Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Boeke van die profete 28: Daniël kry prentjies van die toekoms
Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.
In Daniël 7 tot 12 lees ons van visioene wat Daniël by God gekry het oor wat in die nabye en verre toekoms gaan gebeur. Vir ons is die belangrik om te weet: God is steeds in beheer!
Boeke van die profete 28: Daniël kry prentjies van die toekoms (Daniël 7-12)
Tobias:Hallo, tannie Carin en maats! Tannie, ek is wil graag weet of ek iets vir my verjaardag gaan kry?
Tannie:Hallo, Tobias! Jongie, dis nog lank voor jy verjaar! En jy wonder nou al?
Tobias:Tannie, ek dink dit sou lekker wees as ons kon weet wat gaan more gebeur.
Tannie:Maats? Wat dink julle? Sou dit lekker wees? Tobias, miskien is dit beter dat ons nie weet nie. Ons kan mos op God vertrou vir more en volgende week.
Tobias:Tannie, maar weet Hy wat in die toekoms gaan gebeur?
Tannie:Julle, kom ek vertel vir julle van die profeet Daniël se drome. Dan sal ons kan uitvind of God weet wat in die toekoms gaan gebeur.
Tobias:Daniël? Drome? Laat ons hoor, Tannie!
Tannie:Julle, God het vir Daniël vier visioene of drome gegee. Ons het al vertel van Nebukadnesar se droom van die groot beeld. Die droom het vertel van belangrike koninkryke van die wêreld. Die goue, silwer, brons en yster koninkryke was al gewees. Ons wag eintlik nog net dat die klippie wat losgekom het, God se koninkryk, finaal op die aarde sal heers.
Tobias:Tannie, so in watter koninkryk is ons dan nou?
Tannie:Tobias, ons moet vir Daniël saamlees met die boek Openbaring om beter te verstaan. Tog lyk dit asof ons nou in die yster-gemeng-met-klei -tyd is.
Tobias:Tannie, so God weet wat gaan wanneer gebeur?
Tannie:Tobias, die visioene van Daniël vertel dit vir ons. Party dinge het eers vyfhonderd jaar later gebeur het, en party moet nog gebeur.
Tobias:Ek het geweet ons het ‘n fantastiese God! Jippie! Tannie, die tweede visioen?
Tannie:Daniël se tweede visioen het hy in sy slaap gekry. Hy het gedroom van vier diere wat uit ‘n rowwe see uit opgekom het. Die eerste een was ‘n leeu met arendsvlerke. Die tweede een het gelyk soos ‘n beer. Die derde was ‘n luiperd met vier koppe. En die vierde een was iets soos ‘n draak met ystertande en tien horings. Later het die beelde bietjie verander. Maar die belangrikste was dat God ook in Daniël se visioen was. Hy het op ‘n troon van vuur gesit met sy spierwit klere en hare. En Hy het al vier hierdie diere verslaan. God het ook al sy kinders ingebring in sy koninkryk om saam met Hom te heers.
Tobias:Tannie, wat beteken die diere?
Tannie:Tobias, ons gaan nou nie vandag probeer uitrafel wie die diere is nie. Die belangrikste vir ons om te onthou, is dat God besluit wie wanneer regeer. En ons kan Hom vertrou.
Tobias:Sjoe! Is ek bly dat ons Hom kan vertrou. Tannie, die derde visioen?
Tannie:Tobias, die derde visioen was by ‘n rivier. Daniël het ‘n vreeslike sterk skaapram met een lang horing en een kort horing gesien. Hy het almal weggestoot rondom hom. Maar toe kom daar ‘n vreeslike vinnige, harige bokram aangestorm en stamp die skaapram onderstebo. Hy het een groot horing gehad, maar dit het afgebreek en toe kry hy vier kleiner horings. Daniël het gewonder wat beteken die twee woeste diere. Toe het die engel Gabriel gekom en vir hom verduidelik: die skaapram was die Mediërs en die Perse en die bokram was Griekeland. In buite Bybelse geskiedenisboeke lees ons dat die Grieke ‘n belangrike leier gehad het: Alexander die Grote. Hy was ‘n wilde, woeste man. Hy was maar twee en dertig jaar oud toe hy dood is. Sy koninkryk is verdeel tussen vier van sy generaals.
Tobias:Haai, Tannie! Dit klink soos die vier horings, ne? Sjoe, ons God weet wat gaan gebeur nog lank voor dit gebeur!
Tannie:Ja, God het dit gesê en dit het toe so gebeur! Op ‘n tyd het Daniël Jeremia se profesie gelees dat Juda na sewentig jaar sal teruggaan na Jerusalem. Toe het Daniël baie ernstig gebid vir sy volk. God het weer vir Gabriel gestuur: “Daniël, God is lief vir jou. Hy het gehoor hoe jy bid. ‘n Sekere tyd sal verloop en dan sal die tempel herbou word. Dan nog ‘n tydjie, en dan sal daar versoening vir mense se sondes kom.” Julle, ons weet dat dit was toe Jesus Christus na die aarde gekom het!
Tobias:Dis fantasties, Tannie! God is in beheer! En die laaste visioen?
Tannie:Hy was toe ook by ‘n rivier en het weer ‘n hemelse wese gesien: “Julle, daar was ‘n man met linneklere en ‘n pragtige goue gordel. Sy lyf het geskitter soos ‘n edelsteen en sy arms en bene soos blinkgevryfde brons. Sy gesig was soos weerlig en sy arms soos brandende fakkels. Toe hy praat, toe dreun dit sommer. Die man het my vertel dat hy geveg het teen ‘n bose engel van Persië. Toe het ons engel, Migael, hom bietjie kom aflos, dat hy ‘n boodskap vir my kon bring. Hy het my vertel van dinge wat gaan gebeur met konings, hoe sleg dit sal gaan met Israel en ‘n laaste baie groot geveg. Hy het ook vertel hoe die mense wat vir God volg, sal skitter en skyn soos die sterre.” Tobias, hierdie profesië het nog nie alles waar geword nie, maar dit klink vir ons asof dit gaan gebeur wanneer Jesus eendag weer gaan terugkom.
Tobias:Tannie, was dit lekker vir Daniël om al hierdie prentjies te sien?
Tannie:Nee, Tobias! Dit was vir hom baie swaar. Hy was verskrik en ontsteld en het eenkeer lank siek gelê het. Hy het drie weke lank getreur en kon nie eet nie, so sleg het hy gevoel. Hy was ook bewusteloos toe die engel met hom gepraat het. Tobias, dit is baie swaar vir ons mense om die toekoms te weet. Ons kan maar liewer vir God vertrou met ons toekoms. Jesus het gesê dat ons ons nie hoef te bekommer oor more nie. God sal vir ons sorg.
Tobias:Goed, ek is tevrede dat God weet wat Hy doen. Hy weet tot van my verjaardag! Maar maats, lyk my ons storietyd is al weer verby? Maar ons is baie vrolik na hierdie storie, want ons weet God is in beheer van die hele wêreld se toekoms en Hy gaan al die slegte mense, dinge en duiwel wen! Fantasties! Totsiens, maats, tot volgende keer!
***