Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Boeke van die profete 21: Esegiël sien hoe God alles wil nuut maak
Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.
Esegiël 24 tot 48 bevat baie profesië wat Esegiël moes vertel. Daar is ook die storie oor die droë bene wat lewendig geword het.
Boeke van die profete 21: Esegiël sien hoe God alles wil nuut maak (Esegiël 25-48)
Tobias: La la la la la la la la, la la la la la la la la la la la la la lalla la la la la.
Tannie: Hallo, Tobias, wat la la la jy so?
Tobias: Hallo, tannie Carin! Ek het maatjies gehoor sing iets oor “bones, bones”, maar ek verstaan nie die Engels so lekker nie. Waarvan sing hulle?
Tannie: Mm, “bones”… o, nou weet ek! Dis die liedjie van “Dem bones” wat ‘n mannegroep in 1928 vir die eerste keer gesing het. Die liedjie is in Afrikaans iets soos: “Die bene, bene, droë bene, die bene, bene, droë bene, die bene, bene, droë bene, kom hoor die Woord van ons Heer.” En dan gaan die liedjie aan oor die toonbeentjies wat aan die voetbene vaskom en dan die voetbene aan die hakbeen en so gaan dit aan tot by die kopbeen. Julle, ek dink party mense dink dis ‘n liedjie om die bene van ons skelet te leer, maar eintlik is die lied geskryf oor ‘n droom-gesig wat die profeet Esegiël gesien het.
Tobias: Tannie? Nou is ek nuuskierig!
Tannie: Maats, Tobias, julle onthou mos dat die Here vir Esegiël geroep het om sy profeet te word in Babel. Hy moes die Israeliete in Babel en in Jerusalem waarsku dat hulle weer vir God moet lief word. Hy moes ook die ander volke rondom Israel, soos Ammon, Edom, Moab, Tirus en Egipte waarsku dat die Here hulle gaan straf omdat hulle lelik was met Israel. Agtog, maar Israel het nie geluister nie en toe vat Babel vir Jerusalem oor!
Tobias: Aggenee! Maar wanneer kom die storie van die bene?
Tannie: Julle, die Here het vir Esegiël gesê: “Ek is ontsteld oor Israel my Naam laat sleg lyk het voor die ander volke. Hulle weet nou nie Ek is ‘n heilige God nie. Maar hulle sal nog almal besef die Here is God.” Toe laat sien die Here weer vir Esegiël ‘n droom-gesig. Hy het die groot oorlog van Gog gesien. Hy het ook ‘n vreeslike groot tempel met al sy kamers en gange gesien. Hy het tot ‘n riviertjie gesien wat by die tempel begin, maar al dieper word en tot in die Dooie see spoel. Die Dooie See sal dan nie meer sout wees nie, maar sal soos ‘n rivier word met vars water waar plante groei.
Tobias: Tannie, wat beteken al die prentjies wat hy gesien het?
Tannie: Tobias, dit het vertel dat Israel dood is in hulle sonde, maar dat God hulle wil lewendig maak. So lewendig-nuut, dat hulle lief is vir Hom. Maar kom ek vertel die gesig van die bene.
Tobias: Ja, vertel!
Tannie: Julle, die Gees van God het Esegiël ‘n lae gedeelte van die land laat sien. Maar dit was ‘n lelike prentjie: die hele laagte was vol kurk droë dooie mensbene. Esegiël moes oor dit loop. Dit het sommer so gekraak onder sy voete. Die Here vra toe vir Esegiël: “Mens, kan hierdie bene weer lewendig word?” Esegiël het maar geantwoord hy weet nie, maar die Here weet. Toe gee die Here vir hom ‘n snaakse werk: “Profeteer oor die bene: so sê die Here: Ek gaan senings en vleis en ‘n vel aansit aan die bene. Dan gaan Ek hulle weer laat lewe.” Julle, en in sy droom-gesig, hoor Esegiël ‘n gedreun.
Tobias: Watse gedreun, Tannie?
Tannie: Tobias, die bene het begin beweeg: die toonbeentjies na die voetbene toe en die voetbene na die hakbene en die hakbene na die onderbene en die onderbene na die bo-bene en die bo-bene na die heupbene. En so het elke been na sy regte plek toe gegaan: been vir been. En toe vryf Esegiël sy oë, want hy sien die bene kry senings en vleis en ‘n vel. Maar al die lywe het net daar gelê. Toe moes Esegiël sê: “Kom gees, uit al vier windstreke: noord, wes, suid en oos. Kom blaas lewe in die klomp lywe.” Julle, en toe Esegiël dit gesê het, word al die lywe lewendig en hulle gaan staan regop! Die Here verduidelik toe mooi vir Esegiël dat Hy vir Israel weer nuwe mense wil maak.
Tobias: Dit moes ‘n interessante droom-gesig gewees het. Ek kan verstaan dat iemand ‘n lied daaroor wou skryf!
Tannie: Tobias, maar daar was nog ‘n prentjie wat Esegiël gekry het en wat hy vir die volk moes wys. Hy moes twee planke vat. Op die een moes hy skryf: Efraim - dis nou noordelike Israel- en op die ander een moes hy skryf: Juda - die suidelike deel van die volk. Toe moes Esegiël hulle styf teenmekaar vasdruk - so styf dat dit soos een plank voel.
Tobias: Wat het dit beteken?
Tannie: Tobias, die Here het gesê hulle sal nou net een volk wees - hulle sal nie meer in twee groepe verdeel wees nie. Hulle sal ook net een koning hê - amper iemand soos ‘n nuwe Dawid. God sal dan self tussen hulle kom bly. Hy wil die klipharde kliphart uit hulle uithaal en ‘n sagte hart van vleis insit, dat hulle weer vir Hom kan lief wees.
Tobias: Wonderlik! Tannie, maar al die profesië van Esegiël het nog nie waar geword nie?
Tannie: Nee, Tobias, daar is nog dinge wat moet waar word. Maar die nuwe Dawid - Jesus het al gekom en sal weer kom. Die Heilige Gees van God het begin om in mense se harte te werk. Baie mense is al lief vir die Here. Ons weet nie wanneer al die dinge gaan waar word nie, maar die Here weet. Ons weet net, as die splinternuwe stad gaan kom, gaan sy naam wees: Die Here is daar.
Tobias: Fantasties! Die Here gaan al die lelike dinge wen! Maats, maar tot alles eendag waar word, moet ons vir mense van ons koning vertel! Dankie, Tannie, vir die Esegiël stories!
Tannie: Plesier, Tobias! Ja, maats, ons gaan nou afsluit, maar volgende keer begin vertel ons van ‘n nuwe profeet in die Bybel. Ons groet dan. Mooi loop! Vertel van ons Koning wat alles gaan nuut maak! Totsiens!
***