Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Boeke van die profete 11: Die boek Jesaja
Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.
In hierdie episode gee ons 'n oorsig oor die boek Jesaja en vertel van sy roeping as profeet.
Boeke van die profete 11: Die boek Jesaja
Tobias: Stop, stop! Tannie Carin, stop!
Tannie:Hallo, Tobias! Wat is nou fout?
Tobias:Tannie, dis die verkeerde liedjie! O, aarde! Moet dit dan nie die wysheidsliedjie wees nie?
Tannie:Jammer, Tobias, ek wou jou nog sê: ons het nou die wysheids- en gedigte boeke klaar vertel. Ons is terug by die boeke van die profete.
Tobias:Boeke van die profete? O, die ouens wat vir die mense moes vertel wat God vir hulle gesê het?
Tannie:Net so, Tobias!
Tobias:O! Nou maar watter profeet kom nou aan die beurt?
Tannie:Tobias, maats, dis die profeet Jesaja. Sy naam beteken: God red. Hy het ‘n baie dik boek geskryf: ses en sestig hoofstukke. Dis net die Psalms wat meer hoofstukke het. Die boek is oor ‘n lang tyd geskryf. Daarom deel ons die boek in twee groot dele op. Jesaja was vir omtrent veertig jaar lank ‘n profeet in Juda. Hy was ‘n profeet in die tyd van klomp konings: Ussia, Jotam, Agas en Hiskia.
Tobias:Interessant? Vertel nog!
Tannie:Ons lees hy was die seun van Amos. Veel meer vertel die Bybel nie. Hy was wel getroud en het twee seuns gehad. Die kinders het snaakse name gehad. Die een se naam was Sear-Jasub. Dit beteken: ‘n Klein Bietjie (mense) Sal Terugkom. Op ‘n dag moes Jesaja hom saamvat na een van die konings wat baie bang was vir sy vyande. Met die kind daar by hom, moes hy vir die koning sê: “Bedaar! By kalm! Moenie so bang wees nie! Die Here sal sorg dat hierdie vyande nie vir julle wen nie.”
Tobias:Sjoe, Tannie! Dis wonderlik! En wat was die ander kind se naam?
Tannie:Sy naam was Plunder en Roof is Naby. Dis amper iets soos Vat en Steel is Naby. Die Here het gesê hy moet die naam kry. Juda moes hoor dat voor die kindjie kon praat, sou die Assiriërs vir Israel, die noordelike deel van die volk, wegvat uit hulle land.
Tobias:Aarde, Tannie, maar dis snaakse, grillerige name! Maar vertel bietjie hoe het Jesaja ‘n profeet geword?
Tannie:Tobias, Jesaja vertel: “Daai jaar wat koning Ussia dood is, was ek eendag in die tempel. Ek wonder of julle my sal glo? Ek het die Here gesien! Hy het op ‘n baie hoë troon gesit. Die onderste deel van sy lang rok het die hele tempel vol gelê. Julle, dit was nou vir jou iets om te sien! Daar was engele by Hom. Maar luister mooi: hulle het elkeen ses vlerke gehad. Met twee van die vlerke het hulle gevlieg. Met twee vlerke het hulle hulle gesigte toegehou en met die ander twee, het hulle hulle voete toegehou. Ja, en die engele het geroep na mekaar: hulle het geroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van die Here se grote wonderlikheid.” Maar moenie dink dit was ou sagte engel stemmetjies nie! Nee, hulle het so hard geroep dat die deure van die tempel gerammel het. En, en die hele tempel het vol rook geword. Mense, toe ek dit sien, skrik ek so groot dat ek uitroep: “Dis klaar met my! Ek gaan doodgaan! My mond praat net verkeerde goed en my volk se monde ook! En hier sien ek nou vandag sowaar die groot, almagtige Here!” Julle, toe gebeur daar ‘n ding: een van daai engele vlieg na my toe. In sy hand was ‘n tang. Met die tang het hy ‘n warm kool daar uit die altaar se vuur gevat en dit teen my lippe kom druk. Toe sê hy: “Nou is jou sonde vergewe.” Mense, ek staan nog toe daar en toe praat die Here: “Wie kan Ek stuur met ‘n boodskap?” Ek kon nie anders nie, ek het uitgeroep: “Hier is ek! Stuur my!” Julle, en toe begin vertel die Here vir my dinge wat ek vir Juda moes gaan sê. Hy het gesê: “Gaan sê vir die volk: julle sal hoor, maar niks verstaan nie. Julle sal kyk, maar niks sien nie. Want, Jesaja, Ek, die Here, maak dat hulle nie kan verstaan nie.” Mense, ek dink toe: nou vir hoe lank sal hulle dan nou niks verstaan nie? Ek vra die Here toe. Toe antwoord Hy dat Hy al die mense van Juda ook uit hulle land gaan laat wegvoer. Maar net voor ek heeltemal moedeloos wou word, hoor ek Hy sê: “Maar net soos julle ‘n boom afkap, en hy begin weer groei, so sal daar weer mense wees wat vir My lief is.”
Tobias:Tannie, ek bewe nou skoon! Klink my ons kan maar luister wat die profeet gesê het. Die Here het hom spesiaal geroep!
Tannie:Ja, julle! Party mense sê dat die boek Jesaja amper soos ‘n mini Bybeltjie is met twee boodskappe. Dit vertel hoe baie verkeerde dinge mense doen. En dan vertel dit dat daar Iemand gaan kom wat die mens sal red.
Tobias:Haai, Tannie? Dit klink soos Jesus waarvan Tannie praat?
Tannie:Ja, Tobias, dit is! Daar is baie dele in Jesaja wat ons van Jesus vertel. Mens kan so opgewonde raak as jy die boek lees. God het mooi vir Jesaja vertel van Jesus wat gaan kom. Jesus self en Paulus en ander skrywers van die Nuwe Testament het baie verse uit Jesaja gebruik om te wys dat Jesus die een is wat God belowe het.
Tobias:Dis fantasties, wonderlik, Tannie! Ek wil graag meer hoor van Jesaja!
Tannie:Tobias, dis hoekom ons meer as een storie gaan doen oor Jesaja, want daar is so baie waarvan ek julle wil vertel.
Tobias:O, lekker! Dan moet ons seker groet, dat die tyd kan kom dat ons weer kan kom luister. Maar ek dink my maatjie moet hoor van die Jesaja profeet. Maats, ek groet dan om gou te hardloop. Totsiens, totsiens!
Tannie:Maats, laat ons dan vir Tobias laat gaan na sy maatjie toe. Miskien kan julle ook vir iemand van Jesaja gaan vertel? Mooi loop! Tot volgende keer! Totsiens!
***