Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Boeke van die profete 14: Jesaja 40 tot 66
Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.
In die tweede deel van Jesaja lees ons baie meer van hoop en herstel. Die koms van die Messias, Jesus, word ook baie duidelik geprofeteer.
Boeke van die profete 14: Jesaja 40 tot 66
Tobias: Tannie Carin, hallo! Ek is so lus vir….
Tannie: Hallo Tobias! Waarvoor is jy lus?
Tobias: Vir sing, Tannie, vir sing! Is daar dalk ‘n nuwe liedjie vir ons?
Tannie: Mmm, ek wonder? Ons is mos besig met die boek Jesaja, en daar is sulke mooi gedigte in die boek. Hoor gou ‘n stukkie uit Jesaja 61:
(sing) Oor die Here is ek so bly, ek juig oor my God,
Want Hy’t my gered, ek’s vry. Ek’t oorwinnaarsklere gekry.
Tobias: Tannie, wonderlik! Wie het dit gesing?
Tannie: Tobias, dit lyk vir ons die profeet het dit gesing.
Tobias: Tannie, vertel bietjie hoekom sing hy oor red?
Tannie: Tobias, maats, kom ek probeer verduidelik. Ons kom vandag by Jesaja 40 tot 66. Dit is soos ‘n tweede deel van dieselfde boek. In die eerste deel het Jesaja geskryf dat Israel tog moet terugkom na God toe, anders gaan die Assiriërs en later die Babiloniërs hulle kom wegvat uit hulle land. Hierdie tweede deel praat oor baie, baie jare later. Dis waarom party mense dink die tweede deel is nie deur Jesaja geskryf nie. Ander sê weer Jesaja het dit geskryf, maar hy het geprofeteer wat baie jare later gaan gebeur.
Tobias: O! So is dit geskryf vir die mense wat na Babel weggevoer is?
Tannie: Net so, Tobias. Hierdie tweede deel wil vir ons drie groot dinge vertel.
Tobias: Nou wat is die eerste ding, Tannie?
Tannie: Julle, die eerste deel vertel dat die mense gered gaan word! Die boek is vol hoop!
Tobias: Jippie!
Tannie: Maar die mense vra: “Die Here sien my nie raak nie. Hy maak nie reg met ons nie.” God antwoord hulle dan dat Hy ewig en sterk is en altyd help. Die straf om na Babel te gaan, was juis om hulle terug te bring na Hom toe. Hoor hoe staan dit in Jesaja 40: “Weet jy dan nie? Het jy nie gehoor nie? Die Here is die ewige God wat alles gemaak het. Hy raak nie moeg nie. Hy weet alles, Hy help mense wat moeg en op is.” Julle, Jesaja vertel dat God ‘n nuwe man, Kores, sou laat koning word van Persië. Hy sou vir Babel wen en die volk Juda laat teruggaan na Jerusalem.
Tobias: Tannie, ons het mos daarvan gehoor in die boek van Nehemia!
Tannie: Jy onthou mooi, Tobias!
Tobias: Tannie, maar wat is die tweede ding wat ons moet hoor?
Tannie: Maats, Tobias, God het vir Juda gesê dat hulle dan nou nog steeds nie doen wat Hy vra nie, al is Hy so goed vir hulle. Die ander volke kan nie in hulle lewe sien hoe wonderlik God is nie. Daarom gaan God een Dienaar stuur wat vir almal sal wys hoe wonderlik God regtig is. Hy sal mense red.
Tobias: Tannie, dit klink dan soos Jesus Christus?
Tannie: Jy is reg, Tobias! In hoofstuk 9 het Jesaja al van Hom begin praat. In hierdie deel van die boek word daar in ‘n klomp hoofstukke van Jesus gepraat. Die profeet vertel dat hierdie Dienaar baie wonderlik gaan wees. Hy gaan mense red - nie deur te veg met ‘n swaard nie. Nee, Hy gaan gemartel en doodgemaak word om mense te red. Ons lees in Lukas 4 hoe Jesus op ‘n dag in die sinagoge in Nasaret juis Jesaja 61 gelees het. Hy het vir die mense gesê daai stuk is oor Hom geskryf.
Tobias: O, jippie, jippie! Fantasties! En Tannie, die Dienaar het die dood ook gewen?
Tannie: Ja, Tobias! In Jesaja 53 staan: “Na sy bitter swaarkry, sal hy weer die lig sien.” Jesus het gesterf en het opgestaan uit die dood!
Tobias: Sjoe, Tannie, dit maak my so opgewonde! Tannie, maar wat is die derde ding wat ons hier lees?
Tannie: Julle, dit gaan daaroor dat dit nie net Juda is wat uit Babel gered gaan word nie. Nee, die Dienaar Jesus het vir alle mense gekom. Alle volke kan gered word van hulle sondes. God gaan alles nuut maak. Soos ‘n hele nuwe Jerusalem en ‘n nuwe aarde en ‘n nuwe hemel. Hoor wat lees ons in hoofstuk 65: “Die wat My dien, sal genoeg hê om te eet. Die wat My nie wil dien nie, sal honger wees. Vir my dienaars gaan alle swaarkry stop. Tot lammertjies gaan nie meer bang wees vir wolwe nie. Hulle sal sommer op een plek rustig saam wei aan groen bossies. Niks verkeerds sal meer gebeur nie of niks sal meer breek nie.”
Tobias: Mensig, Tannie! Die boek Jesaja vertel van voor Israel weggevat is uit hulle land tot nadat Jesus eendag weer gaan terugkom!
Tannie: Ja! Dis hoekom sommige mense Jesaja ‘n klein Bybeltjie binne-in ons groot Bybel noem! Dis nie altyd maklik om die boek te lees nie, maar ek hoop die maats sal tog probeer om dit te lees. Ons sien daarin hoe vol liefde God is. Hy is soos ‘n skaapwagter wat die ou klein lammertjies optel en dra en mooi kyk na die hele trop skape. Hy laat ook sy kinders so veilig voel soos ‘n mamma haar baba laat veilig voel en styf vashou.
Tobias: Tannie, ons God is fantasties, wonderlik! Ek wil altyd vir Hom liefhê en doen wat Hy vra. Tannie, kan ons dalk vandag afsluit met daai liedjie uit Jesaja 61?
Tannie: Tobias, ons God is fantasties! Maats, ons kan glo wat Hy sê! Ja, storietyd is al weer om. Ons groet julle dan met die lied van die profeet. Totsiens, almal!
(sing) Oor die Here is ek so bly, ek juig oor my God,
Want Hy’t my gered, ek’s vry. Ek’t oorwinnaarsklere gekry.
Nes ‘n bruidegom is ek, priesterskroon op my kop in plek.
Nes ‘n bruid met haar juwele, kom luister al wat lewe
Nes plante groei en vrugte gee, So’s dit die Here wat oorwinning gee
Ek wil sing, ja luister elke oor, ‘n loflied vir my God gaan julle hoor.
***