Bybelstories in Afrikaans

Boeke van die profete 34: Jona gaan na Nineve

Carin Conradie Season 6 Episode 34

Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.

0:00 | 12:17

In hoofstukke 3 en 4 lees ons hoe Jona toe tog in Nineve gaan preek het, maar hy was kwaad oor God se besluit daarna....

Boodskappe per epos is baie welkom!

Support the show

Boeke van die profete 34:  Jona gaan na Nineve   (Jona 3 en 4)

 

Tobias:Hallo, tannie Carin!

Tannie:Hallo, Tobias!  Wat gaan aan?  Hoekom spring  jy so op en af?

Tobias:Want ek wil my liedjie vir Tannie sing!  Of, liewer, my halwe liedjie!  

Tannie:Laat ons hoor, Tobias?

Tobias:  Die Here het ‘n profeet gehad,  En Jona was sy naam

God stuur hom na die grote stad,  Maar hy vlug na Tarsis, wil van God weggaan.

Toe stuur God ‘n storm op die see, Duid’lik Jona se skuld

Die manne gooi om in die see, God stuur  ‘n grote vis  om Jona in te sluk.

 

Maar na net  drie dae spoeg die vis hom uit!   Sowaar!   Maar nou?  Wat nou?

 

Tannie: Dis pragtig, Tobias!  Maar jy is reg.  Dit is net ‘n halwe liedjie, want Jona se storie gaan nog aan.  

Tobias:Nou vertel asseblief verder, Tannie!

Tannie:Maats, Tobias, Jona is deur die storm en deur ‘n vis se maag, maar God het nog werk vir hom gehad:  “Jona, gaan na Nineve en sê vir hulle wat Ek vir jou sal sê.”   Die keer het Jona geluister.

Tobias:Wonderlik!   Tannie, wat moes Jona vir hulle sê?

Tannie:Jona het ‘n baie harde boodskap gehad.  Hy het geweet dit gaan hom drie dae vat om deur die groot stad te stap.   Op dag een begin hy  roep: “Nog net veertig dae, en Nineve word verwoes!”   Die mense het gaan stilstaan.  Hulle het geluister en, die mense het geglo wat hy sê!  Meer nog, hulle was jammer oor al hulle slegte dinge:  “Julle, ons moet rouklere aantrek, vas en huil en bid.  Ons moet vir God jammer sê!     Toe die koning hoor wat Jona sê, het hy gepraat:  “Die koning en sy raadgewers beveel:  groot en klein, mens en dier moetvas.  Almal moet rouklere aantrek.  Ons moet tot God bid.  Dalk sal Hy ons jammer kry en ons stad spaar?”  Die koning het self met sy rouklere aan op die ashoop gaan sit.

Tobias:Tannie, klink of hulle regtig  jammer was oor al hulle verkeerde dinge?

Tannie:Ja, Tobias.  Dit lyk so, want God wat binne-in ons koppe kan inkyk, het hulle jammer gekry.   En toe veertig dae om is?  Toe stuur Hy nie die straf wat Jona aangekondig het nie!

Tobias:Fantasties!   Jona se preek het gewerk!  Die mense het teruggekom na God toe!  Was Jona bly?

Tannie:Nee, Tobias, hy was kwaad!

Tobias:Wat?   Ek verstaan nie?

Tannie:Julle, Jona het vir die Here gesê: “Kyk nou net!  Nes ek gedink het voor ek gekom het!  U is ‘n genadige en liefdevolle God.  Hoe kan U hierdie spul slegte mense sommer so vergewe?  Ek wil maar liewer doodgaan.”  God het gevra:  “Jona, het jy enige rede om so kwaad te wees?”   Jona het God nie eers geantwoord nie.   Hy het dalk nog gehoop God gaan hulle wel vernietig, soos hy geprofeteer het.  Jona gaan toe en maak  hom tuis net buite die stad.  Hy het vir homself so ‘n ou skermpie-dingetjie gebou en gaan sit en kyk wat God met die stad gaan aanvang.

Tobias:En het God iets met die stad gedoen?

Tannie:Nee, Tobias.  God het iets met Jona gedoen.   God het gesien die ou skermpie van Jona is maar wankelmoedig en gee nie vreeslik baie skaduwee nie.  Toe stuur  God ‘n komkommerplant om daar by Jona op te kom.  Die plant groei toe so vinnig soos die wind en gee te heerlike skaduwee vir Jona.  O, maar Jona was opgetrek oor sy kitsboom wat so lekker koel is.  Hy sit toe te heerlik daar en kyk uit oor die stad.  Julle, dit word toe aand en dit word oggend.  Net so by dagbreek, die tyd wat dit begin lig word, praat God met ‘n wurm:  “Wurmpie, Ek wil hê jy moet daai kommerplant daar by my profeet Jona gaan eet.  Gee ‘n paar lekker happe aan sy wortels, dat die plant kan verlep.”  

Tobias:Tannie?  Doen die wurm dit toe?

Tannie:Ja, hy het begin knibbel, knibbel en die boompie het begin  verlep.   Boonop stuur God toe ‘n vreeslike warm oostewind en dit waai die boompie sommer tot niet.  Ja, en arme ou Jona kry so warm dat hy sonsteek kry.   Toe sy kop so vreeslik pyn, roep hy na God:  “Nou wil ek maar liewer doodgaan!”  Toe praat God:  “Jona, het jy rede om kwaad te wees oor die komkommerplant?”  Jona was sommer baie vies:  “Natuurlik!  Ek is besig om dood te gaan van die warm son, omdat die plant dood is!”  Toe praat God mooi met hom:  “Jona, jy is jammer vir  ‘n plant wat jy nie eers geplant of nat gegooi het nie.   Maar Ek mag nie jammer wees vir ‘n groot stad met meer as honderd en twintig duisend mense en nog hulle diere ook nie?   Jona, Ek het hulle gemaak!  Ek kry hulle jammer en vat hulle straf weg.  Hulle het teruggekom na My toe.”  En so eindig die boek van Jona.  Ons kan maar net dink wat Jona  sou antwoord.

Tobias:Tannie!  Die storie wys wie God is!   Hy is Liefde!  Hy vergewe sonde as mense terugkom na Hom toe, en Hy red mense!   Wonderlik!  Fantasties!   Tannie, ek hou van Jona se hele storie!   En ek dink  ek kan nou die liedjie klaarmaak!   

Tannie:Maats, ek is nuuskierig oor die  hele Jona liedjie!  Kom luister saam!  Ons groet dan sommer met die liedjie tot volgende keer!  Totsiens!

Tobias:Die Here het ‘n profeet gehad,  En Jona was sy naam

God stuur hom na die grote stad,  Maar hy vlug na Tarsis, wil van God weggaan.

Toe stuur God ‘n storm op die see, Duid’lik Jona se skuld

Die manne gooi om in die see, God stuur  ‘n grote vis  om Jona in te sluk.

 

Maar na net  drie dae spoeg die vis hom uit!   Sowaar!   Maar nou?  Wat nou?

Gaan nou na Nineve, sê God weer,  Hy preek  God gaan hul straf

Almal in die stad  het hul bekeer,  En God  vat weg die straf

 

Profeet Jona is nou glad vir God kwaad ,  ‘n Les moet Jona nou leer

Ons God sien mense se harte raak, En wys sy liefde as hul bekeer.

***