Bybelstories in Afrikaans

Boeke van die profete 24: Daniël se drie vriende word in 'n vuuroond gegooi

Carin Conradie

Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.

0:00 | 11:12

In Daniël 3 lees ons van die wonderlike storie van God wat drie gehoorsames van vuur gered het, en Nebukadnesar moes erken dat geen ander God so kan red soos Hy nie!

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Boeke van die profete 24:  Daniël se drie vriende word in ‘n vuuroond gegooi  (Daniël 3)

 

Tobias: Hallo almal!  Lekker tyd vir lekker storie luister!

Tannie: Hallo, Tobias en maats!

Tobias: Tannie, dis darem so lekker om vir die Here lief te wees.  

Tannie: Dit is lekker, ja!  Tobias, is dit altyd maklik om die Here te dien?

Tobias: O, aarde!  Ek dink nie so nie!  Soms is daar dinge en goete en mense wat dit moeilik maak om te doen wat die Here vra.

Tannie: Jy is reg, Tobias.  Dis lekker, maar nie altyd maklik nie.  Kom ons vertel vandag ‘n storie van mense wat besluit het om te doen wat God vra en toe ampertjies doodgemaak is!

Tobias: Tannie?  Dit klink soos ‘n riller storie!  Vertel vir ons!

Tannie: Maats, Tobias, julle onthou vir Sadrag, Mesag en Abednego?  Daniël se drie vriende?   Nou ja, hulle was op ‘n dag in groot moeilikheid.   Koning Nebukadnesar het ‘n groot beeld gemaak en dit heel met goud oorgetrek.  Ons weet nie of dit ‘n beeld van sy god was of dalk van homself nie.  Maar die ding was groot:  dertig meter hoog en drie meter breed.   Julle, Nebukadnesar sit die ding toe daar neer in die Duradal.   Toe reël hy ‘n groot byeenkoms.  Al sy belangrike manne moes gaan: sy administrateurs en goewerneurs,  mense wat met sy geld gewerk het, mense van die hof, almal.   Sadrag, Mesag en Abednego was ook die dag daar.  

Tobias: Tannie, en wat gebeur toe by die groot bymekaarkomplek?

Tannie: Tobias, die koning het laat afkondig:  “Almal uit al die lande wat nou hier in ons land bly:  luister mooi!  Daar gaan musiek begin speel: trompette, fluite, siters, harpe, ensovoorts.   As julle die musiek hoor, dan moet julle almal buig voor hierdie beeld en hom aanbid.  En, wie weier om te buig sal onmiddellik ‘n die vuurwarm vuuroond gegooi word.”

Tobias: Wat?   Dis nou vir jou ‘n ding!

Tannie: Julle, die mense het gestaan en wag en ja, daar begin die musiek  speel.   Hulle het dadelik neergebuig en die goue beeld begin aanbid.   Maar nie almal nie.   Die manne van Babel sien toe hier staan drie manne kiertsregop.  Hulle buig nie.    Die manne het gekyk en wie dink julle was dit?

Tobias: Tannie, Tannie, was dit Sadrag, Mesag en Abednego?

Tannie: Ja, dit was hulle drie.    Julle, maar toe draf daar gou-gou ‘n klomp klaers na die koning:  “O koning, daar is mense uit Juda wat weier om voor u beeld te buig.”  Die koning was woedend kwaad.  Hy was nie gewoond daar aan dat enige een geweier het om te doen wat hy sê nie.   Hy laat roep toe die drie:  “Is dit waar dat julle weier om my god te aanbid, hê?  Ek sal julle nog ‘n kans gee.  As my musiek begin speel, dan buig julle drie voor die beeld, gehoor? En as julle dit waag om my te ongehoorsaam, is julle doppies geklink.  Dan is dit oond toe met julle!  En watter god dink julle sal julle kan red?”   Maar hulle drie het geantwoord:  “Koning, ons het ons God wat ons dien.  Ons kan nie voor u beeld buig nie.  En ons God kan ons red, maar al sou Hy ons nie vandag red nie, moet u weet, ons sal nie voor die beeld buig nie.”

Tobias: O, aarde, en wat sê die kwaai  koning toe?

Tannie: Tobias, hy het wit geword van woede.  Hy het gesê:  “Maak daai oond sewe keer warmer as wat hy nou is.  Kom julle sterkstes uit my lyfwag. Gaan smyt hierdie drie in die brandende oond!”   En daar gryp die sterk manne vir Sadrag, Mesag en Abedenego, maak hulle vas met toue en dra hulle na die warm oond.  Julle, maar die oond was nou so warm, dat toe hulle so naby kom, toe  verbrand die sterk manne.”

Tobias: Aggenee, Tannie!   Dis vreeslik!

Tannie: Maats, Tobias, die koning het ingeloer in die oond.  Hy was reg om lekker te kry om te sien hoe die drie heeltemal verbrand.  Maar dit was nie wat hy gesien het nie.  Nee, hy het gesnak na sy asem en uitgeroep:  “Is daar dan nie drie ingegooi nie?  Maar hoekom is daar dan nou vier wat los rondloop in my oond?  Die een lyk amper asof hy van die hemel afkom!”   Julle, en dadelik hardloop hy  bietjie nader en roep:  “Sadrag, Mesag, Abednego,  dienaars wat die hoogste God, kom uit die oond uit!”  Maats, raai net,  daar was nie ‘n stukkie van hulle klere wat gebrand het nie.  Hulle hare het nie eers geskroei nie.  Hulle het nie eers geruik of hulle naby ‘n vuur was nie.

Tobias: Fantasties, fantasties!  Wonderlik, wonderlik!  Dis wat God doen!

Tannie: Ja, Tobias!  Die koning moes net sê:  “Alle eer aan die God van Sadrag, Mesag en Abednego!  Hy het sowaar ‘n engel gestuur om hulle te red!  Hulle was bereid om dood te gaan vir hierdie God van hulle!  Daarom beveel ek nou: niemand mag ooit sleg praat van hierdie God nie.   Mensig, daar is nie nog ‘n God wat so kan red nie!

Tobias: O, jippie, jippie, jippie!  En Tannie, wat word toe van die drie?

Tannie: Julle, die koning het gesorg dat dit goed gaan met hulle.  Hulle het alles gekry wat hulle nodig het.  Hulle kon ook rustig aangaan met hulle werk en om hulle God te dien.

Tobias: Ai, maar dis nou ‘n heerlike, lekker storie!  Dit was nie maklik nie!  God kon hulle dalk nie die dag gered het nie, want Hy weet mos die beste.   Tog het Hy hulle gered om nog ‘n keer vir Nebukadnesar te wys wie is die eintlike God!

Tannie: Netso, Tobias!   Dis ook ‘n lekker storie om vir iemand te gaan vertel.

Tobias: Ja, dan draf ek sommer nou!  Maats, ek groet dan!  Hierdie storie moet oorvertel word!  Totsiens, julle, totsiens!

Tannie: Maats, dis ‘n lekker storie wat julle kan speel by die huis.  So oefen ons sommer ook om die storie te onthou.   Ons groet dan eers, maar wil gou weer kom met nog wonderlike stories uit ons wonderlike Bybel.   Totsiens!

***