vrou. Dit help ons om te verstaan hoe ons met ons hele lewe voor God moet leef hier op aarde: soos Hy dit bedoel het!
Wysheids- en gedigte boeke 9: Hooglied (Hooglied 1 - 8)
Tobias: Hallo, Tannie, hallo, maats! Tannie Carin, ek is so lus vir ….
Tannie: Hallo, julle! Tobias, waarvoor is jy lus?
Tobias: Tannie, vir troue hou! (la, la, la, la, la, la, la, la, la, la) Wanneer kan ons vir ‘n slag weer na ‘n troue toe gaan?
Tannie: (lag) Dalk sommer een van die dae, Tobias! Een van die dae!
Tobias: O, lekker! Tannie, is daar in die Bybel geskryf van hoe mense moet trou?
Tannie: Sjoe, jongie, die hele Bybel is eintlik vol van stories en raad oor hoe ‘n man en vrou vir mekaar lief moet wees. Daar word sommer baie van trou en getroud wees gepraat. God het mos self die huwelik gemaak daar in die Paradys toe hy vir Eva na Adam toe gebring het. Maar weet jy, daar is een boek in die Ou Testament wat net oor die liefde tussen man en vrou praat.
Tobias: Regtig? Die hele boek?
Tannie: Ja! Dis die boek Hooglied. Die naam beteken: die lied van alle liedere, of die mooiste, beste lied! Ons dink Salomo het dit geskryf.
Tobias: Interessant! Nou waaroor gaan dit?
Tannie: Julle, mense verskil oor hoe die boek verstaan moet word. Sommige mense sê dis te moeilik om te verstaan, want dit is in geheime kodes geskryf. Party mense sê die hele Hooglied gaan net oor God se liefde vir Israel of die kerk.
Tobias: Nou praat Tannie deurmekaar!
Tannie: Mm, kan deurmekaar klink, ja! Tobias, ons dink die boek is een van die wysheidsboeke van die Bybel. Ons het mos ook vir Job en Spreuke en Prediker. Die boeke leer vir ons hoe mense teenoor mekaar moet leef hier op die aarde.
Tobias: O! Nou wat leer die Hooglied boek?
Tannie: Tobias, dit lyk vir my dis ‘n boek vir mense wat gaan trou of klaar getroud is. Die naam laat ons mos dink die boek is ‘n liefdeslied. Die hele boek is entlik klomp liefdesliedere na mekaar wat vertel hoe twee mense vir mekaar lief raak, later trou en mekaar geniet.
Tobias: Sjoe! Dis wonderlik!
Tannie: Ja, Tobias, dit wys maar net weer hoe belangrik die huwelik vir ons Here is: dat Hy sowaar ‘n hele boek vol net liefdesliedjies in die Bybel laat sit!
Tobias: Fantasties! Tannie, gaan dit altyd goed in daai huwelik in Hooglied? Hoe sê julle grootmense? Maanskyn en rose?
Tannie: Nee, Tobias, dis nie altyd maanskyn en rose in daai verhouding nie. Dit beteken dit gaan nie altyd goed nie. Die woord roos is ook nogal in die boek, maar dis nie die soort rose wat ons ken nie. Nee, Tobias, daar is probleme tussen die twee mense: soms is hulle weg van mekaar af. Dit klink ook glad of die vrou nagmerries gekry het. Sy soek en soek haar man in die droom, maar kry hom nie!
Tobias: Aarde ons, nee!
Tannie: Julle, maar in die laaste hoofstuk van die boek lees ons dat die liefde baie sterk is: selfs sterker as die dood. Dis soos vuur wat brand, maar strome water of riviere vol water kan nie die vlam van liefde doodmaak nie. Die liefde tussen ‘n man en vrou kan ook nie gekoop word nie: nie vir al die geld in die wêreld nie.
Tobias: Tannie, maar dit klink tog so bietjie soos God se liefde?
Tannie: Jy is heeltemal reg, Tobias! Al vertel Hooglied ons van liefde tussen ‘n man en’n vrou, laat dit ons vreeslik baie dink aan God se liefde. Weet jy, in die Nuwe Testament vertel Paulus ons van die kinders van God - die kerk. Hoor wat sê hy: “mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus sy kerk liefgehad het en besluit het om dood te gaan vir die kerk - sy kinders.” Jesus en die kerk word daar vergelyk met ‘n huwelik tussen ‘n man en sy vrou.
Tobias: Regtig? Waar staan dit, Tannie?
Tannie: Tobias, dit staan geskrywe in Efesiers 5: 25. Die maats kan sommer die hele stuk van vers 21 tot vers 33 lees. God het die huwelik ook gemaak om ons iets te leer van ons liefde vir Hom en sy liefde vir ons.
Tobias: Jippie! Dis fantasties!
Tannie: Tobias, en in die boek Openbaring word ‘n storie vertel van ‘n groot troue wat gaan kom. Dis die troue wat gaan gebeur as Jesus weer kom en al sy kinders gaan na Hom toe.
Tobias: Tannie, ek verstaan nie alles nie, maar ek verstaan dat Jesus verskriklik lief is vir sy kinders! En die boek Hooglied laat my daaraan dink! Dankie, Tannie vir vandag! Ek het nie eers geweet van so ‘n boek in die Bybel nie! Maats, ons gaan nou groet, maar wil sommer gou weer kom! Mooi loop! Wees lief vir ons Jesus! Totsiens!
Tannie: Maats, met hierdie boodskap van liefwees vir mekaar en liefwees vir God, groet ek dan ook tot volgende keer! Totsiens!
***