Bybelstories in Afrikaans

Boeke van die profete 25: Nebukadnesar se droom van 'n boom

Carin Conradie Season 6 Episode 25

Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.

0:00 | 11:48

In Daniël 4 lees ons van 'n brief wat koning Nebukadnesar van Babel vir sy hele ryk geskryf het nadat hy vir sewe tydperke sy verstand verloor het, maar teruggekom het om God te loof en te eer.

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Boeke van die profete 25:  Nebukadnesar se droom van ‘n boom  (Daniël 4)

 

Tannie: Hallo, Tobias!  En as jy so by  jouself sit en glimlag?

Tobias: Hallo, julle!  Tannie Carin, ek dink sommer hoe lekker dit is om boodskappe oor die selfoon of oor Tannie se skryfmasjien te kry van maatjies se ouers of ander mense!  Tannie, in die Bybel se tyd het hulle mos nie dit gehad nie?  Hoe het hulle vir mekaar boodskappe gestuur?

Tannie: Tobias, dis nie ‘n skryfmasjien nie, dis ‘n skootrekenaar.  Die Engelse taal praat van “laptop”.   Jongie, ja, in die Bybel se tyd het hulle ook nie televisie gehad nie.  So hulle het briewe geskryf.

Tobias: O!  Skootrekenaar!  Mm… Tannie, is daar dalk ‘n storie oor iemand wat ‘n brief geskryf het?

Tannie: Ja!  Wat van die brief wat koning Nebukadnesar geskryf het vir almal in sy ryk?

Tobias: Hoekom het hy die brief geskryf?

Tannie: Julle, hy het ‘n vreeslike storie gehad om te vertel.  Sy brief het so begin: “’n Brief van Koning Nebukadnesar aan almal in die hele wêreld.  Voorspoed!   Ek is so bly ek kan vertel dat ek wonderlike dinge gesien het wat die allerhoogste God doen.   Hy is vir altyd die groot Koning.”  En toe skryf hy wat met hom gebeur het.    Hy het een nag ‘n droom gehad wat hom vreeslik bang gemaak het.   Toe laat kom hy al sy raadgewers, towenaars, voorspellers en sterrekykers om vir hom die droom uit te lê.

Tobias: En, Tannie, kon hulle dit uitlê?

Tannie: Niemand kon nie, maar toe laat roep hulle vir Daniël, of Beltsasar soos sy ander naam was.  Die koning het gesien dat God vir Daniël help om drome uit te lê, maar miskien het hy nie besef dat God die koning van die hele aarde is nie.  Hy vertel toe sy droom:  “Beltsasar,  ek het gedroom van ‘n baie hoë, sterk boom met wye takke met baie mooi blare.  Almal op aarde kon dit sien.    Al die voëls het kom nessies bou in die boom.  Baie wilde diere het kom skaduwee soek onder hom.  Mense en diere kon van sy heerlike vrugte eet.  Maar terwyl ek so kyk, kom daar ‘n engel uit die hemel wat sê: “Kap af die boom,  die hele boom tot net ‘n stomp oorbly.  Sit ‘n yster- en bronsband om die stam dat dit net daar kan bly staan.   Nebukadnesar sal sy verstand verloor en by die diere bly vir sewe tydperke.  Die Allerhoogste God het dit besluit.”   Nou Beltsasar, wat beteken die droom tog?”   Julle, en daar staan Daniël doodstil.  Hy praat nie.  Dit het gelyk of hy diep dink.

Tobias: Tannie?  Hoekom het hy stilgebly?

Tannie: Die koning wou ook dit weet:  “Toe nou, Beltsasar, vertel maar vir my.”   Daniël het  begin:  “Koning, ek wens die droom was liewer iemand anders s’n.   Die boom is u, o koning.  U regeer oor ‘n groot deel van die aarde, maar God het besluit dat u vir sewe dele van tyd nie meer koning gaan wees nie.  U sal u verstand verloor en soos ‘n dier word.  U gaan buite  bly en gras eet soos die beeste.  Maar, o koning, in die droom het die stam in die grond gebly.  Dit beteken dat u na die sewe dele van tyd weer sal koning word, as u erken dat God die groot koning is, en Hy besluit wie is die aardse konings.  So, my koning, wil u nie maar sommer nou u lewe verander nie?  Doen goed aan almal wat swaarkry, dan sal dit goed gaan met u.”

Tobias; Tannie, en wat sê die koning toe?

Tannie: Tobias, ons weet nie wat die koning gesê het nie.  Ons weet net God het vir hom nog ‘n hele jaar gegee het om sy lewe reg te maak.  Toe op ‘n dag, loop hy op die dak van sy paleis rond.  Dit klink of Babel toe ‘n pragtige stad was.  Hy spog toe: “Kyk watter mooi stad!  Ek het dit opgebou tot hierdie pragtige plek!  Gee my die eer daarvoor!”   Julle, sy woorde was nog skaars koud, toe hoor die mense ‘n stem uit die hemel:  “Daar is besluit, Nebukadnesar:   jy gaan nie meer koning wees nie.  Jy gaan soos ‘n dier word vir sewe tydperke.  As jy dan tot God roep, sal Hy jou weer laat koning word.”

Tobias: Tannie!  Wat gebeur toe?

Tannie: Net daar  word die koning se brein soos ‘n dier s’n.  Sy amptenare kon sien die ou kon nie verder die land regeer nie.  Dalk kon hy nie eers praat nie.  Dalk was sy brein so siek dat hy gedink het hy is ‘n dier.  Hy gaan bly toe dag en nag buite by die wilde diere.  Sy hare het so wild en woes gegroei  soos ‘n groot arend se vere.  Sy naels het so lank en krom geword soos ‘n voël s’n.  

Tobias: Dis vreeslik!   Vir hoe lank, Tannie?

Tannie: Na sewe tydperke, ons weet nie of dit jare of maande of wat was nie, maar toe kyk ou vererige, diererige Nebukadnesar op na die hemel, want in sy dierbrein het hy besef net God kan hom help.  Toe begin gebeur wonderwerke!   God het hom sy mensverstand teruggegee.   Hy het God begin prys:  “U leef vir ewig!  U loof en eer ek!  Is is die vir altyd Koning!  U besluit watter mense wanneer gaan koning word!”   Julle, en toe nog ‘n wonderwerk:  sy goewerneurs,  administrateurs en amptenare het hom terug verwelkom in die paleis.  Hulle het gesien hy kan nou weer koning wees.  Hy het selfs nou ‘n groter deel van die aarde gekry om oor te regeer.  Hy het sy brief afgesluit:  “Ek, Nebukadnesar, loof die Koning van die hemel.  Hy maak hoogmoedige mense nederig.  Alles wat Hy doen, is reg.”

Tobias: Tannie, dis ‘n fantastiese storie!  ‘n Wilde, woeste koning raak nog wilder as die wildste wildtuin, maar hy kom terug na God toe en God help hom!  En sy mense laat hom sowaar terugkom as koning!  Mensig, dis waar wat hy geskryf het:  God besluit wie is wanneer koning.   Aarde, Tannie, ek dink my maatjie gaan sukkel om die storie te glo.  Sy mond gaan oophang!   Maatjies, ek moet nou groet en hol, voor ek dalk iets vergeet.  Totsiens, Totsiens!

Tannie: Tatta, Tobias!  Maats, kom sommer gou weer!  Ons het nog stories van die profeet Daniël!   Totsiens, tot volgende keer!  

***