Bybelstories in Afrikaans

Boeke van die profete 19: Die Gees wys Jerusalem vir Esegiël

Carin Conradie Season 6 Episode 19

Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.

0:00 | 11:34

In vandag se storie gaan Esegiël in die Gees na Jerusalem.  God wys hom die redes hoekom die volk gestraf gaan word.  Maar God se genade aankondiging word ook gedoen!  Ons lees dit in Esegiël  8 tot 11.

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Boeke van die profete 19:  Die Gees wys Jerusalem vir Esegiël     (Esegiël 8 - 11)

 

Tobias: Tannie Carin, hallo!  Tannie, mens kry darem snaakse kerke.

Tannie: Hallo, Tobias!  Bedoel jy snaakse kerkgeboue?

Tobias: Tannie,  party kerke is hoog met groot torings en ‘n klok.  Party is plat en lyk maar vir my lelikrig.

Tannie: Sies, Tobias!  Boustyle verskil.   Smaak  verskil, jongie! 

Tobias: Tannie, bly die Here in kerke?  Dalk is party ook vir Hom mooier as ander?

Tannie: Nee, Tobias!  Die Here bly  nie in kerkgeboue nie.  Hy bly deur sy Gees in die mense wat aan Hom behoort en soms bymekaarkom in ‘n kerkgebou.

Tobias: O!  Maar Tannie, het die Here nie in die tempel in die Bybel se tyd gebly nie?

Tannie: Tobias, ek het ‘n storie wat Esegiël in die Bybel vertel het.  Dalk kan dit ons help om beter te verstaan.

Tobias: O, lekker!  Storie, storie!

Tannie: Maats, Tobias, Esegiël vertel: “Mense, ek sit mos toe die dag daar in my huis.  ‘n Paar leiers van die volk hier in Babel het voor my gesit.  En toe, ewe skielik, is dit asof die Here my lyf sommer so oorvat.   Ek het iets soos ‘n droomgesig gehad.   Daar  voor my was iets groots.  Iets soos ‘n mens.   Dit was asof die onderste deel van die mens soos vuur was en die boonste deel soos blink metaal wat amper lyk of dit gloei.  Toe, toe kom daar ‘n hand en vat my aan my hare, tel my hoog op en gaan sit my in Jerusalem neer.”

Tobias: Tannie, tannie en wat toe?

Tannie: Esegiël het verder vertel:  “Ek sien toe God se tempel en die lelike, aaklige afgodsbeeld  in die tempel.  Julle, en daar praat God uit sy wonderlike lig en blink:  “Sien jy watter vreeslike dinge die mense hier doen?”   Julle, en toe is dit asof God my ‘n gat in ‘n muur wys en ek moet dit groter oopbreek en deurklim.  O aarde en toe moet ek deur ‘n poort loop en daar sien ek toe die lelikste goeters en gode en grillerige affêres teen die muur uitgekap.  En ja, daar is sowaar mense wat die goed aanbid.”

Tobias: Tannie, gaan aan!

Tannie: Esegiël het vertel:  “God het vir my gesê:  “Mens, die leiers van Israel dink ek is nie meer in die land nie. “  En julle, God wys my toe ‘n klomp vrouens wat staan en huil oor ‘n afgod.   Ek wou niks meer sien nie, maar God wys my toe nog:  manne wat die son aanbid!  God praat toe weer en sê hy gaan die land straf.   En toe sien ek ses manne aankom.  Hulle het elkeen ‘n wapending in sy hand gehad.  Julle, en daar sien ek toe weer die blink mooi heerlikheid van God.  Hierdie keer was Hy by die uitgang van die tempel.  Dit het kompleet gelyk asof Hy besig was om uit die tempel uit weg te gaan.”

Tobias: Tannie, maar dit sou verskriklik wees!  God was altyd in die tempel!

Tannie: Ja, Tobias!  Ek dink Esegiël moes groot geskrik het vir die gesig.  Maar dit gaan toe nog aan.  Esegiël het weer gehoor dat God gesê het Israel doen so baie sonde.  Hy gaan hulle straf.  Die ses manne moes toe die mense doodmaak.

Tobias: Vir almal, Tannie?

Tannie: Nee, nie almal nie.   God het gesê:  “Gaan maak ‘n merk op al die mense se voorkoppe wat nog vir My lief is.   Die sonder merke moet doodgemaak word.”  Arme ou Esegiël het plat op sy gesig geval en uitgeroep na God toe.   En hoor net wat sien hy toe nog:  “Julle, en toe sien ek mos weer daai troon van God.  Julle onthou, daai mooi saffierblou ene?  Ja, en sowaar daar is die vier lewende wesens weer wat ek die ander dag  gesien het.  Hulle het mos vier gesigte gehad en wiele onder hulle  wat na alkante toe kon draai.  En ek kon voel dat God se grootheid daar is.  Sy wolk het  die hele tempel vol gemaak.  Ek kon die wesens, die engele, se vlerke hoor.  En God se stem het gedruis toe Hy met een van sy dienaars praat:  “Gaan vat vuur en kole daar tussen die wiele en gooi dit op die aarde.”  God het gesê ek moet vir Israel sê hulle gaan gestraf word en dan sal hulle besef wie die Here is.”

Tobias: Tannie, klink my regtig die Israel was klomp stouters, nes ons partykeer.  Tannie, het God net van straf gepraat?

Tannie: Tobias, Hy het ook van genade gepraat.  Luister na Esegiël:  “Julle, ek het op my gesig geval en hard geroep na God:  “Ag, Here, gaan U al die Israeliete doodmaak?”  En hoor net sy antwoord:  “Mens, sê vir jou broers:  God verstrooi julle oral oor die wêreld, maar Hy sal by julle wees daar waar julle is.  Ek sal hulle weer bymekaar maak, Jerusalem skoonmaak en hulle terugbring. Ek sal hulle ‘n nuwe  hart en ‘n nuwe gees gee.  Hulle harte is nou nes klippe, maar die nuwe hart sal sag wees.  Hulle sal My dien en vir My lief wees.”  En julle, daar trek die troon en die engele en die wiele en God se groot blink heerlikheid uit die stad uit.    Daai tyd vat God se Gees my toe terug na my eie huis toe.   Toe vertel ek alles van die droomgesig vir die mense in Babel.”

Tobias: Tannie, klink asof God daai dag vir Esegiël gesê het Hy woon nie meer in die tempel in Jerusalem nie?  Hy woon oral waar sy mense is?

Tannie: Ek verstaan dit ook so, Tobias.  So, wat sê dit nou van ons kerkgeboue?

Tobias: Tannie, ek dink…. God bly nie in mooi of lelike kerkgeboue nie.  Hy is oral waar sy kinders is.  As hulle saam is binne-in ‘n kerk, dan is Hy daar by hulle.  O, dankie tog, Hy hoef nie in ons ou geboue te bly nie!  

Tannie: (lag)  Ja nee, Tobias, maats, God is te groot en wonderlik om net op een plek te wees.  Hy is oral en Hy is veral in sy  kinders deur die Heilige Gees.

Tobias: Fantasties, fantasties, wonderlik!   Maats, dis nou lekker om ons storie van vandag so af te sluit!   Ons God is groot en wonderlik en oral op die aarde!   Ek wil nou sommer sing en spring.   Ons groet dan eers, maar wil weer kom om nog te luister  wat Esegiël vertel.   Ons sê dan  totsiens, tot volgende keer!  

***