Bybelstories in Afrikaans
Tannie Carin en Tobias, 'n groen "puppet",-seuntjie, vertel Bybelstories in Afrikaans. Ons wil al die stories in die Bybel vertel - so Bybelgetrou as wat dit moontlik is op 'n kind se vlak.
Geniet die Woord!
Bybelstories in Afrikaans
Boeke van die profete 29: Die profeet Hosea
Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.
Die boek Hosea vertel die storie van hoe God sy profeet se huweliks- en gesinslewe gebruik het om vir Israel te vertel wat Hy vir hulle wil sê.
Boeke van die profete 29: Die profeet Hosea
Tobias:Ek wonder, ek wonder, ek wonder…
Tannie:Hallo, Tobias! Wat wonder ons groen wonder seuntjie weer vandag?
Tobias:Hallo, tannie Carin! Net die een vir wie ek kan vra: Wat beteken my naam?
Tannie:Tobias, jou naam beteken: God is goed!
Tobias:Regtig! O, ek is bly! Ek wonder of die maats weet wat hulle name beteken?
Tannie:Ja, ek wonder! Dit laat my dink: ek weet van ‘n profeet in die Bybel wie se naam “verlossing” beteken.
Tobias:Haai? Wie was dit? Vertel ons ‘n bietjie, Tannie?
Tannie:Maats, Tobias, dit was die profeet Hosea. Hy was ‘n profeet in die noordelike deel van Israel. In sy tyd was koning Jerobeam die tweede, koning. In Juda in die suide was daar sommer vier konings in dieselfde tyd. Die Here het vir Hosea op ‘n snaakse manier gebruik. Julle onthou mos dat die profeet Esegiël sulke tonele in die straat moes doen om vir die volk te verduidelik wat God wil sê? Wel, Hosea se hele lewe was sommer soos een groot toneel.
Tobias:Nou maak Tannie my nuuskierig!
Tannie:Tobias, die Here het vir Hosea gesê om met ‘n vrou te trou wat mens ‘n prostituut noem. Dit beteken sy was nie getroud nie, maar sy het mans geld gevra dat hulle soort van net vir een dag haar man sal wees. Mans sou nooit met so ‘n vrou wou trou nie, want sy sou altyd lief wees vir ander mans. Maar God het gesê Hosea se huwelik moes vir Israel iets vertel.
Tobias:Tannie? Toe doen Hosea dit?
Tannie:Ja, Tobias. Hy het met Gomer getrou. Hulle het eerste ‘n ou seuntjie gekry. God het gesê die kind se naam moet Jisreël wees. Dit was dieselfde naam as ‘n stad in Israel. ‘n Vorige koning, Jehu, het daar klomp onskuldige mense doodgemaak. Die seuntjie se naam moes vir Israel sê dat God daai lelike ding gaan straf. Sy naam het ook gesê God gaan Israel se koningskap laat eindig.
Tobias:Sjoe, dis nou vir jou ‘n wilde naam! Was daar nog kinders?
Tannie:Ja! Die tweede een was ‘n dogtertjie met die naam: Sonder -ontferming. Die kind se naam moes vir Israel sê dat God nie meer hulle sonde gaan vergewe nie, maar Hy sou nog Juda in die suide, se sonde vergeef. Na ‘n tydjie het Gomer weer ‘n seuntjie gekry. Dit klink amper asof hierdie kind ‘n ander pappa gehad het. Sy naam was Nie-my-volk-nie. Israel moes hiermee hoor hulle is nie meer God se volk nie.
Tobias:Mensig, Tannie! Hosea se gesin was omtrent soos ‘n fliek vir Israel!
Tannie:Jy is reg! Maar dit gaan nog aan! Gomer het toe weggeloop van Hosea af en het iemand anders se besitting geword. Die Here sê toe vir Hosea hy moet sy vrou gaan terugkoop. Hy moes vyftien stukke silwer en nog honderd kilogram gars vir haar betaal. Dit was nogal nie goedkoop nie! En boonop moes hy weer baie lief wees vir Gomer, al het sy weggeloop! Hosea moes vir haar sê dat sy nou vir ‘n lang tyd daar eenkant in sy huis moes bly en nie weer mag wegloop nie. Daarmee wou God sê dat Israel tog weer eendag sal terugkom na Hom toe.
Tobias:Tannie! Dis erg! Ek is seker die mense van Israel kon God se boodskap verstaan! Hosea het seker ook baie met Israel gepraat?
Tannie:Ja! Om ‘n profeet van God in daai tyd te wees, was nie maklik nie. Hy het baie gepraat en verduidelik, maar al sy praat het niks gehelp nie. Maar Tobias, ek is so bly al Hosea se gepraat is neergeskryf, dat ons dit ook kan lees, want die boek Hosea vertel vir Israel en vir ons wie God regtig is.
Tobias, God het gesê Hy is kwaad oor al Israel se hoogmoed, koppigheid, afgodediens en dat hulle by Egipte en Assirië gaan hulp soek het en nie by God nie. Daarvoor het Hy hulle gestraf. Hulle kon byvoorbeeld nie meer kinders gekry nie. Vyande het hulle kom aanval. Hosea moes sê hulle is nes ‘n koppige koei of ‘n dom duif of ‘n eensame wilde donkie!
Tobias: Eina!
Tannie:Maar julle, net soos Hosea moes betaal om vir Gomer terug te kry, sou God ook vir Israel betaal en verlos, want sy liefde vir hulle brand net te sterk. God het gesê Hy sal vir Jisreël weer goed wees en vir Sonder-ontferming. En Hy sal vir Nie-my-volk-nie sê: “Jy is my volk.” En hulle sal sê: “My God!”
Tobias:Dit laat ons dink aan Jesus wat gekom het? En sy kruisdood vir ons?
Tannie:Jy is reg, Tobias! Israel en Juda is toe weggevoer uit hulle land uit. ‘n Paar van Juda se mense het wel teruggegaan. Later, in ons tyd, is baie Jode ook weer terug na die land van Israel. Maar die eintlike nuutword gaan nog kom, eendag as Jesus weer terugkom. Dan sal al sy kinders, of dit nou uit Israel of uit die ander volke is, heeltemal nuut gemaak word.
Tobias:Wonderlik, fantasties! Hoe eindig die boek van Hosea, Tannie?
Tannie:Die Here het gevra Hosea moet sê: “Ek sal Israel se wegloop na afgode vergewe. Ek sal hulle liefhê en versorg. Ek sal vir hulle wees soos dou, sodat hulle kan mooi groei soos ‘n lelie of ‘n sterk olyfboom. Hulle sal so lekker ruik soos die plante in my Libanonbos. Daar sal genoeg kos wees. Almal sal weet van sterk Israel.” En dit kan ons maar glo en weet, want die Here doen altyd reg.
Tobias:Sjoe, Tannie! Die rêrige fliek-lewe van Hosea en sy gesin moes nogal erg gewees het! Maar ek is so bly ons leer van God in hulle lewe: God is liefde en Hy verlos! Net soos Hosea se naam mos sê: Verlossing! Dankie vir die storie, Tannie! Maats, ons gaan nou groet, want ek wil bietjie gaan dink oor die Hosea en sy vrou! Ja, ek wil ook vir God liefwees en doen wat Hy vra! Maats, wil julle ook? Totsiens, dan tot volgende keer!
***