Bybelstories in Afrikaans

Boeke van die profete 18: Esegiël hou konsert in die straat

Carin Conradie Season 6 Episode 18

Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.

0:00 | 10:24

In Esegiël 4 - 7 lees ons van die profeet wat vir Juda daar in Babel met straattoneeltjies moes wys wat met die stad Jerusalem gaan gebeur, omdat hulle weggedwaal het van God af.

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Boeke van die profete 18:  Esegiël hou konsert in die straat   (Esegiël 4-7)

 

Tobias: (snak na asem)

Tannie: Hallo, Tobias!  En as jy so moeg is?  Waar kom jy nou vandaan?

Tobias: Hallo, julle almal!   Tannie, ek het nou gehardloop van my maatjie af.  Ons het so lekker konsert geoefen, dat ek amper vergeet het van storie-tyd! (lag)

Tannie: Konsert geoefen?

Tobias: Ja, tannie Carin.  Ons hou so baie van konsert-konsert speel.  Ons wil oefen en vir julle grootmense konsert hou!

Tannie: Dit klink nou lekker!   Tobias, weet jy dat die profeet Esegiël ook konsert gehou het in die straat?

Tobias: Haai, regtig?  Het hy graag in konserte gespeel?

Tannie: Tobias, ek is nie so seker hy het daarvan gehou nie, maar God het vir hom gesê om dit te doen.  En hy wou doen wat God sê.

Tobias: Tannie maak my nou baie nuuskierig.  Vertel bietjie?

Tannie: Maats, Tobias,  God het vir hom drie tonele gegee om te speel.  Hy moes ook vir die mense verduidelik wat dit beteken.   Vir die eerste toneel van die konsert het God gesê:  “Esegiël, Ek wil hê jy moet vir die mense hier in Babel wys wat gaan met Jerusalem gebeur.”   Julle, toe moes Esegiël ‘n hele model bou van die stad.   Hy het begin met ‘n baksteen.  Hy het die stad Jerusalem daarop geteken.   Toe bou hy beleëringswerke rondom die stad.

Tobias: Be-bel -wat, Tannie?

Tannie: Beleëringswerke.   Tobias,  die stede het mure rondom hulle gehad.   As ‘n vyand wil inkom, het die mense van die stad die groot poortdeure toegemaak.  Die vyand wou dan op ‘n ander manier bo-op die stadsmuur probeer kom.  Hulle het iets soos groot hout trappe gebou teen die muur van die stad waarteen hulle kon opklim tot bo.  Daarna moes Esegiël ‘n wal van grond gooi teen sy Jerusalem-model se stadmuur.  Gewoonlik kon die soldate dan ook daarteen oploop om bo-op die stad se muur te kom.

Tobias: Sjoe!  Wat nog?

Tannie: Hy moes ‘n model van ‘n soldatekamp maak  daar langs sy baksteen stad.   Hy het ook klein stormramme gemaak en rondom sy stad gesit.

Tobias: ‘n Regte ram wat storm?

Tannie: (lag)  Nee, Tobias!  In die ou tyd het hulle ‘n lang, dik paal gevat en ‘n sterk ysterkop aan sy punt gesit.  Party  is deur mense gedra, maar party was op wiele.   Die vyand het dit dan gebruik om die stad se poortdeure oop te stamp.

Tobias: Aarde!   Wat moes Esegiël nog bou?

Tannie: Julle, hy moes toe ‘n ysterplaat tussen hom en die stad neersit.   Esegiël moes toe konsert speel dat hy die vyand is wat die stad aanval.    

Tobias: Tannie, wou die konsert vertel dat die stad Jerusalem  aangeval gaan word?

Tannie: Dis reg!   En die volgende toneel het verder vertel wat gaan gebeur.  Dit was ‘n lang, uitgerekte konsert.  Esegiël is vasgemaak en moes vir drie honderd en negentig dae op sy linkersy lê.  God het gesê dat hy soveel dae daar moes lê vir die getal jare wat Israel nie vir God lief was nie.   Toe moes hy vir nog veertig dae op sy regtersy lê.  Dis soveel jare Juda nie vir God lief was nie.

Tobias: Tannie, dis baie erg!   En wat kon hy eet?

Tannie: Tobias, God het vir hom gesê: “Maak vir jou broodjies van koring, gars, boontjies, lensies, sorghum en spelt.   Jy moet die broodjie bak op ‘n vuurtjie wat van mis gemaak is.   Jy kan ook net ‘n klein bietjie water op ‘n slag drink.” 

Tobias: O, aardig!   Hoekom, Tannie?

Tannie: Julle, die Here wou vir die mense van Juda wys dat hulle gaan swaarkry:  min water en min kos wat maar vuilerig sou wees.  Dit gaan alles gebeur as die vyand Jerusalem heeltemal gaan kom platslaan.    En julle, nog was die konsert nie klaar nie.   Volgende moes Esegiël ‘n baie skerp swaard  vat en al sy hare en sy baard afskeer.   Daar in die straat moes dit op ‘n skaal weeg en in drie bondels gedeel word.  Die eerste bondel moes hy binne-in sy Jerusalem- model verbrand.   Een derde moes hy rondom sy stad in fyn stukkies opkap.   Die laaste derde moes hy  in die wind ingooi dat dit weggewaai kan word.  

Tobias: Toe is al die hare op?

Tannie: Nee, Tobias, ‘n klein bietjie hare moes hy eenkant hou.  Party moes hy verbrand, maar die ander moes hy in sy klere toevou.

Tobias: Tannie, wat beteken hierdie hare-konsert?

Tannie: Tobias, die Here wou vir hulle wys dat ‘n derde van die mense in Jerusalem sal doodgaan.  ‘n Derde sal buite die stad in oorlog doodgaan.  ‘n Derde sal wegvlug na ander ver lande.    Julle, en dit alles omdat hulle nie na God geluister het nie.  Hulle het afgode aanbid en was nie lief vir God nie.

Tobias: Tannie, maar wat van die klein bietjie hare in sy klere?

Tannie: Julle,  ‘n klein bietjie van die volk sou oorbly, al was hulle in ver lande.  Hulle sou  besef dat die Here alleen God is.   En dit het gebeur!  ‘n Klein klompie mense het jare later weer teruggegaan na Jerusalem en het die Here begin dien.

Tobias: Sjoe, maats, ek kon amper sien hoe Esegiël daar konsert hou in Babel se straat.  Tannie, ek dink die storie is opgeskryf dat ek en Tannie en die maats ook kan onthou:  die Here alleen is God!  Hy moet die sonde by mense straf, want Hy is so mooi en heilig!

Tannie: En tog so lief vir ons dat Hy vir Jesus gestuur het om die lus vir verkeerd doen in ons te kom wen en vergewe!

Tobias: Jippie!  Jippie!  En Jesus het gekom!   Maats, dis die fantastiese nuus waarmee ons die  konsert-storie mee kan afsluit.   Ons almal kan na Jesus toe kom met ons verkeerd-doen.  Sommer  vandag nog!   Maats, hiermee groet ons dan!  Totsiens, tot volgende keer!

***