Bybelstories in Afrikaans

Boeke van die profete 33: Jona kry 'n opdrag by God

Carin Conradie Season 6 Episode 33

Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.

0:00 | 10:33

Jona 1 en 2 vertel ons hoe God vir hom 'n opdrag gegee het om na Nineve toe te gaan, maar hy hardloop weg van God af en beland in 'n vis se maag.

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Boeke van die profete 33:  Jona kry ‘n opdrag by God  (Jona 1 en 2)

 

Tobias: (neurie wysie)  

Tannie: Hallo, Tobias en  maats!

Tobias: Hallo, tannie Carin!   Ai, ek is bly dis storietyd, want ek wil ietsie vra.

Tannie: Wat wil jy vra, liewe, lawwe Tobias?

Tobias: Tannie, ek is so lus vir ‘n storie met ‘n wonderwerk in!  Toe, ‘seblief!  Dit laat my altyd so lekker voel dat ek sommer lus is om vir Jesus te sing.  Is daar dan nie ou enetjie nie?

Tannie: ‘n Storie met ‘n wonderwerk in?  Mm!  Wat van ‘n storie met sommer ‘n klomp wonderwerke in?  So baie  dat mense sukkel om te glo of dit waar is?

Tobias: Bring hom, Tannie, bring hom!  Ons is gereed!

Tannie: Tobias, maats, dalk moet ons net die helfte van die storie vertel en dan volgende keer die ander helfte.   Ek wonder of jy en die maats al gehoor het van die profeet Jona?

Tobias: Ek… dink ek het!   Maar vertel Tannie liewer van vooraf!

Tannie: Jona was ‘n profeet in koning Jerobeam die tweede se tyd.  Ons lees in 2 Konings dat hy moes profeteer die koning sal van Israel se grond terugkry wat vyande afgevat het.   En dit het so gebeur.    Toe op ‘n dag het die Here nog ‘n opdrag vir Jona:  “Jona, maak klaar en gaan na die groot stad, Nineve toe.  Jy weet, die stad van die Assiriese ryk?  Ek weet hoe sleg en boos die stad is.  Gaan praat met hulle dat hulle kan terugkom na My toe.”

Tobias: En toe gaan Jona?

Tannie: Nee, Tobias!  Die profeet was nie lus om hierdie werk te doen nie.   Dalk was hy bang vir die wrede mense of dalk was daar ‘n ander rede.  Ons weet nie eintlik hoekom Jona nie vir Nineve wou gaan preek nie.  Wat ons wel weet is dat hy in ‘n oostelike rigting moes gaan, maar hy besluit toe om te vlug na die weste kant toe.    Hy het planne gemaak.  Hy is na die stad Joppe.  Daar vind hy toe uit daar is ‘n skip wat binnekort vertrek na Tarsis, ver wes, omtrent daar waar Spanje vandag is.  Hy wou so ver moontlik van God af weg hardloop.  

Tobias: Nee!  Regtig?  En toe klim hy op die skip?

Tannie: Ja.   Hy dink toe alles is nou reg en hy gaan af na die onderste deel en gaan lê en slaap.   Maar julle, hier kom die eerste wonderwerk.   Die Here stuur toe ‘n kwaai storm op die see.  Die wind het gewaai.  Die golwe was hoog.  Hulle het geslaan teen die hout skip.  So erg dat die matrose op die skip gedink het:  “Vandag is ons laaste dag.  Die golwe gaan ons boot flenters slaan.”  Die growwe, sterk matrose, het baie bang geword.   Elkeen het begin bid tot sy afgod.  Hulle het besef iets groter moet hulle vandag red.  Hulle het tot die vrag van die skip in die see gegooi dat die skip ligter kon wees.    Alles was woes en deurmekaar.    Die kaptein het afgegaan na die onderkant, en sowaar, hier lê ‘n man en slaap.  Hy skud hom wakker en sê:  “Wat gaan met jou aan?  Ons vergaan en jy lê en slaap?  Staan op.  Bid tot jou God en kyk of hy nie vir ons wil red nie.”   Tobias, omdat die manne nou so bang was het hulle besluit hulle moet uitvind wie se skuld is die storm.  Dit moes iemand se skuld wees.  Hulle trek toe lootjies, en sowaar, die tweede wonderwerk:  Jona trek die lootjie.   Toe staan en kyk die manne almal na Jona en vra:  “Wie is jy?  Waar kom jy vandaan?  Hoekom het hierdie ramp ons getref?”   Jona moes toe maar net antwoord:  “Ek dien die God van die hemel wat die see en die grond gemaak het.  Ek het ‘n opdrag  van Hom af gekry, maar toe vlug ek weg van Hom af.”   Die matrose het nog banger geraak en geroep: “Wat het jy nou aangevang?  Wat moet ons met jou maak dat die wind kan ophou waai?”

Tobias: Tannie, wat doen hulle toe met Jona?

Tannie: Tobias, Jona het gesê:  “Gooi my in die see.”  Maar die matrose wou eers nie en het weer probeer roei om te kyk of hulle by die land kan uitkom, maar die see het net al rowwer geraak.  Toe bid hulle tot God:  “Ag Here, moenie dat ons nou almal doodgaan oor Jona nie.  Maar ons wil ook nie iemand onskuldig doodmaak nie.  Doen wat U wil.”  En julle, daar gooi hulle vir Jona oorboord in die see.  En, die volgende wonderwerk:   die wind en die see word rustig.  Die matrose het bang geword vir die groot God en het vir Hom ‘n offer gebring.

Tobias: Tannie, maar wat van Jona?  Het hy verdrink?

Tannie: Julle, ‘n groot vis het hom gekry waar hy af, af, af gesak het na die bodem en het hom ingesluk.

Tobias: Wat?

Tannie: Ja!  Dis die volgende wonderwerk.  God het aan die vis gesê:  “Gaan sluk daai profeet van my in.”   Of Jona ingesluk was voor hy dood is, en of God hom lewendig gemaak het,  is onseker.  Wat wel seker is, God het ‘n groot wonderwerk gedoen.  Jona het in die vis se maag begin bid:  “Ek is hier by die dood diep in die see.  Hier roep ek na die Here.  En Hy hoor my!  Toe die golwe so oor my slaan, toe dink ek : Jonatjie, vandag is jy dood, maar U, my God het my van die dood gered.  Ek sing tot U.  Ek sal vir u ‘n offer bring.  Hulp kom net van die Here af.”  En, na drie dae en drie nagte gebeur die volgende wonderwerk.  God het vir die vis gesê:  “Gaan spoeg my profeet uit daar op die droë grond.”  En die vis het geluister.

Tobias: Tannie, Tannie, ek glo die storie!   Ons God kan sulke wonderwerke doen!  Hy kan vir die wind en see en visse sê wat om te doen!  Wonderlik, fantasties!  O, ek wil sing omdat ons Here so groot en sterk is!

Tannie: Dit is ‘n wonderlike storie!  En julle, volgende keer vertel ons verder wat het met Jona gebeur het.

Tobias: O, ek kan nie wag om te hoor nie!   Maats, ek gaan groet, dat ons gou weer kan kom!   Mooi bly, tot volgende keer.  Totsiens!

***