Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Boeke van die profete 23: Nebukadnesar droom van 'n blink beeld
Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.
Koning Nebukadnesare het 'n droom gehad, maar wou nie sy wyse manne vertel wat dit is nie. Hulle moes kom met die droom EN sy uitleg. God het vir Daniël gebruik in die storie om te wys wie is God. Ons lees dit in Daniël 2.
Boeke van die profete 23: Nebukadnesar droom van ‘n blink beeld (Daniël 2)
Tobias: Hallo, Tannie Carin en maats!
Tannie:Hallo, Tobias! Waar kom jy nou vandaan? Was jy weer by jou maatjie?
Tobias:Ja, Tannie! My maatjie het my vandag ‘n droom vertel. Hy droom sulke lawwe goed! Hy vertel hy droom mens kry nie meer vliegtuie nie. Nee, mens gaan na ‘n lughawe toe, klim op ‘n baie hoë toring en gly dan met ‘n foefieslide, of die Engelse zip-line , van een plek tot ‘n ander plek. (lag)
Tannie:(lag) Dis ‘n lawwe droom en dit moes lang lyne gewees het! Maar Tobias, kom ek vertel sommer vandag ‘n storie oor iemand wat ook gedroom het.
Tobias:Iemand wat gedroom het? Vertel, asseblief!
Tannie:Tobias, maats, koning Nebukadnesar van Babel het een nag ‘n droom gehad. Hy het sommer geweet hierdie droom beteken iets groots. Hy moes uitvind wat dit beteken. Toe hy die volgende oggend wakker word, laat roep hy al sy raadgewers, voorspellers, towenaars en sterrekykers. Toe hulle almal daar is, sê hy: “Ek is ontsteld oor ‘n droom wat ek gehad het. Ek moet uitvind wat dit beteken.” Die sterrekykers begin praat toe in Aramees, die koning se belangrike taal: “Mag die koning lank lewe! Vertel ons u droom, dan verklaar ons dit vir u.” Maar die koning antwoord: “Julle moet vir my die droom vertel en sy uitleg gee. As julle dit nie kan doen nie, wel, dan maak ek julle almal dood. En ek breek julle huise tot op die grond af. As julle wel die droom en sy uitleg gee, dan sal ek julle belangrik maak en baie geskenke gee.”
Tobias:Tannie, het die koning dan sy droom vergeet of wat?
Tannie:Wel, Tobias, ek dink die sterrekykers het seker gedink die koning maak ‘n grap of iets, want hulle vra toe weer hy moet dit vertel dat hulle dit kon uitlê. Maar die koning praat toe so bietjie harder: “Julle klomp wil nou eers vir my ‘n klomp liegstories vertel. Julle het gehoor julle dood is naby. Nou wil julle dit uitstel. Vertel die droom en sy uitleg, nou!” Die sterrekykers het hom gesê dat niemand dit nog ooit reggekry het nie. Toe word hy woedend kwaad. Hy sê toe vir Arjok, die hoof van sy soldate naby hom, dat elke raadgewer in die ryk doodgemaak moet word. Daniël en sy drie vriende was ook op die lys.
Tobias:Tannie, dis ‘n verskriklike koning! Maak hulle toe vir Daniël-hulle dood?
Tannie:Dit klink of Daniël-hulle nie die dag by die paleis was toe die koning die ander bymekaar laat kom het nie. Daniël het die storie gehoor en mooi gedink hoe hy met Arjok moes praat. Hy het versigtig probeer uitvind wat gaan dan nou eintlik aan. Arjok verduidelik toe wat die koning gesê het. Daniël het gevra of die koning asseblief kan uitstel gee. Hy wou die droom vir hom uitlê.
Tobias:Tannie, gee die koning toe bietjie meer tyd?
Tannie:Ja, sowaar. Daniël is toe haastig na sy drie vriende toe: “Manne, ons moet ons God in die hemel smeek dat Hy ons sal help en dat Hy die droom se geheim vir ons sal vertel. Ouens, anders is ons ook dood!”
Tobias:Het hulle toe gebid, Tannie?
Tannie:Tobias, hulle het gebid en raai? God het vir Daniël in die nag die droom gegee en wat dit beteken. O, Daniël was bly! Hy het sommer begin sing: “Ons moet altyd sing oor ons God. Hy weet alles. Hy besluit watter konings moet regeer. Hy ken al die geheime. Ek loof U dat U vir my die droom en sy geheim vertel het.” Dalk het hy sommer vroeg-vroeg die volgende oggend na Arjok gedraf: “Arjok, moenie eers die raadgewers doodmaak nie. Vat my asseblief na die koning toe.”
Tobias:Gaan Daniël toe na Nebukadnesar toe?
Tannie:Ja! Daniël het vir die koning gesê: “O, koning, die wyse manne kon nie u droom vertel en uitlê nie, maar daar is ‘n God in die hemel wat alle geheime weet. Koning, u het die aand gelê en wonder oor wat in die toekoms gaan gebeur. Toe stuur God vir u die droom om vir u te vertel wat gaan gebeur.” En toe vertel Daniël vir die koning sy droom van ‘n vreeslike groot bangmaak beeld. Sy yslike kop was skitterblink goud. Sy bors en sy arms was van silwer. Sy maag en heupe was van brons. Sy bene was van yster. Sy voete was van yster en klei wat gemeng is. In die droom het ‘n klip vanself losgebreek uit ‘n rots en begin rol na die beeld toe. Dit het die beeld omgestamp en dit fyn gerol. Toe raak die klip so groot dat dit die hele aarde volmaak.
Tobias:Sjoe, Tannie! Dis ‘n vreemde droom. Wat het die droom beteken?
Tannie:Tobias, die beeld het die koninkryke van die wêreld gewys. Eers was dit Nebukadnesar, die sterkste koning - die goue kop. Daarna sou ‘n ander silwer koninkryk kom - nie heeltemal so sterk nie - die Mediërs en Perse. Daarna het die brons Grieke gekom - bietjie minder sterk. Dan die Romeine wat soos yster sou wees. Die laaste koninkryk sou gedeeltelik swak en sterk wees - soos yster en klei wat iemand probeer meng het.
Tobias:Dis interessant ! En die klip, Tannie?
Tannie:Julle, die klip is God se koninkryk self. God self sal oor die hele aarde regeer.
Tobias:Fantasties! Ek kon dit geraai het! Jippie! Tannie, en wat sê die koning toe?
Tannie:Julle, die koning het gesê: “Nou sien ek: julle God is die grootste god.” Hy het vir Daniël die goewerneur van Babel gemaak. Hy het ook die hoof van al die raadgewers geword en in die paleis kom bly. Daniël vra toe dat die koning sy vriende sal aanstel om vir Daniël te help met sy goewerneurswerk.
Tobias:Aarde, Tannie! Ek hou van die storie! God het vir die koning gewys wie is die regte Koning van die hele aarde! Is daar nog stories van Daniël?
Tannie:Ja, Tobias, daar is! Vandag se storietyd is nou ongelukkig om, maar volgende keer wil ons nog lekker stories vertel. Ons groet julle dan eers.
Tobias:Totsiens maats, tot ons volgende storietyd oor ons groot Koning! Totsiens!
***