Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Boeke van die profete 20: God se oordeel oor Israel
Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.
In Esegiël 12 tot 24 lees ons van klomp voorbeelde en stories wat God vir Esegiël gegee het om vir Israel te waarsku om op te hou sondig en terug te kom na God toe. In hoofstuk 18 is daar 'n uitroep van God dat Hy nuwe lewe vir alle mense wil gee!
Boeke van die profete 20: God se oordeel oor Israel (Esegiël 12 -24)
Tannie: Hallo, Tobias en maats! Dis weer lekker storie-tyd!
Tobias: Hallo, tannie Carin! Tannie, ek is eers lus vir raaisels vra.
Tannie: O, ne? Nou maar vra vir ons ‘n raaisel!
Tobias: Raai-raai, wat het ‘n nek, maar nie ‘n kop nie?
Tannie: Wat het ‘n nek, maar nie ‘n kop nie…Nee, ek weet nie.
Tobias: ‘n Bottel, Tannie!
Tannie: (lag) ‘n Bottel! Ek het ook een: Wat moet jy eers breek voor jy dit kan gebruik?
Tobias: Nee, ek weet nie.
Tannie: ‘n Eier, Tobias!
Tobias: O, ja! (lag) Tannie, ek is nou reg vir ‘n storie!
Tannie: Goed! Ons is besig met die profeet Esegiël. Die Here het deur hom baie boodskappe vir Juda gegee, maar hulle het nie alles verstaan nie. Eendag het Esegiël by die Here gekla: “Here, hulle sê ek praat heeltyd in raaisels!”
Tobias: Tannie, maar raaisels is lekker! Vertel ons bietjie daarvan?
Tannie: Kom ons begin by die dag wat hy kamma moes weggaan na ‘n ander plek. Die Here het gesê: “Esegiël, pak vir jou goed in wat jy sou saamvat as mense jou in jou land kom steel. Sit dit vanaand op jou skouers, breek ‘n gat deur ‘n muur, maak jou oë toe en loop ‘n ent weg.” Esegiël het gevra: “En as die mense my vra wat dit beteken?” God het geantwoord: “Sê vir hulle die koning van Jerusalem gaan net so deur ‘n gat in die muur klim en weggevat word na ‘n ander land. Binnekort gaan die hele land sonder mense word.” Die volgende boodskap was dat die vals profete nes ‘n klomp jakkalse is. Hulle jok en sê hulle het ‘n boodskap by die Here gekry, maar dit was nie waar nie.
Tobias: Ai, nee! Dis mos nie reg nie!
Tannie: Julle, die leiers het op ‘n dag vir Esegiël kom raad vra, maar die Here het vir hom gesê Hy gaan nie vir hulle goeie raad gee nie, want eintlik dien hulle die ou nikswerd afgode. Die Here wou so graag hê hulle moet die ou klomp goed weggooi en terugkom na Hom toe. Hy het allerhande stories vir Esegiël gegee om vir hulle te vertel. Een storie was dat Israel soos ‘n ou babatjie was wat niemand wou hê nie. God het vir Israel, die baba daar in die veld, opgetel, gewas, klere gegee, kos gegee en sy het mooi groot geword. Maar toe sy groot is, het die meisie, dis nou Israel, nie meer die Here liefgehad nie, maar die afgode van die ander volke!
Tobias: Aggenee! Dis ‘n hartseer storie!
Tannie: Ja, dit is! Hy het nog ‘n storie vertel: “Mens, vertel vir Israel: Daar was ‘n arend met groot sterk vlerke en digte bont vere. Hy het hoog gevlieg en die boonste puntjie van ‘n sederboom afgepluk en dit gaan neersit in die stad van die handelaars en smouse. Toe gaan die arend en vat ‘n stukkie plant uit Israel en gaan sit dit op ‘n lekker vrugbare stuk grond met baie water. ‘n Pragtige wingerdstok het begin groei. Toe kom daar ‘n ander arend en die wingerstok, draai sy wortels en blare na die arend toe. So, asof hy nou moet goeie kos en water gee. Sal die eerste arend dan nie die wingerd kom uitruk nie? Israel, julle kyk na ander lande en gode vir hulp en eintlik is dit Ek, die Here wat vir julle so mooi sorg. Ek gaan julle verstrooi tussen die ander nasies, en dan gaan julle weet Ek is die Here.”
Tobias: Ai, tog, Israel! Hoekom wou hulle nie luister nie?
Tannie: Julle, God het vir Esegiël gewaarsku dat hulle nie gaan luister nie. Op ‘n dag het God hulle herinner aan een van hulle raaisels: ‘Die pappas het groen druiwe geëet en hulle kinders se tande het stomp geword.” Dit het beteken dat as ‘n pa verkeerd doen, sal sy kind gestraf word. Maar daai dag het die Here die raaisel verander. Hy het gesê dat elke mens sy eie straf sal dra vir sy eie sonde. En elkeen moet self na die Here toe kom en vra om vergewe te word. Esegiël moes tot op ‘n dag maak asof hy ‘n aanval kry en vreeslik kreun en steun. As die mense dan wou weet wat hy doen, moes hy antwoord: “Swaard, swaard! Hy is klaar skerp gemaak en blinkgevryf. Die koning van Babel gaan Jerusalem kom plattrap. Die ander lande gaan vir Israel spot. Hulle hou God se sabatte nie. Hulle steel ander se goed. Hulle is nes wrede wolwe. Israel en Juda is soos twee susters wat nie by hulle liewe mans wou bly nie. Hulle het na ander mans toe gegaan wat nie hulle mans was nie. God gaan hulle straf, en dan sal hulle weet dat die Here God is.”
Tobias: Aarde, Tannie! Esegiël moes vreeslike woorde vir die mense van Juda vertel?
Tannie: Omtrent! Maar die voorbeeld wat hy moes wees, is vir my die hartseerste! Op ‘n dag het die Here vir hom gesê sy liewe vrou gaan doodgaan, maar hy mag nie huil en treur oor haar nie. Dit gaan ‘n voorbeeld vir Juda wees: hulle liewe Jerusalem gaan heel stukkend gebreek word, maar hulle gaan nie huil en treur oor die stad nie.
Tobias: Tannie, hoekom was daar so baie kwaai woorde van die Here af?
Tannie: Tobias, maats, God het deur Esegiël vir Juda gevra: “Hoekom wil julle doodgaan? Kom terug na My toe! Hou op om die verkeerde dinge te doen. Ek wil nie hê die mens moet doodgaan nie. Ek wil ‘n nuwe lewe vir hulle gee.”
Tobias: Tannie? Dis wat ons ook vir mense kan sê? God wil vir almal nuwe lewe gee?
Tannie: Ja, Tobias! Ons kan en moet vir almal dit vertel: God is lief vir mense en almal kan kinders van Jesus Christus word!
Tobias: Maats, ek is so bly ek hoef nie al Esegiël se baie konserte te hou nie! Ek en julle kan maar net vir mense van ons Jesus vertel! Wonderlik, fantasties! Maats, maar dan groet ek nou eers om te gaan kyk vir wie ek van ons Jesus kan gaan vertel. Gaan julle ook iemand soek? En dan kom ons sommer gou weer om nog stories te hoor! Totsiens, totsiens!
***