Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Boeke van die profete 15: Jeremia
Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.
In hierdie episode gee ons 'n kort weergawe van die lange Jeremia boek (52 hoofstukke). Jeremia het sy lewe gegee vir 'n boodskap wat mense nie wou hoor nie. God het hom vir 40 jaar gehelp om hierdie boodskap te verkondig.
Boeke van die profete 15: Jeremia
Tannie: Hallo, Tobias! En as jy so geirriteerd lyk vandag?
Tobias:Hallo tannie Carin. Tannie, dit maak my so vies as mense net altyd kla en kla en kla. Oor simpel, klein goedjies. Mensig! Is daar ‘n woord vir sulke mense?
Tannie:Ja, Tobias, dit kan mens nogal irriteer. En ja, ons het nogal ‘n woord vir so ‘n mens. Ons sê hy is ‘n ou Jeremia.
Tobias:Tannie, maar dis dan ‘n naam? En, en is daar dan so ‘n Bybelboek ook nie?
Het Jeremia aanmekaar gekla?
Tannie:Nee, nie regtig nie. Hy was ‘n profeet in Juda en die Here het vir hom veertig jaar lank met baie swaar, slegte boodskappe na die volk gestuur om te vra hulle moet terugkom na God toe.
Tobias:Tannie, vertel bietjie wie was Jeremia?
Tannie:Tobias, maats, hy was ‘n priester uit die dorp Anatot. Hy was sommer nog baie jonk, toe het die Here vir hom gesê: “ Jeremia, ek ken jou nog lank voor jy gebore is. Ek het jou gekies om profeet in Juda en vir al die nasies te wees.” Jeremia het geantwoord: “Nee, aarde, Here, ek is te jonk en ek kan nie goed praat nie.” Die Here sê toe: “Moenie sê: ek is te jonk nie. Jy moet gaan na wie toe Ek jou ookal stuur. Moenie bang wees nie. Ek is by jou en sal jou red. Ek sal my woorde in jou mond lê.” Toe het God sy mond aangeraak.
Tobias:Haai! En toe word hy God se profeet?
Tannie:Dis reg! Die Here het vir hom gesê dat Juda gestraf gaan word omdat hulle nie meer vir God lief is nie. Hulle het nare offers vir nare afgode gebring, mekaar se mans en vrouens afgevat, mense laat swaarkry en aangeval. Jerusalem was so onveilig dat niemand meer buite hulle huise wou wees nie.
Tobias:Het hulle geluister na hom, Tannie?
Tannie:Nee, Tobias, hulle het nie. Hulle het eerder geluister na die valse profete wat gesê het: “Alles is reg, alles is reg,” Maar niks was reg nie. Die mense het kastig nog offers vir die Here gebring, maar ook vir Baal en die hemelkoningin.
Tobias:En dis hoekom hulle gesê het hy kla aanmekaar? Omdat hy weer en weer gesê het hulle moet terugkom na die Here toe?
Tannie:Net so, Tobias! Hy het vir hulle gesê: “Moenie dink julle is veilig omdat julle kastig offers vir die Here bring nie. Maak liewers julle lewe en julle dade reg.” Maar die mense het kwaad geword vir hom. Sy familie wou hom doodmaak, omdat hy gesê het wat die Here sê. Arme ou Jeremia het baie swaar gekry. God het gesê hy moenie trou en kinders kry nie. Hy moes ook niemand se partytjies of begrafnisse bywoon nie. Hy het by die Here gekla dat hy baie eensaam en alleen voel. Die Here het vir hom gesê: “Ek maak jou soos ‘n klip harde bronsmuur. Die mense sal jou nie kan wen nie. Ek sal jou help en red.” Later wou Jeremia nie meer profeteer nie, maar nes hy wou stilbly, het die Here se boodskappe in hom gebrand soos ‘n vuur. Hy moes net praat. Hy het gesê: “U is by my, Here. U is magtig en sterk.”
Tobias:Behalwe sy familie, wou ander mense hom ook doodmaak?
Tannie:Ja, Tobias! ‘n Priester het hom op ‘n dag geslaan en in ‘n houtblok vasgeskroef. Dit was baie seer! Eenkeer wou ‘n koning vir Jeremia en Baruk, die man wat alles opgeskryf het in ‘n boekrol, ook doodmaak. Toe het die Here self hulle weggesteek. Die koning het die boekrol verbrand. Arme Baruk moes toe alles oorskryf. Julle, hulle het vir Jeremia in die tronk gesit, in die paleis se binneplaas opgesluit en selfs in ‘n modderige put laat insak.
Tobias:Maar hy het net aangehou en aangehou om God se boodskap te bring?
Tannie:Ja, julle! ‘n Tyd lank het hy houtjukke op sy skouers rondgedra om te wys koning Nebukadnesar van Babel sou hulle kom vang as hulle nie terugkom na God toe nie. Ja, en eendag gaan wys die Here vir hom hoe ‘n pottebakker ‘n baie mooi pot uit klei wou maak. Maar die pottebakker het gesukkel, want dit was swak klei waarmee hy nie ‘n mooi, fyn pot kon maak nie. Toe moes hy maar ‘n growwe pot daarmee maak. Dit het beteken dat God so graag wouhê die volk moet sagte, goeie klei in sy hand wees. Hy wou vir hulle ‘n mooi toekoms gee, maar hulle was hardkoppig en wou nie saamwerk met God nie.
Tobias:Tannie, dis ons ook partykeer?
Tannie:Ai, Tobias, ja, dis ons ook partykeer! Jeremia het baie keer gesê dat as hulle hulle bekeer, sal die Here die straf wegvat. Hy het ook gesê dat hulle net vir sewentig jaar in Babel sal wees. Dan sal die Here hulle weer terugbring.
Tobias:Regtig? Wonderlik!
Tannie:Ja! En die Here het tot gesê Jeremia moes vir hom grond koop nog voor Babel hulle kom binne-val het. Net om te wys dat dit waar gaan word dat hulle na sewentig jaar gaan terugkom. Jeremia moes vertel dat die einste Babel wat vir Israel gaan inneem, ook eendag gaan val. Hy moes in ‘n boekrol skryf wat met Babel gaan gebeur. Iemand het dit in Babel hardop voorgelees en dit toe in die Eufraat rivier gaan gooi, om te wys dit gaan gebeur. Julle, en Jeremia het ook geprofeteer dat Jesus eendag gaan kom as die groot koning.
Tobias:Tannie, klink vir my Jeremia het nie verniet gekla nie? Hy wou Juda waarsku.
Tannie:Dis waar, Tobias. En al het Babel hulle toe ingeval en is Jeremia deur mense van Juda gevang en na Egipte gebring, het dit waar geword dat Babel geval het. Dit het waar geword dat Jesus gekom het. Dit gaan waar word dat Jesus weer kom.
Tobias:Jippie! Jippie! Maats, klink my Jeremia is tog ‘n wonderlike Bybelboek! Die swaarkry, klaerige profeet het gedoen wat God wou hê. Kom ons doen ook wat God wil hê?
Tannie:Maats, en hiermee groet ons dan vandag! Ja, kom ons wees sagte goeie klei in God se hand. Tot volgende keer. Totsiens!
***