Bybelstories in Afrikaans

Boeke van die profete 16: Klaagliedere van Jeremia

Carin Conradie Season 6 Episode 16

Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.

0:00 | 10:24

Die boek Klaagliedere is net vol huil-liedere na die ballingskap van Juda na Babel.  Tog is daar pragtige verse waar Jeremia uitroep na God.

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Boeke van die profete 16:  Klaagliedere van Jeremia

 

Tobias: Hallo, almal!  O, ek voel so vrolik vandag!  Ek wil sommer sing en spring !

Tannie: Hallo, Tobias!  Dis lekker om jou so vrolik te sien?

Tobias: Tannie Carin, as ek baie bly is, weet ek wat ek kan doen.  Ek praat ook dan sommer aanmekaar!   Maar Tannie,  ek weet nie altyd wat om met hartseer  te doen nie.  Hoe maak mens as jy regtig hartseer is?  Mag ek maar huil?

Tannie: Ai, Tobias!  Ja, verseker mag jy huil.  En jy moet huil.   Ek moet sê ons maak nogal te min van hartseer.  Ons praat dalk bietjie daaroor en huil bietjie en dan dink almal ons moet nou sommer reg wees.  Weet jy, die ou Israeliete en ook ander mense het huil-liedjies geskryf.  Dan het hulle dit gesing as hulle so hartseer is.  

Tobias: Soos party Psalms, Tannie?

Tannie: Ja! Daar is ‘n klomp huil-Psalms.  Maar weet julle daar is ‘n boek in die Bybel wat se naam is:  Klaagliedere.  Die hele boek is net huil-liedjies.

Tobias: Haai, regtig?  Vertel bietjie van Klaagliedere?

Tannie: Ons dink Jeremia het dit geskryf.  

Tobias: Jeremia?  Die profeet?

Tannie: Net so!   Daar is vier hartseer huil liedere in die boek en een gebed.   Hy het dit geskryf nadat koning Nebukadnesar en die Babiloniërs vir Jerusalem kom inval het.   In die eerste lied gaan dit oor die stad wat amper net so huil soos ‘n vrou sal huil oor haar man wat dood is.   Die lied huil oor alles wat gesteel en gebreek en verbrand is.  Die mooie tempel wat Salomo gebou het, is afgebreek en al die mooi goed is weggevat.   Die meeste mense is ook weggevoer na Babel toe.  Die vier liedere is geskryf op ‘n interessante manier.  Jeremia het die Hebreeuse alfabet met sy twee-en-twintig letters gevat.  Elke tweede of derde sinnetjie  begin met die volgende letter van die alfabet.  In ons taal sal dit iets wees soos:  “Aaklig is dit dat die stad so stukkend is.  Bitter hartseer is die stad wat magtig was.”  Goed, ons het nie woorde wat in Afrikaans met ‘n C  begin nie.  Dan miskien iets soos:  “Daar is niemand wat help nie.  Ellende is al wat nou nog oorbly.”

Tobias: O, ja, dis nou slim!  A, B, D, E.  So kon die mense die lied makliker leer!  Hulle dink net aan die volgende letter van hulle alfabet.

Tannie: Dis reg, Tobias.  

Tobias: Maar Tannie, ek kan nie sing as ek huil nie.

Tannie: (lag)  Nee, ek ook nie, Tobias.   Maar die klaagliedere is vir voor hulle huil en nadat hulle gehuil het en sommer nog vir die volgende jaar of wanneer hulle ook al weer aan die hartseer tyd dink.

Tobias: O!  Goed!   Tannie, en die tweede alfabet huil-lied?

Tannie: Die tweede lied in Klaagliedere vertel dat dit so sleg met die stad en sy mense gaan, omdat God hulle gestraf het.  Hy het hulle baie gewaarsku deur die profete, maar hulle wou nie luister nie.  Daarom sing hulle ook in die lied dat hulle weer tot die Here moet roep om hulle te help.

Tobias: Ons ook, Tannie!  Ons kan mos altyd vir die Here vra om ons te help?

Tannie: Ja, verseker!   

Tobias: En die derde liedjie, Tannie?

Tannie: In die derde liedjie sing die skrywer van die boek hoe swaar hyself kry.  Hy sing dat mense glad spotliedjies oor hom skryf.  Hy huil sommer aanmekaar.  Maar hoor net wat skryf hy ook daar:  “Maar ek sal aanhou hoop dat die Here sal help.  Sy liefde hou nooit op nie.  Elke nuwe more is sy genade weer splinternuut!  Dis goed om geduldig te wag tot die Here ons help.”  En die Here het hom geantwoord!  Hy het gesê:  “Moenie bang wees nie!”

Tobias: O, daai stukkie klink vir my soos ‘n prysliedjie vir ons God!   Fantasties!  Tannie, en die vierde liedjie van Klaagliedere?

Tannie: Julle, dis ‘n huil-lied oor die goue tempel nou flenters lê.  Die mooi edelstene is oral neergegooi.  Die mense is honger en kry verskriklik swaar.  En dit alles omdat hulle nie wou luister nie.  Maar selfs in die lied sing hy ook dat God dit sal verander.  Hy  sal die mense van Juda weer terugbring na Jerusalem toe.

Tobias: En dit het na sewentig  jaar weer gebeur, ne, Tannie?

Tannie: Ja, julle, dit het!

Tobias: O, fantasties, wonderlik!

Tannie: Ja!  God is fantasties, wonderlik!    Julle, en dan kom ons by die laaste gebed in die boek uit.   Jeremia bid hier iets soos:  “Ag Here, kyk tog hoe verskriklik swaar kry ons.  Ons het verkeerd gedoen.  Ja, en ons pa’s en oupas ook.  Dis so gevaarlik hier.  Ons huil net en lag nooit meer nie.   Maar U Here, U is vir altyd Koning.  U is altyd en altyd op die troon.”

Tobias: Sjoe, Tannie?  Dankie dat ons van Klaagliedere van Jeremia kon hoor.   Tannie, ek dink ek wil ook my hartseer so kan uitsing soos daai mense.  Maar Tannie, ek kan nie liedjies skryf nie.  Ek weet nie hoe nie.

Tannie: Toemaar Tobias, jy hoef nie.  Jy kan sommer in die Bybel gaan kyk na die Psalms.  Daar is klomp wat mense al mooi in liedere omgeskryf het wat ons kan sing, soos Psalm 22 en 44 en 51  en 74.  Die maats moet bietjie vra hulle ouers moet hulle help soek.  Ek weet daar is ‘n mooi Engelse lied van Psalm 13 wat die maats by Sovereign Grace Music kan gaan soek.  Die lied se naam is “How long, o Lord, how long?”

Tobias: Tannie, ek is so bly ou Jeremia het ons vandag geleer ons mag maar huil.  En as ons huil kan ons sing en bid tot God.  Maats, ek is so opgewonde oor die Bybel - God se Woord!   Julle moet dit lees-lees-lees!

Tannie: Ja, ons kan dit lees-lees-lees!  Maar ons storie-tyd vir vandag is ongelukkig nou om.  Maats, ons wil sommer gou weer kom vir nog stories van die profete.   Mooi bly!  Totsiens, almal!

***