Bybelstories in Afrikaans

Boeke van die profete 13: Jesaja 13 tot 39

Carin Conradie Season 6 Episode 13

Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.

0:00 | 10:56

In hierdie hoofstukke gaan dit oor oordeel en hoop teenoor volke rondom Juda en ook oordeel en hoop vir Juda.   'n Kern vers is :  "Julle krag lê in stil wees en vertroue hê."

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Boeke van die profete 13:  Jesaja 13 tot 39

 

Tobias: Hallo, tannie Carin!  Ek sien Tannie het ‘n nuwe rokkie aan?  Dis mooi!

Tannie: Hallo, Tobias!  Baie dankie!

Tobias: Tannie, ek sien julle vrouens is so lief vir mooi klere, word daar ooit in die Bybel gepraat van klere?

Tannie: O, jy dink dis net ons vrouens? (lag)   Tobias, daar word nogal baie van klere gepraat, maar in ons storie van vandag, sien ons iets vreemds wat God vir Jesaja gesê het oor klere.

Tobias: Die profeet Jesaja?  Vertel bietjie!

Tannie: Julle, die deel van Jesaja waaroor ons vandag gesels, is eintlik ‘n klomp gedigte.   In die gedigte raas God met die nasies wat rondom Juda  gebly het.

Tobias: Tannie, wie was die nasies?

Tannie: Tobias, daar was die Assiriërs.  Hulle was sterk, maar later het Babel sterker geword en hulle grond afgevat.   Dan was daar ook die Filistyne - julle sal  onthou Goliat in Dawid se tyd, was ‘n Filistyn.  Moab was nog ‘n land en hulle was die nageslag van Lot, Abraham se nefie.  Tirus was ook ‘n ryk  land.  God het selfs met lande in Afrika geraas:  Kus en Egipte.

Tobias: Nou waaroor het God met hulle geraas?

Tannie: Jongie,  eintlik was dit oor almal hoogmoedig was, afgode aanbid het en sommer heeltemal van God vergeet het.   God het met hulle geraas, omdat Hy wil hê alle volke en mense moet na Hom toe terugkom.

Tobias: Maar waar kom die klere-storie in, Tannie?

Tannie: Tobias, die Here het met Kus en Egipte gepraat.  Hulle het gedink hulle is sterk en kan hulleself help.  Juda het na hulle gekyk en gedink hulle kan hulp kry by die mense en  het skoon vergeet hulle moet vir  God vir hulp vra.   Toe praat God met Jesaja:  “Jesaja, ek wil hê jy moet ‘n prentjie vir Kus en Egipte wees.”   Jesaja het gevra:  “’n Prentjie wees, Here?  Hoe?”    “Jesaja, trek jou skoene uit.”   Toe trek Jesaja sy skoene uit.  “Trek nou ook jou rok uit”   “My rok, Here?  Regtig?  Mens raak mos skaam as jy  jou rok uittrek!”  Maar Jesaja het gehoorsaam en dit gedoen.   Toe vra Jesaja weer:  “Here, kan ek dit nou maar weer aantrek?”  Maar die Here het  geantwoord:  “My profeet, jy gaan drie jaar so rondloop:  sonder skoene en sonder jou rok.   Ek wil hê Egipte en Kus moet jou so sien.  Jy, so sonder skoene en ‘n rok moet vir hulle wys hoe Assirië hulle uit hulle land  gaan kom wegvat.  Hulle gaan kaal en sonder skoene  moet loop na die land van die Assiriërs toe.”

Tobias: Tannie, dis erg!   Hoekom het hulle dan van God vergeet?

Tannie: Tobias, hulle het gedink hulle is sterk,  maar God het op soveel plekke deur Jesaja gesê dat hulle net mense is.  Hulle kan nie hulleself of ander help nie.  Die Assiriërs het vir Juda se koning Hiskia gespot:  “Julle vertrou op Egipte?  Ne?  Man, Egipte is nes ‘n ou stukkende rietkierie waarop julle druk.  Julle leun nog so op hulle, dan breek dit en steek jou hand stukkend. (lag)”  

Tobias: Ai, nee! En die Assiriërs?

Tannie: Julle, hulle is later deur die Babiloniërs oorgevat.   Die hele storie van Jesaja vertel ons dat ons nie op mense moet vertrou nie.  Ons moet by God hulp soek.  Tobias, as ons Jesaja lees sien ons dat God nog so praat oor hoe Hy die volke en vir Juda gaan straf, en dan praat Hy weer oor hoe Hy hulle gaan terugbring na Hom toe en dat alles sal goed gaan .  Want dis hoekom Hy straf.  Hy  wil hulle terugroep.

Tobias: So, God het met Juda ook geraas in hierdie hoofstukke van Jesaja?

Tannie: Ja, Tobias.  God was so hartseer oor sy mense so hoogmoedig was.  Hy het veral met een man, Sebna, iemand wat vir die koning gewerk het, hard geraas.  Die Sebna het by homself gedink:  “O, ek is belangrik!  O, die mense moet my tog altyd onthou, selfs na my dood.  Ek het ‘n plan: kom ek bou vir my ‘n groot graf daar hoog teen die berg waar almal dit sal kan sien. Net so ‘n graf soos die konings gewoonlik het.”  Maar op die ou end is hy  weggevoer uit die land en is nooit in die graf begrawe nie.  Die man na hom, Eljakim, was eers nederig en het die Here gedien.  Toe word hy ook hoogmoedig.

Tobias: Ai, ai, ons mense darem!

Tannie: Tobias, maats,  maar die boek Jesaja is vol hoop.   Jesaja het vertel hoe Jerusalem en selfs Assirië en ook Egipte weer gaan terugkom na die Here toe.  Jerusalem gaan eendag die stad wees waarheen almal gaan kom wat die Here wil dien.  Mense gaan weer luister en terugkom na God toe.  Hoor hoe mooi het God vir Jesaja gesê:   “Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.”

Tobias: Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.  Fantasties!  Tannie,  het al Jesaja se profesië al waar geword?

Tannie: Tobias, party dinge het gou gebeur.  Babilonië het honderd jaar later die lande oorgevat.   Jesus se koms was omtrent sewe honderd jaar later.  Hy het ook geprofeteer dat Jesus weer gaan kom, al weet ons nog nie wanneer nie.  

Tobias: Tannie, as al die dinge wat Jesaja geprofeteer het, waar geword het, gaan Jesus se koms ook waar  word.  Jippie!  Jippie!  En dan gaan Hy Koning van die hele aarde wees?

Tannie: Tobias, dan gaan almal op aarde sien Hy is die Koning en almal gaan voor Hom buig.

Tobias: Fantasties, wonderlik!   Maats, dis nou lekker om ons storie so af te sluit.  Tannie, is daar nog stories uit Jesaja?

Tannie: Ja, Tobias, ons wil weer kom en nog vertel van die profeet Jesaja.

Tobias: Wonderlik!  Maats, vertel, vertel van hierdie Koning van ons!  Hy kom weer! Net Hy is sterk en kan help!  Ons groet dan tot volgende keer.   Totsiens, totsiens!

***