Bybelstories in Afrikaans

Boeke van die profete 22: Daniël en sy vriende in die koning se paleis

Carin Conradie Season 6 Episode 22

Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.

0:00 | 13:07

Ons begin met die boek van Daniël.   In Daniël 1 lees ons van die vier jongmanne uit Juda wat vir 10 dae net groente geëet het -  met positiewe gevolge!

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Boeke van die profete 22:  Daniël en sy vriende in die koning se paleis  (Daniël 1)

 

Tobias:(haal diep asem)  O, net betyds weggekom!  Hallo, julle!

Tannie:Hallo, Tobias!  En waarvan het jy net betyds weggekom?

Tobias:Ek het weggekom van my maatjie se huis net voor sy mamma vir my ook van daai  groen spinasie gee om te eet.   Tannie Carin, ek dink nie die kinders in die Bybelse tyd hoef sulke grillerige groente te geëet het nie!

Tannie:Tobias!   Mens sê nie groente is grillerig nie!  Soms hou kinders in die begin nievan spinasie se smaak nie, maar dis eintlik baie gesond!

Tobias:Nee, Tannie, kan nie wees nie!  Nie spinasie nie!  Vertel maar liewer nou ‘n storie!

Tannie: Ek het ‘n plan:  Kom ek vertel ‘n storie oor groente!

Tobias:Wat?  ‘n Storie oor groente?  Hoop nie dis spinasie nie!

Tannie:(lag)  Tobias, ons is mos nou al ‘n tydjie besig met stories oor Juda se mense wat weggevoer is na Babel.  Vandag se storie is uit die tyd toe koning Nebukadnesar die eerste klomp mense uit die land weggevoer het.    Hy het  klomp mooi goed uit Jerusalem gevat, soos die mooi goue en silwer goed wat in God se tempel was.  Hy het dit sowaar in sy eie afgod se tempel gaan neersit.  Maar daar is nog iets wat hy gevat het.

Tobias:Wat is dit, Tannie?

Tannie:Julle, hy het vir sy hoofpaleisbeampte ‘n spesiale werk gegee:  “Aspenas, ek wil hê jy moet van die jong prinse daar uit Juda vat om vir my te werk.     Maar luister nou mooi:  kies net die mooiste, sterkste, slimstes onder hulle uit.  Ja, en dan sit ons hulle vir drie jaar in my universiteit.  Hulle moet ons taal leer.  Hulle moet van politiek leer.  En na drie jaar moet jy hulle voor my bring dat ek die bestes kan kies.”  Aspenas het die koning gevra  waar hulle moet bly en wat hulle moet eet.  Die koning het geantwoord:  “Hulle bly hier in my paleis.  Ja, en jy gee vir hulle net die beste: elke dag moet hulle van my kos en wyn kry.  Hulle moet goed lyk na die drie jaar.”

Tobias:Sjoe!  Dis nou vir jou ‘n ding!  Hulle word uit hulle land weggevat en toe sommer na die koning se paleis gebring.  Ek wonder of hulle bang was?

Tannie:Ek kan dink hulle was bang, maar hulle het geweet God sal vir hulle sorg, al is hulle nou in ‘n vreemde plek.

Tobias:Hoeveel jong prinse is toe gevat?

Tannie:Tobias, ons weet nie hoeveel is gevat nie, maar in die boek Daniël hoor ons van vier van die jongmanne.  Hulle name was Daniël, Gananja, Misael en Asarja.

Tobias:Aarde, dis moeilike name!

Tannie:Wel,  Aspenas het vir hulle ander name gegee:  Beltsasar, Sadrag, Mesag en Abednego.

Tobias:Nog moeiliker!   En wat gebeur toe met hulle?

Tannie:Tobias, dis nou waar die groente inkom.   Hulle het goed geweet dat die koning se lekker kos eintlik aan afgode gewy is voordat die mense dit geëet het.  Die jong Jode het geweet God sal nie daarvan hou as hulle sulke kos eet nie.   Tobias, jy vra of hulle dalk bang was?  Wel, hulle het maar die bang in hulle sakke gedruk en na  Aspenas toe geloop:  “Ag meneer, ons glo in God die Here en ons mag nie die koning van Babel se kos eet nie.”  En raai, die Aspenas kon hulle net daar vreeslik swaar straf, maar God het sy hart sag gemaak vir die vier manne.  Hy antwoord toe:  “Mmm, julle vra nou vir ‘n ding!  Ek kan in die moeilikheid kom by die koning as hy sien julle lyk nie so goed soos die ander jongmanne nie.  Hy sal my vra wat ek julle dan voer!”  

Tobias:Tannie?  En wat gebeur toe?

Tannie:Julle,  Daniël gaan toe na die amptenaar wat Aspenas oor hulle aangestel het:  “Meneer, kan ons asseblief iets uitprobeer.  Net so vir tien dae, asseblief? Gee vir ons vier net groente om te eet en water om te drink.  Dan kan u self sien of ons na die tien dae anders lyk as die ander jongmanne.”

Tobias:Toe eet hulle wortels, boontjies, pampoen en spinasie vir tien dae?

Tannie:(lag) Ek weet nie watter groente dit was nie.  Heel moontlik spinasie ook?  Maar julle, na tien dae bring die amptenaar die vier na waar die ander prinse was.  Dalk moes hulle in ‘n ry staan of oor ‘n verhoog loop of iets. En?

Tobias:En wat, Tannie?

Tannie:Tobias, die vier manne was mooier,  gesonder,  met blinker oë as enige van die ander jongmanne.  O, die amptenaar was so bly en verlig!  Hy het toe vir hulle gesê dat hulle nooit van die koning se kos hoef te eet nie!

Tobias:Dis fantasties, Tannie!  Toe net groente? En wat gebeur toe na die drie jaar?

Tannie:Julle,  die vier was slim.  Hulle het hard geleer.  Hulle het gesond geëet.  En na die drie jaar het die dag gekom dat hulle voor koning Nebukadnesar moes kom vir ‘n eksamen.   Die koning het hulle vrae gevra oor enige ding.  Hulle kon al die regte antwoorde gee;  hulle kon alles verstaan en verduidelik, maak nie saak wat die koning gevra het nie.  Hulle vier het tien keer meer punte gekry as al die ander slim mense wat vir die koning gewerk het.   Boonop het die Here vir Daniël gehelp dat hy al wat ‘n droom of gesig is kon uitlê.

Tobias:Die koning het seker vir  hulle vier toe dadelik ‘n goeie werk in sy paleis gegee?

Tannie:Ja, hy het!  En Daniël het vir meer as sewentig jaar lank vir die konings in daai paleis gewerk.

Tobias:Haai, Tannie!  Dis ‘n mooi groente-storie!  Daniël-hulle het gedoen wat God wou hê!  En toe gee God vir hulle baie wysheid om vir die  konings te kon werk!

Tannie:En om eintlik vir God te kon werk daar in die vreemde land!

Tobias:Tannie, my maatjie moet dadelik die storie hoor!  Ek gaan julle groet en dadelik soontoe hardloop.  Ek dink sy spinasie is darem seker nou alles al opgeëet.   Totsiens, almal!

***