Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Boeke van die profete 17: Esegiël word 'n profeet
Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.
In die eerste drie hoofstukke van Esegiël hoor ons hoe hy 'n glimps van God gesien het, die dag wat hy geroep is as profeet.
Boeke van die profete 17: Esegiël word ‘n profeet (Esegiel 1 tot 3)
Tobias: Hallo, tannie Carin! Tannie, ruik gou hoe lekker ruik die rosie!
Tannie: Laat ek ruik? Mmm! So lekker! En kyk net hoe mooi is die ou geel rosie!
Tobias: Tannie, die blommetjies is vir my so mooi! En God het dit mos gemaak! Ek dink Hy moet ook baie mooi wees! Tannie, hoe kan ons Hom sien?
Tannie: My liewe Tobias, ek dink ook Hy is mooi, maar ons kan Hom nie sien terwyl ons nog op die aarde bly nie.
Tobias: Aggenee! Maar het iemand Hom al gesien? Kan hulle dalk vertel hoe Hy lyk?
Tannie: Julle, daar is ‘n paar stories in die Bybel van mense wat so ‘n stukkie van Hom gesien het, soos Esegiël.
Tobias: Wonderlik! Wie was Esegiël?
Tannie: Tobias, koning Nebukadnesar van Babel het mos die land van Juda kom inval en party van die mense weggevoer na sy land. Een van die mense was Esegiël. Sy pa was Busi, ‘n priester. Esegiël sou ook ‘n priester geword het as hulle nog in Jerusalem gebly het. Maar nou was dit al vyf jaar nadat hulle daar in Babel aangekom het. Esegiël was nou dertig jaar oud, maar hy het geweet hy sal nooit ‘n priester word nie. Op ‘n dag sit hy toe daar langs ‘n waterkanaal op die plek waar al die ander mense van Juda in Babel gebly het. Dalk het hy gesit en dink oor Jerusalem. En toe ewe skielik…
Tobias: Wat? Wat Tannie?
Tannie: Hy het vertel: “Julle mense, ek sit toe nog so langs die water en toe kom God se gees oor my. Hy wys my toe iets wonderliks! Uit die noorde het ‘n groot storm aangekom. Dit was ‘n wolk, maar ook weerlig. Amper soos vuur binne- in ‘n wolk. Die vlamme van die vuur het heen en weer geflits. En toe kom daar iets soos spierwit metaal wat lyk of dit brand so uit die wolk uit.”
Tobias: Tannie, vertel!
Tannie: Esegiël het vertel: “Julle, ek sien toe vier lewendige goed, soos brandende kole vuur, so aankom uit die wolk uit. Maar was hulle nou eienaardig: amper soos mense, maar tog nie, want hulle het elkeen vier gesigte gehad. Ja, vier! Een gesig was soos ‘n mens s’n; een soos ‘n leeu. Nog ‘n gesig was soos ‘n bul s’n en nog een soos ‘n arend se gesig. Ja, en hulle het elkeen vier vlerke gehad.”
Tobias: Mensig! Dan kon hulle seker goed vlieg?
Tannie: Seker, ja! Met twee van die vlerke het hulle gevlieg en as hulle gaan staan het, het hulle hul lywe daarmee toegevou.
Tobias: Nou wat het hulle met die ander vlerke gemaak?
Tannie: Luister na Esegiël: “Hulle het hulle vlerke teenmekaar gehou om iets te kon dra. En weet julle, langs hulle was wiele. Dit was nou vir jou mooi wiele vol edelstene. Elke wiel het ook ‘n wiel binne-in gehad. Die wiele kon enige kant toe ry. En dan was die wiele vol ogies. En julle moes die geluid gehoor het: Sjoe! Dit het geklink soos ‘n groot waterstroom, of eintlik soos klomp mense bymekaar, of nee, dalk eerder soos die gedreun van ‘n klomp soldate wat saam masjeer.”
Tobias: Mensig! Tannie, nou wat het die lewende wesens gedra?
Tannie: Julle, dit was amper iets soos ‘n hemel self, wat ook eintlik soos ‘n spierwit ysberg gelyk het. In die soort van hemel kon Esegiël ‘n pragtige saffierblou troon sien. Op die troon het iemand gesit wat soos ‘n mens lyk, maar hy kon nie baie goed sien nie, want die Een op die troon het geblink en geskitter en gelyk soos vuur en tog ook soos ‘n reënboog.
Tobias: O, dit klink mooi! Tannie, Esegiël het seker bang geword?
Tannie: Ja, hy het! Hy het plat geval, op sy gesig. En toe praat die Een op die troon met hom: “Mens, staan op, ek wil met jou praat. Ek stuur jou na die volk Israel toe. Jy moet vir hulle alles vertel wat ek sê. Maar Ek moet jou waarsku: hulle is baie hardkoppig. Hulle gaan nie na jou luister nie. Hulle luister ook nie na My nie. Maar ek gaan jou kop so kliphard soos ‘n diamant maak. Jy moenie vir hulle bang wees nie.”
Tobias: God het met hom gepraat? O, Tannie?
Tannie: Ja, Tobias! God het hom gesê om nou sy profeet te word. God het vir hom’n boekrol gegee met klomp huil-liedere en hartseer dinge op geskryf. Toe moes hy die boekrol eet.
Tobias: Dit eet? Het die sleg gesmaak?
Tannie: Nee, nogal nie! Esegiël vertel dat dit lekker soet was, soos heuning.
Tobias: Dis snaaks! Seker omdat hy gedoen het wat God gevra het? En toe, Tannie:
Tannie: Julle, Esegiël het so geskrik vir die prentjie, dat hy vir sewe dae net op een plek daar by sy mense gesit het. Na die sewe dae het God weer met hom gepraat: “Jy moet vir almal sê wat ek sê. As hulle luister, is dit goed. Maar as jy nie met hulle praat nie, gaan Ek vir jou vra hoekom het jy dan nie my mense gewaarsku het nie.” Julle, en toe moes Esegiël na ‘n vallei toe gaan. Daar het hy weer ‘n stukkie van God gesien in baie, baie blink lig - in God se heiligheid. Esegiël se volgende werk was om homself in sy huis te gaan toesluit en niks te praat nie. Later sou God hom sê wat hy moes praat.
Tobias: Tannie, voel of ek ook nou vir God so halfpad gesien het. Hy is so groot! Ek voel skrikkerig, maar ek wil hoor wat hierdie heilige God sê. En ek wil doen wat Hy sê! Klink my God is te mooi, dis hoekom Hy in blink en lig en vuur wegkruip.
Tannie: Tobias, maats, al kan ons nie regtig die prentjie verstaan nie, kan ons weet ons God is heilig en mooi. Hy sien oral. Hy is oral. Ons kan nie anders as om te doen wat Hy vra nie. Hy weet die beste en is die beste! En hiermee moet ons dan nou ons storie vandag afsluit. Julle, kom gerus weer vir nog stories uit Esegiël. Mooi bly! Totsiens, maats!
***